Heuning om die mond vir 'n 'uitverkore volk'
2012-10-16 08:05
Daar is 'n rede hoekom "Afrikaans is Groot" so 'n wegholsukses was, en dit het min met die kwaliteit van die musiek te make. Vir die antwoord hoef 'n mens nie verder as die stofomslag van Volume I van die Groot Verseboek te kyk nie, waar die volgende trotse woorde pryk:
Hierdie eerste deel van die nuwe Groot Verseboek is getuie van 'n avontuur wat maar min in die letterkunde aangetref word, die groei van 'n digkuns, binne enkele dekades, vanuit 'n beskeie, naïewe, amper primitiewe begin tot 'n poësie wat hom nêrens in die wêreld hoef te skaam nie.
'n Mens vind hierdie aanhaling vreemd.
Dit is te betwyfel of trots of bravade sinvolle voorwaardes is om in 'n taal te mag dig. Daar is trouens geen ander vereistes vir 'n taal om gedigte te kan voortbring as die eienskappe waaroor die meeste natuurlike tale in elk geval beskik nie: die vermoë om tyd, entiteite, kwaliteite en verhoudings aan te dui.
Dit is byvoorbeeld nie 'n afwesigheid van skaamte wat Eugene Marais in staat gestel het om "O koud is die windjie en skraal" te skryf nie, maar Afrikaans se vermoë om onderwerpe met behulp van copulae aan adjektiewe te verbind en teenoor mekaar te stel met behulp van neweskikkers.
Hierdie vermoë is nie uniek nie. 'n Natuurlike taal waarin 'n gedig nie geskryf kan word nie, is nie 'n sinvolle idee nie. Dat Afrikaans 'n literêre oeuvre ontwikkel het, is nie soveel 'n prestasie as 'n noodwendigheid nie.
Krap 'n mens in die geskiedenis van die taal, is dit nie moeilik om te sien waar hierdie attestasie van 'n taal wat vir geen ander taal hoef terug te staan vandaan kom nie. Die woordjie "oeuvre" bied toevallig 'n leidraad.
"Oeuvre" is afkomstig van die Frans "œuvre" wat dieselfde beteken en opgeneem is in die Afrikaanse woordeskat naas Duitse en Latynse woorde wat daagliks sonder enige teenkanting gebruik word. So praat Afrikaners gereeld en lekker hoogdrawend van die "status quo", "persona non grata" en 'n "domicilium" naas "bloedweinig", "delikatesse" en "folter".
Hierteenoor word woorde uit Engels op net mooi die teenoorgestelde manier hanteer. Op "awesome", "random" en "actually" word daar neergekyk. Engels word beskou as informeel. Anglisismes is uit, Latinismes en Germanismes in.
Hierdie irrasionele vyandigheid is 'n getuienis van een van die meer vernuftige stukkies sosiale ingenieurswese van die vorige eeu.
Soos enige ander groep aan die stuur van 'n republiek moes die Afrikanernasionaliste hul stemvee kry om vir hulle te bly stem. Een van die maniere waarop hulle dit gedoen het, was om kiesers te oortuig dat hulle 'n uitverkore volk is, 'n spesiale, vindingryke, superieure groep wat in staat is tot die hoogste beskaafde prestasies: argitektuur, ingenieurswese, letterkunde, filosofie.
Enige suksesvolle volksmite het natuurlik 'n sondebok. Vir die nasionaliste was dit Engels. Die woorde wat gebruik is om hul voorvaders in konsentrasiekampe te prop, hul plase af te brand en hulle van die industriële lewe in die stede te vervreem, is slinks vervorm na "slegte" woorde wat nie tot "suiwer Afrikaans" behoort het nie. Tot vandag toe voel "tale meng" vir Afrikaners verkeerd en is dit eintlik maar net 'n ander benaming vir "Engels gebruik". Kodewisseling met ander Germaanse tale is heel aanvaarbaar!
Tydens 'n eeufeesviering in 1937 het DF Malan die volgende kwytgeraak*:
As ons terugkyk oor die afgelope 100 jaar, is ons verbaas oor die betreklike kort tydperk waarin 'n nuwe nasie tot stand gekom het. Die geboorte van 'n nasie in so 'n kort tydjie is 'n wonderwerk in vergelyking met ander nasies wat eeue geneem het. Hierdie kort tydperk van ons nasiewording het geen gelyke in die wêreldgeskiedenis nie
As jy dink dit klink nogal baie soos André P. Brink se woorde in die flapteks van Groot Verseboek I, is jy reg. As jy wonder hoekom dit nodig was om mense soveel heuning om die mond te smeer, is jy waarskynlik sterk op pad daarheen om te verstaan hoekom "Afrikaans is Groot" so 'n sukses was.
Wit Afrikaans se hele wese was van die begin af gekenmerk deur minderwaardigheid. "Ons is net so goed soos Hollands!" was die wekroep eers; toe: "ons is net so goed soos Engels!" Keer op keer, toespraak op toespraak, voorwoord op voorwoord word dít wat ontken word tot vandag toe onwetens bevestig: Afrikaans is 'n lady en sy doth protest too much.
Hoekom moet 'n konsert immers hoegenaamd as "Afrikaans" verkoop word, en dié as "groot"? Kan die musiek nie maar bloot "goed", "mooi", "uitdagend", "ontspanne" of "vermaaklik" wees nie? Wat probeer hierdie wit mense vir hul teikenmark sê? Waarvan probeer hulle hul aanhangers verseker?
"Afrikaans is Groot" en Groot Verseboek I se stofomslag ry al twee dieselfde populistiese golf as wat Malan en die Nasionaliste vir jare in die vorige eeu gery het. Vandag is die enigste verskil dat dit hoofsaaklik maatskappye is wat die volk se emosies en vrese beheer ten einde by hul beursies uit te kom. Steeds met die mite: "ons is beter, ons is uitverkore, ons is spesiaal".
'n Mens sou dink dis tyd om 'n nuwe storie te kry.
*Pienaar, S. & Scholtz, J. (reds.). 1964. Glo in u volk! Dr. D.F. Malan as redenaar 1908-1954. Tafelberg-uitgewers.
– Johan Swarts is 'n skrywer en vervaardiger. Sy blog is te vinde by http://gormendizer.co.za, en jy kan hom hier volg op Twitter.
Stuur jou kommentaar aan Johan
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.