Pigspotter is geen held
2010-09-23 07:56
Mense se reaksie op @PigSpotter, 'n anonieme Twitter-gebruiker wat Gautengers onlangs begin inlig het oor die ligging van spoedlokvalle en padblokkades, is jammerlik.
Om die een of ander rede is almal mal oor die kêrel. Orals is boodskappe van bemoediging, kommentaar vol schadenfreude oor die metropolisie wat nou “uiteindelik lekker op hul neuse kyk” en uitroepe van verontwaardiging oor die kriminele klag teen Suid-Afrika se nuutste vigilante.
@PigSpotter het ‘n held geraak wat sommer in dieselfde asem ‘n martelaar vir vryheid van spraak gemaak is. Die algemene persepsie – as ‘n mens nuusberigte oor hom se kommentaar lees – is dat die stilmaak van sy tweets gelykstaande is aan ‘n ondermyning van vryheid van spraak, dat die metropolisie ‘n korrupte, onkabapele spul is en dat geregtigheid ten gunste van die Kollektief uiteindelik besig is om te seëvier.
Twak, seg ek. Almal wat die karakter en sy kortwiekery aanmoedig, moet ‘n paar keer met stomp voorwerpe teen die kop gevoeter word. Net sodat hul geheues herwin kan word, sien?
Skaars ‘n maand gelede was mense geskok oor die dood van nege kinders toe ‘n taxi oor ‘n treinspoor gejaag het. Die bestuurder het gedink hy kan vinnig genoeg aan die ander kant kom. Die trein het nie heeltemal saamgestem nie. Kinderbloed en skrapnel het op die spore gemeng. Almal was woedend.
Vervlakste taxi-bestuurders, het die ouers (en die publiek) uitgeroep – vervlakste taxi-bestuurders wat so jaag, wat nie die padreëls nakom nie! Verfokken vervlakste blerrie jaagduiwels! Off with their heads!
En nou – en ek sukkel eerlikwaar om dit klein te kry – is dieselfde mense wat verontwaardig was oor die kinders se grusame dood vermakerig oor die polisie se pogings om iemand wat mense in staat stel om padreëls te oortree, vas te trek.
Het ons kollektiewe geheueverlies?
Dit maak nie saak hoe onkabapel of onbevoeg metropolisielede vir die publiek voorkom nie – daar is geldige redes vir spoedbeperkings (trouens, vir die meeste Suid-Afrikaanse wette) en geen manier hoe dit goed kan wees om spoedlokvalle en padblokkades se liggings aan die publiek te verklap nie. Two wrongs don’t make a right. Die beperkings is daar vir ‘n rede. (Wenk: strafbare manslag is nie snaaks nie.)
Wanneer burgers na willekeur besluit watter wette hulle pas, is ons op ‘n gevaarlike pad.
Die eerste treetjie in die rigting van anargie is nie Molotov cocktails wat deur ruite geslinger word nie. Dis nie klippe teen gepantserde voertuie of brandende bande in afgesperde paaie nie. Die eerste treetjie in die rigting van anargie is nie ontploffings, rook wat in die lug hang, kinders wat kerm, polisiehonde, onlusskilde, dwaelkoëls en traangas nie.
Die eerste treetjies in die rigting van anargie is iemand wat oor 'n stopstraat ry, omdat niemand daar is om dit te sien nie. Dis iemand wat rommel langs die blik, eerder as in die blik gooi - wat oor die gras stap as die bordjie vra om daarvan af te bly. Dis iemand wat vinniger as die snelheidsgrens ry omdat hy weet daar is geen spoedlokvalle voor hom nie – of iemand wat ander in staat stel om vinniger te ry as wat hulle moet.
Wetteloosheid begin by gewone mense wat klein regulasies minag.
Hoekom juig mense dit dan toe?
– Johan Swarts is 'n skrywer en vervaardiger. Hy is 'n behendige fabriseerder van digitale media, lief vir filosofie en verknog aan musiek. Sy blog is te vinde by http://gormendizer.co.za, en jy kan hom hier volg op Twitter.
Stuur jou kommentaar aan Johan
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.