Luister ons nie te min nie?
2011-10-04 07:23
Was Eugene Terre’blanche ’n slegte mens?
Verskillende mense sal verskillende antwoorde op hierdie vraag verskaf. Sy vrou en familie sal waarskynlik aanvoer wat op sy begrafnis aangevoer is: dat hy ’n goeie, sagmoedige man was. Sy AWB-makkers sal dalk aanvoer dat hy ’n groot leier was wat die edele stryd om selfbeskikking vir die boerenasie gestry het. Van die meer liberale Afrikaners mag dalk aanvoer dat hy ’n verleentheid vir die Afrikaner is. Sommige wys miskien daarop dat hy tot inkeer in die tronk gekom het.
Diegene wat hy aangerand het, verafsku hom dalk tot vandag toe. Hul families dink dalk hy is ’n gewelddadige rassis. Diegene wat hy volgens berigte nie vir hul arbeid vergoed het nie, dink dalk hy is ’n leuenaar en ’n bedrieër. Suid-Afrikaners wat onder die juk van apartheid groot geraak het, vereenselwig hom en die ideologie wat hy nagestreef het waarskynlik steeds met verdrukking en verkrompenheid. Vir hulle was hy dalk die beliggaming van die lae ekonomiese plafon wat vir dekades met geweld op hulle afgedwing was.
Wie sal reg wees?
Sy vriende en familie? Hulle het hom geken soos niemand anders nie. Sy kritici uit eie geledere? Hulle kon raaksien wat confirmation bias vir sy vriende en familie weggesteek het. Sy vyande? Hulle het dinge beleef wat sowel sy geliefdes as sy kritici nooit regtig sal verstaan nie.
Na wie luister ’n mens? Hoe bepaal ’n mens na wie om te luister? Wie besluit watter stories oor watter mense vertel word? Politici? Joernaliste? Geskiedenisskrywers? Onderwysers? Imams? Predikante? Hoekom moet ons na hulle luister? Hoekom moet ons nie na hulle luister nie? Moet ’n mens na slegs een persoon op ’n slag luister?
Is dit sinvol om iemand te takseer bloot op grond van jou eie ervarings?
Wanneer raak dit regverdig om mense te klassifiseer suiwer op grond van die slegte dinge wat hulle gedoen het? Was Hitler ’n slegte mens? Was Verwoerd ’n slegte mens? Is die taxi-bestuurder wat voor ’n aankomende trein ingejaag en kinders op slag laat sterf het ’n slegte mens? Die inbreker hoog op tik, die baas wat jy verafsku, die seuntjie wat jou kind afknou by die skool – is hulle sleg?
Is Nelson Mandela ’n goeie mens?
Is Julius Malema ’n slegte mens?
Is die Dalai Lama heilig?
Is dit moontlik om regverdig te wees? Is dit regverdig om mekaar te etiketteer? Om te dink ons verstaan mekaar? Om mekaar te wil voorskryf? Mekaar af te skryf? Mekaar te veroordeel?
Praat ons nie altemit te veel nie?
Luister ons nie altemit te min nie?
– Johan Swarts is 'n skrywer en vervaardiger. Sy blog is te vinde by http://gormendizer.co.za, en jy kan hom hier volg op Twitter.
Stuur jou kommentaar aan Johan
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.