Floyd se noue ontkoming
2010-03-18 07:36
Ek kon dit nog nooit regkry om 'n vegetariër te wees nie, maar na die afgelope week het ek plotseling ontaard in iemand wat dit baie, baie vreemd vind om vis te eet.
Sien, ek het onlangs twee goudvissies gekry. Hulle heet “Juliaarse” en “Floyd” en woon in 'n minimalistiese vistenkie wat slegs water en 'n lugfiltertjie bevat.
Siende dat troetelvisse eintlik maar in hul eie toilet woon, het ek myself gister die taak op hande gelê om die tenk se week of twee oue water te vervang met nuwes – met Juliaaarse en Floyd natuurlik veilig in 'n aparte kommetjie water.
Alles het voor die wind gegaan... tot ek hulle in die nuwe water moes terugkry.
Juliaaarse (so gedoop omdat hy 'n vreeslike groot stertvin het) se vervoer het maklik gegaan. In by die bierglas (daar is niks soos 'n bierglas om visse te vervoer nie), terug in die tenk en die skoon, nuwe water. Floyd het egter ander planne gehad.
Hy wou eenvoudig nie by die bierglas se bek in nie.
Terwyl ek hom probeer skep, wip hy toe mooitjies verby die glas, uit die kommetjie en op die koue, ongenaakbare vloer.
Asof in stadige aksie kon ek myself gedemp hoor gil: “Floyd! #$@#, Floyd, wat maak jy?!”
Toe, luid en bang, terwyl ek naarstig water op die vloer uitmors en die spartelende goudvissie terug in water probeer kry: “Floyd! FLOYD! FLOOOOOOOYD!”
Na 'n futiele gespartel (wat waarskynlik 'n paar sekondes geduur het, maar soos 'n ewigheid gevoel het) het Floyd ophou beweeg en op die teëlvloer gelê asof alles verby was. Ek het my katabatiese vissie opgetel, in die bierglas laat sak en dadelik by die tenk laat inval – waarop hy vinnig lewe gekry en flink begin rondswem het, asof niks gebeur het nie.
Met 'n bonsende hart het ek effens verward na die omliggende area gekyk. Dit was soos 'n klein oorlogsone. Die vloer was druipnat en taai. Die kommetjie het omgedop in 'n hoek gelê. Viskos het, skynbaar sonder dat ek dit agtergekom het, oral soos skrapnel rondgespat.
Toe tref dit my: vir 'n paar oomblikke was ek doodsbang dat my dae oue goudvis – wat onder my sorg is – saam met die spreekwoordelike visse sou slaap. Nie 'n broer nie, nie 'n hond of 'n kat nie, nie eers 'n wollerige hamster nie. Nee: ek was tot die dood toe besorg oor 'n goudvis.
'n Goudvis!
Ek was bang dat sy dood my skuld sal wees. Bang dat ek verantwoordelik sal wees vir die bëeindiging van iets mooi. Iets uniek. Iets lewend.
Ek was geheg aan hom, want ek het aan hom 'n naam gegee.
Tot vandag toe het ek nie veel van 'n morele probleem daarmee om diere te eet nie. Hel – ek sal 'n lammetjie help afslag vir 'n braai as dit moet. Tjop-tjop. Sedert 'n goudvissie vir wie (wat?) ek 'n naam gegee het egter leweloos op my woonstel se teëlvloer gelê het, sukkel ek om vis te eet.
Is dit die soort ervaring wat van mense vegetariërs maak?
– Johan Swarts is 'n skrywer, vervaardiger en sosiale mediakenner. Hy is 'n behendige fabriseerder van digitale media, lief vir filosofie en verknog aan musiek. Sy blog is te vinde by http://gormendizer.co.za
Stuur jou kommentaar aan Johan
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.