Onder trek die duiwel rond
2010-05-14 08:08
Kowie Maritz is hel toe.
Sy's ook hemel toe.
By haar terugkoms het sy 'n boek (sonder prentjies) oor haar wedervaringe in die hel geskryf. Dit bevat gedetailleerde beskrywings oor hoe die duiwel op sy troon sit, hoe daar vlermuisagtige gedaantes in sy raadsaal woon en hy gereeld koukus met vreesaanjaande gedrogte wat lyk soos kruisings tussen krokodille, seekoeie en dinosourusse (waarskynlik Velociraptors. Velociraptors is cool.)
In hierdie hel, skryf Maritz, is daar verskeie “vuurpoele vol pruttende lawa en mense wat deur bose engele getreiter word”.
As 'n mens so tussen die lyne lees, ontdek jy ‘n aardskuddende boodskap in Maritz se boek – ‘n boodskap wat iets aan die mensdom openbaar wat niemand tot op hede bevoorreg genoeg was om te weet nie.
Die duiwel hou van rondtrek.
Min mense besef dit, maar die vorige keer wat ons amptelik iets oor neef Lusifer se tuiste te lese gekry het, kwalik vier jaar gelede, het hy elders gewoon. Dit was in Choo Thomas se gesaghebbende Heaven is so real! (circa 2006), waarin sy die hel anders as Maritz beskryf het.
Thomas het nie 'n uitgebreide labirint met raadsale, troonkamers en afgesonderde vuurpoele gesien nie, maar 'n nederige, rokende krater in 'n kolos van 'n berg.
Aldus Thomas (45):
When we reached the summit and I looked over the crest of the mountain, I could see fumes and dark smoke rising from a deep pit...The people were naked, without hair, and standing close to one another, moving like worms, and the flames were scorching their bodies.
Wanneer 'n mens Thomas se indruk van die hel met Maritz s'n vergelyk, is dit duidelik dat die duiwel tydens 'n lucidum intervallum (waarskynlik oor teetyd) uitgeroep het: “Genoeg is genoeg! Ek kan nie meer in 'n vlammende krater woon nie!” – en terstond verhuis het.
Uit die aard van die saak het hy toe goedgunstelik sy krater, waarin sy miljoene verdoemde siele nie eers plek gehad het om behoorlik regop te staan nie, verruil vir 'n luukse spa, waar verdoemdes en ketters in ruim, gemaklike isolasie gemartel kon word.
Dit is egter nie die eerste keer wat Satan verhuis het nie. In 1993 merk die mistikus Mary K Baxter die volgende op oor haar eie wegraping na die hel (in die portuurgeëvalueerde A Divine Revelation of Hell):
At that, we began to go even higher into the sky, and now I could see the earth below. Protruding out of the earth and scattered about in many places were funnels spinning around to a center point…
…Immediately, we entered one of the funnels. Inside, it looked like a tunnel, spinning around and around and back again like a top.
A deep darkness descended on us, and with the darkness came a smell so horrible it took my breath away. Along the sides of this tunnel were living forms embedded in the walls. Dark gray in color, the forms moved and cried out to us as we passed. I knew without being told that they were evil.
Danksy Baxter weet ons dat die neef Lusifer 'n veel nederiger lewe gelei het in die 1990’s. (Enigiemand wat sy huis deur een van 'n swetterjoel tonnels met swetsende mure ver bo die aardoppervlak moet betree, leef nederig.)
Dit is geen wonder dat hy later na die krater verhuis het nie – om in 'n onderaardse huis met duisende bewegende ingange te woon, kan nie lekker wees nie.
Dit is egter ook geen verassing dat hy skaars 'n paar jaar later sy krater vir 'n labirint met raadsale, 'n troon en vreemde kreature verruil het nie.
Seekoeivormige Velociraptors se geselskap was nog nooit te versmaai nie.
Waarheen die duiwel volgende trek, weet niemand nie.
Wat egter duidelik is uit die baanbrekerswerk wat individue soos Maritz, Thomas en Baxter vir ons gedoen het, is dat hy vorentoe beweeg in die lewe, dikwels trek en 'n voorliefde vir luukse wonings koester.
Wanneer 'n volgende visionêr weer uit die bloute 'n openbaring oor hemel en hel in haar kombuis ontvang, sal hy waarskynlik reeds in Sandton woon – hopelik steeds saam met Velociraptors.
Velociraptors is cool.
– Johan Swarts is 'n skrywer, vervaardiger en sosiale mediakenner. Hy is 'n behendige fabriseerder van digitale media, lief vir filosofie en verknog aan musiek. Sy blog is te vinde by http://gormendizer.co.za.
Stuur jou kommentaar aan Johan
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.