Konteks die sleutel tot dié Jesus-spotprent
2012-10-02 08:16
As jy dink Mdu Ntuli se "Jesus is a Shangaan" dryf die spot met godsdiens, sit jy waarskynlik die pot mis.
Ntuli se webanimasie beeld nie bloot vir "Jesus" – hy met die golwende hare en die kardiovaskulêre huis – uit nie. Die karakter se volle naam is "Jesus of the ANC" en hy's deel van 'n hele korps stereotiepe karakters uit Ntuli se spitsvondige brein.
Laasgenoemde word dikwels ingespan om skerp politieke satire te bedryf.
In een van sy sketse daag Jesus of the ANC byvoorbeeld by 'n ene "Zuluboy" (self 'n stereotipe) se huis op. Dié beveel hy om geld hemel toe te stuur via die internet, waarna hy Zuluboy se huis van alle waardevolle artikels in sig stroop – die hoender in sy yskas inkluis. Dit doen hy sonder om 'n oog te knip.
Dis natuurlik 'n ooglopende verwysing na die ANC se aanspraak dat hulle sal regeer "tot Jesus kom". Jesus of the ANC is 'n metafoor vir 'n politieke party wat hulself as 'n messias aanbied, maar heimlik hul kiesers tap vir alles wat hulle werd is.
In die veelbesproke "Jesus is a Shangaan" kry dieselfde karakter die nuus dat, hoewel hy sy groottoon beseer het, sy gesondheid binnekort weer klopdisselboom sal wees. "Ulungile", vertel die dokter hom, maar deel hom daarna die slegte nuus mee: hy wat die dokter is het Jesus of the ANC se DNS-uitslag met sy eie oë gesien, en die resultate is nie goed nie.
"Jesus," dra hy die boodskap aan die groen, geel en swart verlosser oor: "[your DNA] does not match with God's. You are a shangaan."
Jesus of the ANC is geskok. Die nuus maak hom so depressief dat hy sy "Shangaanheid" tevergeefs probeer afwas, besef dit gaan nie werk nie en dan eerder besluit om sy lewe te neem om van hierdie nuwe, aaklige realiteit te ontsnap.
"People won't take me seriously," besef hy – "Just imagine when I do a second coming. People will say the Shangaan has returned".
Op watter stereotipe sinspeel hierdie ongewone tragiese held?
Die geskiedenisboeke vertel dat Shaka in die 19de eeu 'n kryger genaamd "Soshangane" gestuur het om die vredeliewende Tsongas in die Noorde te verower. Daar gekom het Soshangane van plan verander en homself en sy manskappe eerder permanent daar gevestig. Hy het die inwoners – vredeliewende ruilhandelaars – gedwing om Nguni-gebruike aan te neem en Zoeloe te praat, maar dit het uiteraard nooit vrugte vir Shaka afgewerp nie. Vir die Zoeloes was Soshangane dus 'n verraaier – die een wat sy mense agtergelaat het en die bevele van sy koning verontagsaam het.
Tot vandag toe is "Shangaan" dus onder party dele van die Suid-Afrikaanse bevolking 'n skelnaam – een wat gebruik word vir diegene wat nie volbloed "Nguni" (en veral nie volbloed Zoeloe) is nie. Gegewe die huidige greep wat Zoeloe-nasionalisme op sekere faksies in die ANC het, spreek 'n karakter wat heeltemal depressief raak nadat hy ontdek hy is 'n Sjangaan boekdele – en dis beslis nie boekdele oor godsdiens nie.
Neem 'n mens Ntuli se ander videos met Jesus of the ANC in ag, is dit duidelik dat "Jesus is a Shangaan" weinig met godsdiens te make het. As Christen het jy seker die reg om daaroor ontsteld te raak, maar dis te betwyfel of daar enige sin in jou ontsteltenis kan wees as jy eers die konteks van die werk ken.
– Johan Swarts is 'n skrywer en vervaardiger. Sy blog is te vinde by http://gormendizer.co.za, en jy kan hom hier volg op Twitter.
Stuur jou kommentaar aan Johan
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.