Koop liefs 'n ambulans, jaagduiwel
2012-09-04 08:24
<trompetgeskal>
Hooggeagte Haas
In die naam van die allerhoogste Republiek van Suid-Afrika (insluitende, maar nie beperk nie, tot die gesubsumeerde glorierepublieke onder leiding van hul eksellensies Carel IV Boshoff en Goodwill Zwelithini kaBhekuzulu) herinner ons u graag dat die snelheidsgrens op die Republiek se snelweë 'n honderd en twintig kilometer per uur (of vier en sewentig komma vyf ses vier vyf myl per uur – verder mph) is.
Ons bring voorts onder u aandag dat dit teen die Republiek en haar gesubsumeerde glorierepublieke se bepalinge is om teen snelhede van een honderd een en twintig kilometer per uur (75.1859 mph), een honderd en veertig kilometer per uur (86.992 mph) of een honderd en sestig kilometer per uur (99.4194 mph) met 'n voertuig van enige aard - hetsy byderwets of tweedehands - op enige van die Republiek se paaie te reis, met die uitsondering van noodvoertuie.
Hooggeagte Haas, ons besef u vuurwa is 'n tentoonstelling van u mag en ons begryp dat u tallose suksesvolle sakevennootskappe op u kerfstok en afdankings onder u kniekoppe het. Ons weet dat u 'n potentaat in die ware sin van die woord is, maar wil u steeds graag meedeel dat u net so min teen een honderd een en twintig kilometer per uur (75.1859 mph) of vinniger in die Republiek mag reis as wat u belasting mag vryspring of moord mag pleeg.
Ons wil u trouens inlig dat hoewel ons u verlengde, meganiese geslagsdeel bewonder, in u teenwoordigheid sidder en spontaan voor u magtige strydros se aangesig neerkniel, ons geen begeerte daartoe het om u in staat te stel om die Republiek se wette te oortree nie.
Wanneer ons derhalwe soggens die konstante en juiste snelheid van een honderd en twintig kilometer per uur (74.5645 mph) in spitsverkeer in die regterste baan van die snelweg handhaaf en u skielik agter ons opdoem in u vuurwa, moet u dus nie verbaas wees indien ons besluit om nie voor u pad te gee nie, maar eerder voortgaan om teen die maksimum toelaatbare snelheid in die rigting van ons bestemming in die regterkantste baan te bly voortbeweeg.
Vervolgens versoek ons dat u sal begryp dat die dringende flits van u kopligte, woeste handgebare en 'n weerklinking van u toeter ons nie na 'n stadiger baan sal laat beweeg sodat u vorentoe kan jaag teen 'n snelheid van een honderd een en twintig kilometer per uur (75.1859 mph) of meer nie.
Daar is nie 'n stadige baan nie, o Hooggeagte Haas, en al glo u dit met noeste vlyt is daar ook nie 'n vinnige baan nie. Hulle het almal dieselfde snelheidsgrens en om hulle anders te hanteer, is om die wette van die allerhoogste Republiek te oortree.
Sekerlik, o Grote Haas, kan U verstaan dat ons – ons respek en bewerasies ten spyt – nie medepligtig wil wees in die verontagsaming van hierdie allerhoogste Republiek (insluitende, maar nie beperk nie, tot die gesubsumeerde glorierepublieke onder leiding van hul eksellensies Carel IV Boshoff en Goodwill Zwelithini kaBhekuzulu) se regulasies nie.
Ons besef u is haastig en u tyd is kosbaar, maar ten einde minimale wetsoortreding te bewerkstellig versoek ons u om eerder u blindekolle te peil, u flikkerlig aan te sit, links verby te jaag, die snelheidsgrens alleenlik uit eie toedoen te oorskry en uself op u eie gemak teen u eie tempo teen 'n betonstruktuur van u eie keuse te verpletter.
Kortom, hooggeagte Haas (indien u nog lees), ry asseblief stadiger of koop 'n ambulans, maar moenie van ons verwag om medepligtiges te wees nie.
Amen.
</trompetgeskal>
– Johan Swarts is 'n skrywer en vervaardiger. Sy blog is te vinde by http://gormendizer.co.za, en jy kan hom hier volg op Twitter.
Stuur jou kommentaar aan Johan
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.