Hoe gemaak met dié kwaksalwers?
2012-09-11 08:51
Op soek na gholfstokke beland ek die naweek in 'n sportwinkel. Die gogga het gebyt en ek moes 'n eie stel kry – 'n mens kan immers net so lank in die ruveld met jou vriend se stokke rondploeter.
Ek gaan skaf toe sommer alles aan wat my kan help om nie heeltemal onkapabel te lyk nie: 'n stel stokke, skoene, 'n hoop balle, afslaanpennetjies. Die verkoopsagent het breed geglimlag. (Ek ook, mind you – in my geestesoog kon ek al sien hoe ek met my eie stokke op die skoonveld baljaar.)
By die handskoene gekom, het hy selfs breër geglimlag.
Die beskikbares was so te sê dieselfde geprys, met die uitsondering van een handelsmerk wat bykans twee en 'n half keer die prys van die res was. Aangesien ek klaar besig was om geld te bloei, het ek geredeneer, kan ek dit netsowel aanpas.
Ek haal die handskoen toe uit sy omhulsel, trek die Velcro by die pols los om dit aan my hand te kry en siedaar: uit val 'n netjies ontwerpte kaartjie met die volgende verwaande woorde:
This innovative product releases high volume, natural NEGATIVE IONS to balance your body and refresh your mind! 3-in-1 Energy. Using the Golden Ratio, i-Pure technology combines GERMANIUM, FAR-INFRARED RAYS, NEGATIVE IONS and turns them into ENERGY. Balance the ions in your body and enhance your performance.
Bokas en alles. George Claassen, eat your heart out.
Ek het die droglappie een kyk gegee, hom terug in sy omhulsel gedruk, die goedkoopste handelsmerk moontlik uitgesoek, die verkoopsman vaarwel geroep en my buit na 'n betaalpunt ver daarvandaan geneem. Binne my het ek stil-stil geween.
Dit kan nie wettig wees nie, dag ek terwyl ek 'n oorbodige nier aan 'n vriendelike kassier by die betaalpunt verkwansel. Daar moet 'n wet teen hierdie soort bedrog wees nes daar 'n wet teen homeopatiese mengsels in apteke behoort te wees. Nie een van die twee doen wat hulle vervaardigers belowe nie.
En jou wrintiewaar, 'n paar eenvoudige soektogte toon toe aan dat dit inderdaad onwettig in Suid-Afrika is om kwaksalwery aan mense te verkoop onder die voorwendsel dat dit 'n reëele effek het. Meen Bepaling 41 van die Gebruikersbeskermingswet:
(1) In relation to the marketing of any goods or services, the supplier must not, by words or conduct (a) directly or indirectly express or imply a false, misleading or deceptive representation concerning a material fact to a consumer; ... (c) fail to correct an apparent misapprehension on the part of a consumer, amounting to a false, misleading or deceptive representation, or permit or require any other person to do so on behalf of the supplier.
Dalk, het ek op pad terug na my kar gedink, moet ek ’n hofsaak teen hierdie kwaksalwers maak namens almal wat hulle al geswendel het. Dit het na 'n goeie idee geklink, maar my surplusnier was op en my geld het reeds in een van Woolworths se kasregisters gelê.
Toe gaan moker ek maar 'n paar balle by die ruveld in.
– Johan Swarts is 'n skrywer en vervaardiger. Sy blog is te vinde by http://gormendizer.co.za, en jy kan hom hier volg op Twitter.
Stuur jou kommentaar aan Johan
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.