Die tydbom het ontplof
2012-08-21 07:54
Chad le Clos het die wêreld se beste swemmer geklop. Die Proteas is die nommer een toetskrieketspan in die wêreld. Die Bokke het Argentinë op Nuweland verbrysel.
In die stof by Marikana is twee polisiemanne en twee sekuriteitswagte vermoor, drie dosyn myners met skerpgeskut deur die polisie doodgeskiet en 78 gewond.
In baksteenhuise jubel middelklasmense voor hul televisies. Hulle wens sporthelde geluk op Facebook, klink glasies en eet kos. In Marikana is daar woede.
Gegewe die huidige omstandighede, kan 'n mens nog trots op Suid-Afrika wees?
Ek dink nie so nie. Nie nou nie. Ek kan nie insien hoe 'n mens opgewonde kan raak oor prentjies van atlete op 'n skerm terwyl jy op jou rusbank sit as die res van die land 'n ekonomiese drukpot is nie. Veral nie as jy reeds beeldmateriaal gesien het van polisie wat arm werkers skiet nie.
Suid-Afrika, soos die Sowetan dit onlangs gestel het, sit nie meer op 'n tikkende tydbom nie. Die tydbom het ontplof.
'n Mens sou lank kon spekuleer oor of die polisie Donderdag korrek opgetree het of nie, maar dit gaan niemand regtig help nie. Suid-Afrika se koeël is klaar deur die kerk. As dit nie by Marikana gebeur het nie, sou dit weldra elders gebeur het.
Suid-Afrika sit op die wêreld se grootste platinumvoorraad. Ons is een van die grootste uitvoerders van chroom, mangaan, vanadium, ilmeniet, palladium, rutiel en sirkonium in die wêreld. Meer as 90% van alle steenkool wat in Afrika gebruik word, word hier gemyn.
Daar is enorme rykdom reg onder ons voete, maar ons mense bly arm. Vir iemand wat R4 000 'n maand verdien om taai, krities belangrike werk in die verkrygingsketting van daardie rykdom te doen, kan dit onmoontlik klop.
Wie Donderdag eerste geskiet het en wie watter wapens gedra het, is irrelevant. Wat nou saakmaak, is wat Lonmin se myners wil hê – nie omdat hulle dit noodwendig verdien nie, maar omdat dit waarskynlik 'n teken van 'n veel algemener gevoel onder die miljoene Suid-Afrikaners na aan die broodlyn is.
Iets is besig om te breek.
Net meer as 'n jaar gelede is Andries Tatane deur die polisie doodgeskiet met rubberkoeëls. Verlede week is meer as dertig mense met lewendige ammunisie doodgeskiet. Dit sal onregverdig wees om te sê dat hulle geskiet is ómdat hulle beter lewens wou hê, maar dis waarskynlik die algemene boodskap wat by die burgery sal begin postvat: dat die staat hulle deesdae nou nie juis verskriklik lief het nie.
In Suid-Afrika is die meerderheid brandarm en toenemend ontevrede met die heersende regering en hul klaaglike mislukking om dikwels selfs die mees basiese dienste aan alle burgers te verskaf. Die gegoede minderheid, daarenteen, sit benulloos in hul baksteenhuisies voor hul skerms en raak in ekstase oor 'n paar sportwedstryde.
Jy moet óf gevoelloos of óningelig wees om so opgewonde oor iets so onbenullig te kan raak in 'n nasionale routydperk.
Die verskriklike opgewondenheid oor 'n paar sportprestasies tydens 'n nasionale tragedie getuig van 'n land wat in twee verskillende wêrelde leef en al so gewoond aan geweld "iewers daar ver op 'n ongure plek" is dat drie dosyn dooie mense hulle nie vir langer as 'n paar dae ontstel nie. Dit getuig om die beurt van 'n verskriklike gaping tussen ryk en arm – en dis mos nou net mooi niks anders as 'n resep vir revolusie en politieke onstabiliteit nie.
Dit klink deesdae maar bra betekenisloos om jouself "trots Suid-Afrikaans" te noem.
– Johan Swarts is 'n skrywer en vervaardiger. Sy blog is te vinde by http://gormendizer.co.za, en jy kan hom hier volg op Twitter.
Stuur jou kommentaar aan Johan
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.