Jý is messias in dié verhaal
2012-06-19 08:08
Vir die afgelope paar dae was ek 'n messias.
Ek het verlof geneem, myself na die naaste rekenaarwinkel gehaas en 'n eksemplaar van die langverwagte Diablo III aangeskaf. By die huis gekom het ek dadelik 'n Battle.net-rekening oopgemaak, 'n karakter geskep en die helshordes met 'n verskeidenheid byle, swaarde en hamers begin verbrysel.
Vir die volgende paar dae het ek gereeld vergeet om te eet, te drink of hoegenaamd selfs op te staan. My oë was vasgenael op 'n skerm waar die uitbeelding van 'n barbaar met 'n byl freneties besig was om 'n bekende patroon te herhaal: slaan, plunder, verkoop.
Die speletjie (die derde in 'n suksesvolle reeks) is ontwerp om soveel moontlik van jou aandag af te rokkel. Die verbluffende verskeidenheid vyande, terreine en veldtogte onderspan deur 'n epiese storie maak dit uiters verslawend om te speel.
Dit is juis die storie wat Diablo III so besonders maak.
Op sigself is dit nie veel ingewikkelder as 'n episode van 7de Laan nie. Die dialoog is meestal breindood en die karakters eendimensioneel. Weinig het aan die narratief verander sedert die oorspronklike Diablo, so 'n mens sou dit trouens as formulaïes kon beskryf: die magte van hel probeer die hemel en die aarde oorneem, die magte van hel word gestuit deur 'n onbaatsugtige protagonis.
Vir iemand wat in die Christelike tradisie groot geword het, is dit 'n bekende storie. Kernelemente van die tradisie figureer weereens in Diablo III: Goed en Kwaad, duiwels en engele, hekse, godsmanne en die apokalips. Daar is tot 'n verlossingsnarratief, met die goeie wat uiteindelik oor die kwaad seëvier.
Op die oog af ontbreek slegs een kernelemente van die tradisie: daar is geen sprake van God nie. Hierdie klein dog belangrike detail maak die nuutste aflewering in die Diablo-reeks net so besonders soos sy voorgangers, want by implikasie beteken dit op die ou end: jý is God.
Dit is jy, die speler, wat die messias van die wêreld in 'n alternatiewe heelal moet wees. Die oorwinning oor die bose is hier nie 'n bonatuurlike taak nie, maar dié van 'n mens - een met 'n dodelike arsenaal, maar nietemin een van vlees en bloed wat die duiwel alte letterlik in 'n tweegeveg moet oorwin.
Hierdie laaste brokkie maak die spel geniaal, want dit verskaf aan spelers 'n katarsis wat maak dat hulle na afloop van die laaste geveg wil terugkeer vir nog (en dit dan ook kan doen in die vorm van drie bykomende moeilikheidsgrade en vier nuwe karaktersoorte). Helleheer na helleheer oortuig Diablo III jou dat jy 'n held is op 'n manier wat min ander rekenaarspeletjies kan.
Blizzard het dit reggekry om 'n kunswerk te skep wat so goed soos rugby is en my vandeesweek 'n pseudoresensie met 'n non sequitur in die slotparagraaf te laat neerpen in plaas van 'n rubriek waarin my onderrok uithang. Dit alleen is rede genoeg om dit aan te skaf, so doen dit gerus en begin jou eie naam ydelik in gebruik te neem. Jou sterflike siel is leeg daarsonder.
– Johan Swarts is 'n skrywer en vervaardiger. Sy blog is te vinde by http://gormendizer.co.za, en jy kan hom hier volg op Twitter.
Stuur jou kommentaar aan Johan
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.