Nuwe iPhone kan teleurstel
2010-05-20 08:06
Die nuwe iPhone loop die risiko om een van Apple se mees oorskatte toestelle tot op hede te wees.
Gereelde lesers van my blog sal weet dat ek nie veel ooghare vir Apple het nie – iets wat stam uit hul korporatiewe geheimhouding, disproporsionele lof vir hul eie produkte en amper Orwelliaanse kommunikasie met joernaliste. Hul produkte is meerendeels gemiddeld eerder as ongelooflik en is daar jaar na jaar derduisende aanhangers wat letterlik voor winkels kampeer om nuwe produkte te bekom. Daar’s min dinge so irriterend soos mense wat sub-par werk teen buitensporige pryse lewer. Apple doen dit gereeld.
Persoonlike irritasies tersyde moet 'n mens egter erken dat Apple tussendeur die middelmatigheid ook met epogmakende idees vorendag kom. 'n Goeie voorbeeld hiervan is die iPhone, wat die selfoonmark in 2007 as't ware getransformeer en hele nuwe industrieë help skep het. (Ofskoon, so lui Apple-mitologie in die volksmond. 'n Onlangse string hofsake tussen HTC en Apple sê anders.)
Die eerste iPhone het mense se idees oor smartphones radikaal verander. Vandag pluk ons die vrugte daarvan, met 'n rits selfone op die mark wat amper uitsluitlik uit 'n elegante raakskerm bestaan (verby is die dae van soveel as moontlik knoppies op een selfoon probeer inprop ten einde meer funksionaliteit in te voeg) en 'n groeiende ekosisteem selfoon-applikasies wat mense se dagtake vergemaklik.
Wanneer die nuutste iterasie van die toestel, die iPhone 4G, binnekort bekendgestel word, het dit egter 'n veel groter uitdaging as in 2007. Toe was die iPhone enig in sy soort en kon Apple met reg aanspraak maak op die status van innoveerder.
Intussen het die selfoonmark Apple ingehaal. Alles wat die iPhone onderskei het van sy kompetisie, is vandag so te sê standaard. GPS? Check. Versnellingsmeter? Check. Raakskerm? Check. Genoegsame stoorspasie? Check. Diverse mediaspeelvermoëns? Check. Uitmuntende bedryfstelsel? Check (in die vorm van die immerontwikkelende Android en die opkomende Windows Phone 7). Nie een van die eienskappe wat die iPhone destyds 'n voorsprong gegee het, is meer uniek aan die toestel nie.
Boonop is Apple “stadig”. Die iPhone world elke jaar opgedateer, terwyl 'n maatskappy soos HTC elegante raakskermselfone – wat die iPhone soos 'n baksteen laat lyk – teen 'n skrikwekkende pas vervaardig en elke paar maande nuwe modelle uitbring (en rekordverkope beleef).
Steve Jobs kan nie in Junie voor 'n gehoor vol joernaliste op 'n verhoog stap, die iPhone 4G uit sy sak ruk en verwag almal moet “ooh” en “aah” asof Apple die wiel herontwerp het nie. Daarvoor het die wêreld heeltemal te veel verander. Daar sal iets baie besonders aan die toestel moet wees vir die maatskappy se reklame om hulle nié belaglik te laat lyk nie.
– Johan Swarts is 'n skrywer, vervaardiger en sosiale mediakenner. Hy is 'n behendige fabriseerder van digitale media, lief vir filosofie en verknog aan musiek. Sy blog is te vinde by http://gormendizer.co.za, en jy kan hom hier volg op Twitter.
Stuur jou kommentaar aan Johan
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.