Laat ons boosheid haat, nie mekaar
2010-04-09 08:45
Dit seker te wagte dat rubriekskrywers vandeesweek iets oor Eugene Terre'Blanche se dood sal kwytraak.
Ek het reeds my misnoë daaroor te kenne gegee en verskeie goeie skrywes is reeds oor die ongelukkige gebeurtenis neergepen. Veral Jonathan Jansen (Ten minste was ET ’n eerlike vuurvreter), Khaya Dlanga (Terre'Blanche death a wake-up call) en Tinyiko Sam Maluleke (Mourning Eugene Terre'Blanche) se woorde is myns insiens die moeite werd om te lees.
Wat ek oor Terre'Blanche se dood sou wou sê, is dus reeds in die breë kwytgeraak. Niemand wil ‘n parafrasering van ou rubrieke lees nie, so ek kan seker nie ook versoek dat Suid-Afrika nou moet kalm bly en nader aan mekaar moet beweeg nie. Of dat Terreblanche se moord ten diepste gaan oor twee mense wat ’n ander een doodgemaak het, en dat dit – politieke oortuigings tersyde – verkeerd bly.
Dit help seker nie ek herhaal die wekroep om saam te staan teen misdaad of die waarskuwing dat ons veel meer verdeeld is in Suid-Afrika as wat ons dikwels sal wil toegee nie.
Tog.
Asof die noodlot dit so bestem het, het ek besluit om die afgelope langnaweek deur NP van Wyk Louw se versamelde gedigte te werk. Die volgende gedig (uit die bundel Die Halwe Kring), tref my toe:
Moet ons ook toorn hê
Moet ons ook toorn hê, moet die donker haat
saam in gelid naas ons wit liefde loop,
naas ons trots vreugde en wapenblink hoop,
en langs ons hoë erns gaan in die raad?
dit sal ons dan haat: óu magte wat ons krenk
met die smaad van hulle jare, omdat hul oud
en vol onmenslike hunkerings is, die goud
meer liefhet as mooi-lewe, en ons deurdrenk
gestadiglik met woorde wat geen sin het
van 'breedheid' en 'gelykheid', dat ons ras
kan wegsmelt in die donkerbloedige plas,
en woorde klaarmaak wat geweld begin het.
Dié sal ons haat, en 'haat' naas 'liefde' sê
dat ons weer mense menslik lief kan hê.
In retrospek is dit nommerpas vir die hele sage.
Die gedig is die vyfde vers in ’n afdeling getiteld: ‘Gedagtes, liedere en gebede van ’n soldaat’ en het vanselfsprekend nie enige direkte verbande met Eugene Terre'Blanche se dood en Suid-Afrika se huidige toestand nie. Tog kan ’n mens nie anders as om’n boodskap van hoop daarin te vind wat toepaslik is op die hele onsmaaklike gebeurtenis nie.
Mag Suid-Afrika dus na afloop van Terre'Blanche se moord nie toenemend woede koester teenoor strooipoppe van ‘wit’ en ‘swart’ nie, maar eerder ‘die magte van vervreemding en verdeeldheid’ verafsku. Mag die nuttelose konsep van ras stadig uit ons kollektiewe geheue begin ‘wegsmelt in die donkerbloedige plas’ van Terreblanche se ontslape liggaam. Mag ons praat eerder as skiet; mag woorde klaarmaak ‘wat geweld begin het’ op die 3de April.
Al sit ons met politici wat dikwels ‘die goud / meer liefhet as mooi-lewe’, al dikteer massahisterie en emotiewe irrasionaliteit juis dat ons na afloop van Terre'Blanche se dood vir mekaar moet kwaad raak en al sou ’n mens kon argumenteer dat ons die afgelope 16 jaar deur ons leiers uitverkoop is aan ’n hol refrein van ‘gelykheid’ wat in die praktyk dikwels ’n hersenskim is, is dit steeds moontlik om nie mekaar nie, maar boosheid te háát.
En mekaar menslik liefhê.
Dit, dink ek, is al wat ek oor Terre'Blance wil (her)skryf.
(Sorrie, Nicholaas.)
– Johan Swarts is 'n skrywer, vervaardiger en sosiale mediakenner. Hy is 'n behendige fabriseerder van digitale media, lief vir filosofie en verknog aan musiek. Sy blog is te vinde by http://gormendizer.co.za. Jy kan hom ook volg op Twitter.
Stuur jou kommentaar aan Johan
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.