Oor nuwe waarhede en stokou leuens
2013-03-04 07:33
Elke dag op pad werk toe ry ek verby 'n advertensiebord waarop die woorde: "Colonial Antiques and Persian Carpets" pryk.
Dit is hoogs onwaarskynlik dat hierdie woorde akkuraat is. Die matte sou seker werklik van Iran af kon kom, maar die sogenaamde koloniale antieke kan nóg koloniaal nóg antiek wees.
Daar is uiteraard 'n eindige hoeveelheid items uit Suid-Afrika se koloniale tydperk oor. Baie van hulle is lank reeds tot niet en die tydperk self is verby. Om iets koloniaal of antiek te wil vervaardig in 2013 is 'n heeltemal onsinnige idee, en tog is dit al wat hierdie advertensiebord langs die pad bestaansreg kan gee.
Geen volhoubare besigheid wat die begroting het om hul produkte te adverteer, kan 'n eindige hoeveelheid items uit 'n vergange tydperk perpetueel verkoop nie. Tensy ons hier te doen het met 'n versamelaar wat baie lank neem om sy of haar cache antieke te verkwansel (of tydsreise suksesvol kan onderneem), is die advertensie 'n versinsel.
Sulke versinsels is natuurlik alledaags. Politici, beeldpoetsers en veral die reklamebedryf het die beskrywing van situasies en produkte met halwe waarhede lank reeds tot 'n kuns vervolmaak. Ons lewe lankal reeds in en vir hierdie leuens – hulle het ons nuwe waarhede geraak.
Ons koop karre naamlik nie net om van punt A na punt B te kry nie, maar ook om ons kwynende geslagsorgane te verleng. Spoggerige selfone koop ons nie slegs om mense te bel nie, maar om te verseker dat ons uniek en hups is. Sjampoes en velsorgprodukte maak ons nie net skoon nie, dit maak ons jonger en mooier.
Sulke dinge glo ons, omdat omhulsels, skerms en borde ons so voorsê.
Wanneer dit dan onthul word dat deftige restaurante lieg oor die seekos wat hul bedien, dat 68% van alle maalvleis, frikadelle, wors en gedroogde vleis bestanddele bevat wat nie op die verpakking aangedui word nie, of dat wildsbiltong nie verteenwoordigend is van die etikette wat dit beskryf nie, is mense onthuts.
Min sien die ironie raak dat hulle in hul omgekraptheid steeds piekfyn daaroor voel om die swetterjoel leuens, oordrywings en plasebos wat daagliks uit alle oorde aan hul afgesmeer word, te vertrou en aan te skaf nie.
Derhalwe tou ons steeds alte graag om die nuutste iPhone te kry en werk ons ons vingers nerfaf om 'n peperduur kar te kan bekostig – en glo dan ons is sommer ultrahups en superlanie. Ons koop steeds verjongingskure en sjampoes wat onder die voorwendsel van die allervindingrykste wetenskaplike navorsing verkoop word en glo ons is jonger en mooier. En ons besoek chiropraktisyne en sluk homeopatiese middele en koop Power Balance-bandjies, koperarmbande en donkerbrille dat die biesies bewe.
En wie kan ons dan nou eintlik blameer? Die etikette sê dis waar en daar is kinetiese grafieke en ingewikkelde woorde wat ons nie verstaan nie op die skerms. Hoekom sal hulle vir ons jok?
Wat my by die uiteindelike punt van hierdie relaas bring.
Min mense weet dit, maar ek dryf handel in antieke Romeinse kruike. Die kruike (ek sit so 1 337 per maand van die hand) is elk persoonlik deur Julius Caesar as koos gebruik en sal jou gesofistikeerd en erudiet maak. Dit bring goeie karma en kom elk saam met 'n kilogram 100% suiwer maalvleis.
Ek woon in Gauteng en my nommer is +07 420 1205. Jy kan my vertrou, want hierdie paragraaf sê so.
Bel my.
– Johan Swarts is 'n skrywer en vervaardiger. Sy blog is te vinde by http://gormendizer.co.za, en jy kan hom hier volg op Twitter.
Stuur jou kommentaar aan Johan
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.