Leer Sotho... vir volk en vaderland!
2012-01-04 07:00
Lingua francas stel sprekers van uiteenlopende taalgemeenskappe in staat om met mekaar te kommunikeer. Die term was oorspronklik die naam van 'n gemengde taal wat in die ooste van die Medittereense gebied gebruik is as handels- en diplomatieke taal. Lingua Franca se woordeskat het hoofsaaklik uit Italiaans bestaan en woorde ontleen aan Turks, Frans, Grieks, Arabies, Portugees en Spaans. (Dit staan in Wikipedia, so dis als waar.)
Suid-Afrika se lingua franca is ongetwyfeld Engels. Dié taal is egter besig om teen 'n verbysterende tempo ook verskillende groepe se vernakulêr te raak. 'n Mens sien dikwels swart, bruin en wit kindertjies in winkelsentrums met Afrikaanse en Afrikataalsprekende ouers wat veel gemakliker in Engels as in hul ouers se taal kommunikeer.
Dis natuurlik hulle en hul ouers se goeie reg (hoewel dit op die lange duur nadelig vir almal is) en anders as wat baie mense voorgee, is daar ook nie enigiets fout met Engels nie. Vir diegene van ons wat egter die land se inheemse moedertale wil sien voortleef, is dit potensieel slegte nuus.
Afrikaanssprekendes ken hierdie penarie maar te goed – vir meer as 'n eeu al is hulle besig om paranoïes: "Engels! Engels! Alles Engels!" te skree. (In 'n groot mate kan hulle dit ook met reg doen, hoewel die eensydige manier waarop hulle slegs vir hul eie taal voorbrand maak hulle maar min gesag in die oë van die res van die land gee.) Anders as tydens Somerset se bewind het die Rooitaal se huidige "infiltrasie" egter weinig met een of ander uitheemse agenda te make.
Dis nie "die ANC" se "slinkse plan" (backed by invisible British imperialism and Thabo’s pipe!) om Afrikaans en Afrikaanssprekendes die see in te dryf nie. Dis ook nie Naspes (sic), hul dilettante rubriekskrywers en daai vervlakste liberaliste wat dit durf waag om grappies oor heilge oom Verwoerd agter sy ontbinde rug te skryf nie.
Soos Occam dikteer is die antwoord wat die naaste aan die waarheid kom eerder die eenvoudigste een: Suid-Afrikaners praat Engels omdat dit vir hulle funksioneel is.
Die meeste van ons gebruik dit instinktief wanneer ons die geringste vermoede het dat gespreksgenote nie ons moedertaal verstaan nie. Selfs die gehardste taalbulle (wat dit ook al veronderstel is om te beteken) sal hul mooiste Engels uitpluk sodra hulle by petrolpompe of sake-onderhandelings agterkom dat dit al manier is om hul sake spoedig en effektief af te handel.
Sê nou hulle kon egter hierdie gesprekke vlot in Xhosa of Sotho voer? Sê nou hulle kon die hele gesprek vlot in Afrikaans voer? Sê nou die Afrikaanssprekendes kon vlot Zoeloe praat en die Zoeloesprekendes vlot Afrikaans?
Hoe anders sal dinge nie vir die inheemse Suid-Afrikaanse tale wees as dit slegs nodig is om Engels met Engelssprekendes te praat nie?
Die skuld vir die agteruitgaan van Afrikaans, Nguni en Sotho is niemand anders as Afrikaans-, Nguni- en Sothosprekendes s’n nie. So lank as wat ons slegs Engels naas ons moedertale leer praat, so lank sal ons moedertale in gedrang bly. So gou as wat ons derde en vierde tale kan aanleer en met mekaar daarin kommunikeer, so gou sal menseverhoudinge begin verbeter en wedersydse begrip vir mekaar aangekweek word.
As jy iets vir Afrikaans wil doen, leer ’n taal met naamvalle praat. Motiveer jou kinders om ander inheemse tale as vak te neem. Skop 'n groot kabaal by jou naaste skool se beheerraad op en dring aan op properse taalonderrig vir jou nageslag. (Dreig hulle met minder geld vir die rugbyspan. Dit werk altyd.)
Jy sal verbaas wees hoe vinnig ander se vyandige houdings teenoor jou taal verdamp.
'n Lingua franca is veronderstel om kommunikasie moontlik te maak tussen mense wat normaalweg nie met mekaar sou assosieer nie. As daar egter spontane assosiasie tussen plaaslike taalgroepe begin ontstaan, sal die huidige relegering van inheemse tale na die nasionale periferie onnodig raak.
Waarvoor wag jy nog? Hamba! Funda nkqi! Doen dit vir volk en vaderland.
– Johan Swarts is 'n skrywer en vervaardiger. Sy blog is te vinde by http://gormendizer.co.za, en jy kan hom hier volg op Twitter.
Stuur jou kommentaar aan Johan
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.