Medaljes goed en wel, maar...
2012-07-31 08:22
Toe Cameron van der Burgh eergister 'n goue medalje vir Suid-Afrika ingeoes het in 'n rekordtyd van 58.46 sekondes, het niemand gewonder hoe dit gemeet is nie.
Niemand het gewonder hoe sy tyd onderskei is van die Australiër Christian Sprenger se 58.93 sekondes nie. Niemand het gewonder watter ingenieurs die toestel ontwerp en die sagteware daarvoor geskryf het nie. Trouens, niemand het gewonder hoe die swembad, die honderde kameras en mikrofone wat dit vasgevang het, die pawiljoene, die ligte of selfs die swempet op Van der Burgh se kop ontwerp, gebou of vervaardig is nie.
Almal was wel oorstelp oor 'n man wat vinnig kan swem.
Die prestasie, moet 'n mens dadelik byvoeg, is welverdiend. Sportprestasies, anders as wat sommige dalk mag dink, is prysenswaardig op dieselfde manier as wat die meeste kulturele prestasies prysenswaardig is. Of dit nou borsslae, afslae, kwashale of snaarslae is – dis dieselfde ledemate, dieselfde basiese motoriese vaardighede, dieselfde spreekwoordelike sweet en bloed wat vergiet moet word om waarlik merkwaardig in jou betrokke dissipline te wees.
Iets oor die huidige blydskap kwel egter: dis nie regtig 'n nuwe verskynsel nie. Dis trouens 'n baie bekende patroon in Suid-Afrika: wanneer ons sporthelde oorwinnings behaal, gaan ons onsself te buite van blydskap, raak ons tatiegesyp en buitel ons luidrugtig met vlae in die strate rond. Ons aanbid hulle.
Which is all fine and dandy. Ek dink nie daar is iets verkeerd met iemand wat vinnig swem of mense wat daarvan hou om te kyk hoe ander mense vinnig swem nie. Whatever floats their boats. Ek dink wel Suid-Afrika se obsessie met sport gee Suid-Afrikaners nie juis gronde om te kla oor die huidige kundigheid- en vaardigheidstekorte wat die land beleef nie.
Ek meen, hier sit ons met 'n spul kinders wat nie behoorlik kan lees en skryf nie (wat nog te sê sporttoerusting se handleidings baasraak) en 'n departement van onderwys wat so pateties onkapabel is dat hulle duisende handboeke "verloor", en steeds is ons eerste gedagte by die wen van ons eerste olimpiese medalje vir 2012 nie: "gits... dis heel oulik en so, maar dalk moet ons eerder meer ingenieurs probeer oplei" nie.
Dis bloot: "WHOOOOOOOOOOOOOOOOOOOOOOOO!"
Die gevolg van so 'n kultuur is dat dít Suid-Afrika - en dus ons kinders - se hoogste ideaal is: om 'n sportster te wees. Wat seker steeds all fine and dandy is, maar met 'n korps wiskundiges en wetenskaplikes, toegewyde onderwysers, entrepreneurs en eerbare leiers wat smeek om uitgebrei te word, is dit dalk iets wat ons moet heroorweeg.
Dit is immers nié ons wat bekend is vir die ontwerp van sensitiewe en ingewikkelde elektronika nie. Ons is ook nie regtig wêreldleiers op soveel gebiede wat saakmaak in 'n kennisekonomie as wat ons kan wees nie (hoewel daar noemenswaardige uitsonderinge is) en ons is die planeet nie juis een voor met die vervaardiging van die verruklike toestelletjies wat uit hierdie ekonomie voortspruit nie.
'n Mens sou weereens kon redeneer dat ook dit nie die einde van die wêreld is nie en dat ons ander sterkpunte soos rugbyspanne, die Kreepy Krauly en Pratley Putty het, maar dan moet 'n mens jouself seker ook afvra of ons dan werklik die reg het om oor ons huidige tekortkominge te kla.
Voor ons onsself nie gaan oorreed om naas respek vir motoriese finesse ook agting vir verstandelike vernuf te koester nie, gaan ons waarskynlik aanhou sukkel soos wat ons tans sukkel. Ons gaan waarskynlik ook aanhou om 'n groot aantal sportsterre te kweek. Waarmee daar seker nie iets fout is nie: dit staan 'n land vry om haar prioriteite te kies. Maar dan moet ons nie verbaas wees as dit jong Suid-Afrikanertjies se enigste ideaal raak om baie vinnig van die een kant van 'n swembad na die ander kant met hul arms te roei en ons nie hul drome kan akkomodeer nie.
Waar moet hulle in elk geval almal swem? In die bad?
– Johan Swarts is 'n skrywer en vervaardiger. Sy blog is te vinde by http://gormendizer.co.za, en jy kan hom hier volg op Twitter.
Stuur jou kommentaar aan Johan
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.