Luister maar weer...
2010-10-01 08:10
Oor Christene het iemand eenmaal veralgemeen:
To most Christians, the Bible is like a software license. Nobody actually reads it. They just scroll to the bottom and click "I agree."
Dis ‘n baie onregverdige stelling, maar dis een waarvoor ‘n mens nie anders kan as om te glimlag nie. ‘n Sweempie waarheid kruip immers daarin weg.
'n Onlangse steekproef deur die Pew Research Center het aangetoon dat Amerikaanse ateïste en agnostici meer van godsdiens af weet as godsdienstiges self. Al het godsdienstiges dikwels die meeste van hul eie betrokke godsdiens geweet, het selfs hulle gesukkel met sommige basiese vrae daaroor. Meer as 'n helfte van die Protestante wat aan die studie deelgeneem het, het byvoorbeeld nie geweet wie Martin Luther was nie, terwyl 45% van alle ondervraagte Katolieke nie bewus was van die doktrine van transsubstansiasie nie.
Die studie is in die Verenigde State van stapel gestuur, wat dit natuurlik nie noodwendig verteenwoordigend van Suid-Afrikaners maak nie. Tog: ná die afgelope twee weke dink ‘n mens in hierdie verband onwillekeurig aan die onlangse storm in 'n teekoppie oor Jack Parow, Juanita du Plessis en Huisgenoot Skouspel.
Volgens berigte het Du Plessis ‘n tweeledige beswaar teen Parow se teenwoordigheid by Skouspel gehad: hy vloek te veel en hy’s godslasterlik. Vervolgens is die organiseerders van Skouspel tydens ‘n informele gesprek ingelig dat Du Plessis ongemaklik voel om saam met Parow op te tree, aangesien sy taalgebruik nie sal strook met ‘n lied soos die Onse Vader nie.
Dis 'n feit soos 'n koei dat Parow vloek soos ‘n matroos. Ek vermoed dis ook nie juis iets wat hy sal probeer ontken nie. Wat egter fassinerend is, is dat daar ook sterk beswaar aangeteken is oor sy teenwoordigheid by Skouspel op grond van godslastering in sy lirieke. Du Plessis en haar aanhangers het dit skynbaar almal in hul koppe gekry dat dit vrot van die heiligskennis is. (Lees byvoorbeeld die kommentaar by Rapport se oorspronklike berig daaroor en kyk hoeveel keer word godslastering opgehaal.)
Wat dit so fassinerend maak, is natuurlik dat Jack Parrow op 'n vollengde album van 13 snitte, 'n nie-amptelike kortspeler en verskeie los snitte nie een keer laster nie. Jy sou dit tegnies van die openingsnit van sy vollengte album ("Ek wens jy was myne"), waar die woord “jissis” een keer voorkom, kon sê – hoewel die gebruik daarvan nie soveel laster as 'n blote stopwoord is nie. (Ek twyfel in elk geval of hy spesifiek bedoel het om God se naam te gebruik.) Selfs al tel jy daardie een keer as laster, is dit kwalik rede genoeg om te veralgemeen en te sê dat Parow godslasterlik is. Minder as 1 sekonde se klank in meer as ‘n uur se musiek kan tog nie daarvoor kwalifiseer nie.
Soos Du Plessis se aanhangers tekere gegaan het, sou 'n mens sweer Parow pomp 'n oneerbiedige "God", "Jesus", "Moeder Maria" en "Steve Jobs" by elke twee kletsrympie in. En tog: wanneer 'n mens die moeite doen om die album te koop, die musiek te luister en die lirieke te lees, kom 'n mens agter dis glad nie geval nie. Inteendeel. (In een van die liedjies – “I Miss” – kletsrym hy selfs oor hoe hy VCSV-kamp mis!
Presies dieselfde het destyds gebeur met Fokofpolisiekar, nadat Wynand Myburgh (baskitaarspeler) "Fok God" op Bobby van Jaarsveld se beursie geskryf het. Die uitlating – natuurlik op sigself godslasterlik – het presies dieselfde tot gevolg gehad as Du Plessis-hulle se klagtes oor Parow: al wat ‘n sedebewaker is, was skielik oortuig Fokofpolisiekar pleeg elke aand godslastering op die verhoog. (Ek herinner my aan 'n predikant van Oudtshoorn met wie ek gepraat het wat hoog en laag gesweer het: hy het hul hele album geluister – en dis vrot van die laster!) Die teendeel, soos enige ywerige Fokofpolisier-aanhanger jou sal vertel, is dat daar bloedweinig godslastering in Fokofpolisiekar se albums te vinde is.
Juanita du Plessis, haar bestuurspan en al die (so neem ek aan) Christene wat God se naam die afgelope twee weke verdedig het, het duidelik nie die moeite gedoen om na te gaan of Parow se lirieke werklik lasterlik is nie. Soos ‘n stoomroller het hulle hom meedoënloos afgekraak, uitgekryt, weggestoot – op grond van leuens en onkunde.
Wat moet ‘n mens hieruit aflei?
– Johan Swarts is 'n skrywer, vervaardiger en sosiale mediakenner. Hy is 'n behendige fabriseerder van digitale media, lief vir filosofie en verknog aan musiek. Sy blog is te vinde by http://gormendizer.co.za, en jy kan hom hier volg op Twitter.
Stuur jou kommentaar aan Johan
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.