Oor rose, tjoklits en onheilige drek
2012-02-14 07:38
Dominees se kinders beleef soms rare goed.
In standerd 5 het die Wiskunde-onnie homself eenmaal bloedig vir my en ’n vriend vererg. As ek reg onthou, was dit 'n kombinasie van onvoltooide huiswerk en kliphard sit en praat tydens ’n les wat hom tot raserny gedryf het. Die bordkryt tussen sy vingers het midde in sy sin gestop; hy het stadig na ons gedraai, ons so te sê doodgekyk en sardonies gesê:
"Jou pa is 'n dominee...en jou pa is 'n advokaat...maar julle al twee #@$% net aan!"
Ek dink ek het begin lag.
(My vriend se pa was die advokaat.)
Om 'n dominee se kind te wees, is maar 'n vreemde ervaring. Die gemeente plaas jou van kleins af so 'n bietjie op 'n troontjie (dikwels maar om witvoetjie te soek), maar is terselftertyd vinnig om jou aan die hand van rigiede morele riglyne vir die kleinste dingetjies te veroordeel. Predikantskinders durf nie poep of kroek in aan-aan nie. Hulle pa’s is leraars.
As predikantskind kan ek dus nie anders as om te simpatiseer met Dr. Ben du Toit (kommunikasiedirekteur van die NG Kerk) en die potsierlike storm wat onlangs rondom hom, sy familie en spesifiek sy dogter se koppe losgebars het nie. (Dis nou as vyftigjare laerskoolkinders wat jou na skool by die fietshokke wil beetkry hoegenaamd tel as 'n storm.)
Du Toit se dogter is naamlik Anri du Toit, beter bekend as Yo-Landi Vi$$er van Die Antwoord. Rapport het hierdie brokkie nuus iewers uitgesnuffel en dit nuuswaardig genoeg geag om dit te publiseer en nou is al wat 'n kerkmens is besig om skote na die Du Toits se menswaardigheid te skiet.
Persoonlik sukkel ek nog steeds om in te sien hoekom hierdie brokkie skindernuus so nuuswaardig is, maar ek is waarskynlik nie deel van Rapport se teikenmark wat duidelik so dink nie. Koerantmanne sal my soort teenkanting in elk geval vinnig afskiet. Dat die Yo-Landi Vi$$er-persona aan 'n hooggeplaaste kerkamptenaar gekoppel is, sal hulle waarskynlik redeneer, is groot nuus vir hul teikenmark.
Dis seker te verstane dat die Du Toits nou in die nuus is, maar dis op geen manier prysenswaardig nie. Die blote feit dat so iets hoegenaamd nuus kan wees in 2012, is ietwat van ’n verleentheid. Reaksies op die berig vertel die hartseer verhaal van koerantlesers en kerkgangers met 'n kliniese onvermoë om nuwe idees te oorweeg. Hulle laat 'n mens onwillekeurig aan Richard Dawkins se beskrywing van God in The God Delusion dink:
"[He is] a vindictive bloodthirsty ethnic cleanser, a misogynistic, homophobic racist, an infanticidal, genocidal, phillicidal, pestilential, megalomaniacal, sadomasochistic, capriciously malevolent bully."
As die kommentaar onderaan Rapport se beriggie enigiets is om op te gaan, is God se volgelinge maar bra baie soos wat hy vir Dawkins lyk. (Een erudiete kommentator het Du Toit tot 'n "stuk drek" genoem.)
'n Mens kan natuurlik die argument maak dat die einste instansie waarvoor Du Toit werk verantwoordelik is vir die soort mense wat hom nou met 'n stortvloed woorde probeer vermoor, maar dis 'n storie vir 'n ander dag. En vandag is Valentynsdag.
So hier's ’n idee: moenie veroordeel nie.
Los die Du Toits bloot uit, al is dit net vir 'n dag. Moenie oor hulle skinder nie. Vergeet dat DJ Hi-Tek jou wil vuilvat in die nedergedeeltes en onthou eerder dat mense in Christus almal verdien om liefgehê te word. Koop vir jouself 'n roos, vreet 'n tjoklit en dink vir 'n hele dag net aan Jan de Wet en die loflaaities. Ben du Toit het jou niks gemaak nie – Die Antwoord ook nie. Jy't dus niks met hom te make nie, behalwe as jy sy bank, sy belastinggaarder of sy God is.
Né?
Pffft.
Who am I kidding. Jy is almagtig en vlekkeloos en die kommentaarboksie is net hier onder. Let'er rip. Begin by Ben, beweeg aan na sy dogter en haar gesin. Onthou tog net die sakrale volgorde: eers die hoof van die huis, dan sy ondergeskiktes. While you're at it, sit sommer 'n woordjie vir my en my vader ook in. Onthou: ons is almal onheilige stukke drek wat verdien om te sterf en die alleenlike rede hoekom die kerk leegloop. Ons moes volmaak gewees het, maar ons almal #@$% net aan.
'n Plaag op ons huise, 'n plaag op ons families, 'n plaag op almal met wie ons ooit rondom die pannekoektafel by die basaar gekuier het.
Die hel met ons. Die liefde van Jesus is wonderbaar.
– Johan Swarts is 'n skrywer en vervaardiger. Sy blog is te vinde by http://gormendizer.co.za, en jy kan hom hier volg op Twitter.
Stuur jou kommentaar aan Johan
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.