Hoe nou gemaak om Bang Jan te laat beef?
2012-02-07 07:48
Julius Malema is dood.
Hy wat die wit man laat bewe het, het die politieke lepel in die dak gesteek. Hy is geskors, sy nasionaliseringsbeleide is van die tafel afgevee en niemand gee regtig meer om of hy liedjies oor boere en roere te sing het nie. Dit laat koerante natuurlik met 'n tamaai probleem.
Hoe gaan hulle wit mense nou bangmaak?
Die afgelope jare was goue jare. Redakteurs kon oorle Julius se woorde telkens ondubbelsinnig, onalarmisties en sonder enige verskuilde agendas aanhaal. Hulle kon sy toesprake in Pedi noukeurig navors, sensasie soos die runderpes vermy en op die koop toe elke wit mens in Suid-Afrika in sy sokkies laat bewe. Dit was wonderlike, vreesbevange jare. Koerante het geld soos bossies geoes en almal met ’n bleek vel was paranoiïes. Soos dit hoort.
Nou is daar slegs 'n leemte oor.
Prysenswaardige pogings is in hierdie donkere tyd aangewend om die leemte tydelik te probeer vul. City Press kon almal darem vertel van die onafwendbare uitsterwing van die wit man en Rapport kon die fakkel help dra deur die sobere waarheid te verkondig dat die ANC boere sonder enige goeie rede by tronke gaan begin inboender.
'n Mens kan die vrees amper weer ruik. Hierdie nugtere en objektiewe verslaggewing is in die korttermyn genoeg om enige witmanshart te laat spartel van vrees, maar op die lange duur sal dit nie by Julius kan kers vashou nie. Daarvoor was hy maar net te vreesaanjaend.
As koerante wil oorleef en wittes wil aanhou beef, sal hulle spoedig 'n abominasie in sy plek moet optower.
Hy sal woester as Raka en leliker as Antjie Somers moet wees; dommer as D.F. Malan dog slinkser as Daisy de Melker. Sy verraderlike dade sal 'n skrikbewind oor die wit man se sensitiewe harsings moet voer op so 'n manier dat hy nooit die trauma van sy geliefde Julius se dood hoef te herleef nie.
Hy sal dus geen tafelmaniere hê nie.
Hierdie gruwel van ’n mens sal weier om te dink aan hulle wat nie so bevoorreg soos ons is nie en verseg om 'n mooi woordjie in te kry vir die hande wat die kos voorberei het. Hy sal nie die verpligte minimum van drie minute beleefd saam met almal om die tafel na die kos staar nie, maar dadelik voedsel uit die bakke voor hom begin opraap. Terwyl die res van die aansittendes deemoedig wag vir almal om klaar te skep, sal hierdie Judas reeds halfpad deur sy volgelaaide bord wees.
Wanneer die tyd ryp is vir die verootmoedigingsmoment waartydens lofsange oor die spys opklink en almal in 'n koor beaam: "sjoe, tannie, hmmmmm! Maar tannie se kos is darem maar lekker!", sal hy nonchalant na die laaste happie op sy vurk staar en dan droog opmerk dat dit eintlik maar na gal proe. "Bokdrolle is nie vye nie, ta' Hettie," sal hy blaf: "bokdrolle is nie $#@$ vye nie!".
Hy sal rek vir die botter sonder om verskoning daarvoor te vra. Hy sal oopmond kou, sy elmboë op die tafel laat rus en die geselskap verlaat voordat almal klaar geëet het. Hierna sal hy aandring om die skottelgoed manalleen te was en al die koffie in die huis onseremonieel by die drein afgiet.
Soms sal hy meisies toelaat om die braairooster vas te hou.
Sy verskrikking sal geen einde ken nie. Die pers sal oor hom gons en die wit man sal weer bewe. Hy sal met sy pet op sy kop aan etenstafels sit en Julius se dood sal nie verniet wees nie. Die vrees sal bly voortleef en die koerante sal bly voortbestaan. Soos dit hoort.
As dit nie werk nie, moet verslaggewers maar megafone aanskaf, die voorstede invaar, mense bekruip en "skrik, bliksem, skrik!" bulder.
Wee.
– Johan Swarts is 'n skrywer en vervaardiger. Sy blog is te vinde by http://gormendizer.co.za, en jy kan hom hier volg op Twitter.
Stuur jou kommentaar aan Johan
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.