Géén rede om fees te vier
2012-09-25 07:42
Suid-Afrika was gister veronderstel om Erfenisdag te vier. Landsburgers moes hul onderskeie kulture herdenk en meer oor mekaar s'n uitvind. Dit was veronderstel om ons nader aan mekaar te bring, sosiale kohesie te bevorder en patriotisme aan te wakker.
I'm all for social cohesion, maar teen die agtergrond van die land se gewelddadige misdaadvlakke lyk hierdie soort nasiebou meer soos 'n siek grap. "Neem verwoed deel aan volkspele en gesels met die voorvaders," blyk die boodskap van onse regering te wees, "en almal sal mekaar liefhê!"
Maar almal het mekaar nié lief nie.
In die afgelope paar weke is daar byvoorbeeld dosyne myners doodgeskiet, mans en vrouens is op plase in die Suide sowel as die Noorde vermoor, 'n sesjarige dogtertjie in Hanover Park het 'n koeël in haar skedel gekry, 'n imam van Lenasia is brutaal vermoor in 'n huisbraak en so tussendeur – indien die nuutste misdaadstatistieke betroubaar is – is 2 kinders per dag met geweld om die lewe gebring.
Ons het inderdaad diverse erfenisse – ons kon onsself gister vegryp aan koeksisters, bunny chow en umqombothi – maar gegewe die huidige stand van sake (wat seker niks nuuts is nie), is dit moeilik om nie sinies te raak oor die relatief jongerige stukkie sosiale ingenieurswese nie.
Ek is seker erfenisvieringe kan 'n mens vir 'n paar uur laat goed voel (en die vleis is sekerlik ook nie te versmaai nie), maar in die breë beskou, wat was nou eintlik die doel van gister se vieringe?
As 'n mens deur die amptelike misdaadstatistieke van die afgelope paar jaar gaan, sal 'n mens jaarliks 'n drastiese daling in gewelddadige misdaad rondom die 24ste September opmerk? Word minder mense op hierdie datum en in die eerste paar weke daarna vermoor? Indien nie, wat presies is hierdie dag dan veronderstel om reg te kry? Sosiale kohesie is kennelik nie een van hulle nie.
As jy dink so 'n uitkyk is te negatief, wil ek die volgende graag weer beklemtoon: in die afgelope paar weke is Suid-Afrikaners van allerhande etnisiteite wreed om die lewe gebring in dorpe, stede, plase en townships.
Dis fine en dandy om trots te wees op jou kultuur (of dan seker kulture in ons geval), maar om so te doen binne die huidige konteks is vir my gevaarlik naby aan ontkenning.
Sekerlik is daar geen rede om in hierdie stadium oor enigiets fees te vier nie? 'n Nasionale dag van rou sou meer gepas wees vir die verliese wat Suid-Afrikaanse burgers tans ly.
– Johan Swarts is 'n skrywer en vervaardiger. Sy blog is te vinde by http://gormendizer.co.za, en jy kan hom hier volg op Twitter.
Stuur jou kommentaar aan Johan
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.