Om ekstaties aan droë brood te knibbel
2012-01-10 07:39
Op 8 Augustus 1938, aan die voet van Jan van Riebeeck se standbeeld in Kaapstad, het 'n spektakel begin.
'n Klein skare het saamgedrom rondom nege ossewaens. Uitgevatte mans en vrouens het Die Stem en FAK-liedjies uit volle bors gesing. Kort daarna het die waens onder luide toejuiging hul reise na twee eindbestemmings aangedurf: een na Natal, na die terrein van die Slag van Bloedrivier, en een na 'n kaal Monumentkoppie in Pretoria.
'n Opgewondenheid het dwarsoor die land onder Afrikaners geheers. Die ritueel van die waens wat simbolies die roetes van die Voortrekkers gevolg het, was vir hulle 'n spesiale affêre. Mans het spesiaal lang baarde gegroei soos die boere van ouds; vroue het voortrekkerkappies gedra. Soos die waens deur stede en dorpe beweeg het, het toeskouers ekstaties geraak. Straat na straat is na voortrekkerhelde herbenoem. Baba's is gedoop in die skadu van die waens; jong paartjies is daar getrou in volle voortrekkerdrag. Om selfs net hulle sakdoek in een van die waens se as-ghries te kon doop, was vir party 'n verskriklik emosionele geleentheid.
Die trauma van die Anglo-Boereoorlog van skaars vier dekades terug was nog vars in baie mense se gemoedere. Hulle moraal was laag. Hul leiers het iets nodig gehad om hulle saam te snoer in die aangesig van ’n geïndustrialiseerde samelewing waarin baie van hulle op die onderste sport was. Die eeufees was die perfekte geleentheid.
Van dorp tot dorp het die waens getrek (die een klomp toeskouers so koorsagtig soos die volgende) tot die prosessie uiteindelik op 16 Desember 1938 by die Voortrekkermonument se toekomstige terrein tot stilstand gekom het. Daar het die optog gekulmineer in 'n indrukwekkende saamtrek van bykans 100 000 mense, waartydens die Voortrekkers se geskiedenis as roemryk en edel voorgehou is.
Afrikaners is ingetrek in 'n sleurstroom van mite en ritueel – een waaruit die Nasionale Party behoorlik munt geslaan het. Hulle het die trekkers se doen en late verhef tot heilige heldedade, die stories van die Groot Trek en die Slag van Bloedrivier aangedik en die geskiedenis verdraai in 'n poging om hul volk saam te snoer. Die res van die land het waarskynlik gedink hulle is mal, maar tien jaar later het hul nasionalistiese arbeid vrugte afgewerp en kon hulle vir dekades daarna oor Suid-Afrika regeer.
Fast forward, soos die Angel-Sakse seg, na 2012.
Dieselfde soort ritueel het homself weer die afgelope naweek in Suid-Afrika afgespeel. Hierdie keer was dit die ANC se beurt om die gepeupel mee te sleur met 'n skouspelagtige feesprogram waartydens ’n amper godsdienstige narratief oor hulself verkondig is. Een naweek van helde, nostalgie, 'n verromantiseerde weergawe van die geskiedenis en 'n groot konsert later en bykans die hele land sit weer aan hulle voete.
Daar is natuurlik diegene wat dink dat dit malligheid was – dat dit tydmors en veral geldmors was om sulke kulturele masturbasie aan die volk voor te hou. Hulle besef egter nie dat die trauma van apartheid nog te vars in baie Suid-Afrikaners se geheues is nie, nes die trauma van die groot oorlog wat in sommige Afrikaners se psiges vasgebrand was tydens die eeufeesvieringe van 1938.
Soos in 1938 is die gepeupel in ekstase omdat hulle nodig het om te ontsnap van ’n soms ondraaglike werklikheid. Hulle het uiteindelik weer hul brood en sirkusse gekry en smul nou heerlik aan die storie wat die ANC vir hulle opgedis het: ’n vlekkelose narratief vol heldedade. Nes dié van die Voortrekkers. Intussen gaan die plundering van die staatskaste onder die huidige bedeling voort nes dit in die ou bedeling gebeur het. Daar is steeds broederbondelike baantjies vir boeties (dit het nou bloot ’n ander naam), kaders kry steeds hul tenders en groot maatskappye sing die deuntjie van wie ook al in beheer is.
Die land gaan nog lank die ANC se deuntjie sing, nes Afrikaners teen alle goeie verstand vir heeltemal te lank na die NP se pype bly dans het. Terwyl almal dink hulle maak hul eie keuses, kies vir hul eie beswil en leef in 'n land waar die regerende party omgee vir hul kiesers, bly die feit vandag net so stewig soos in 1938 soos ’n paal bo water staan: niemand in beheer gee regtig om vir enigiemand anders as hulself nie.
’n Emosionele stem is ’n verspilde stem. Almal verloor wanneer ritualistiese nasionalisme ingespan word. Niemand kom dit egter agter nie, want hulle is te besig om ekstaties aan hulle droë brood te knibbel.
Dalk moet ons net ’n klomp colosseums bou en klaarkry.
– Johan Swarts is 'n skrywer en vervaardiger. Sy blog is te vinde by http://gormendizer.co.za, en jy kan hom hier volg op Twitter.
Stuur jou kommentaar aan Johan
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.