Die kerk kyk wéér anderpad
2011-12-06 07:47
“Gee vir ons Belhar!”
Dít was jong teoloë se wekroep toe die algemene sinode van die NG Kerk in Oktober ’n besluit oor die Belydenis van Belhar moes neem. Gelegitimeerdes en amper-gelegitimeerdes het hulself tydens die sitting soos een man na Twitter gewend en onophoudelik gevra vir ’n bewys dat die kerk waarlik ’n veilige hawe vir die onderdruktes, die verwerptes, die slagoffers van diskriminasie is.
Bely geregtigheid en versoening vir alle mense, het hulle aangedring. Bely liefde. Regverdigheid vereis niks minder nie!
So gesê, so gedaan. ’n Besluit vír Belhar is amper eenparig geneem. Die land se jong profete was in die wolke. Sinodegangers het hulself op die rug geklop en mense met verskillende velkleure het mekaar spontaan drukkies gegee sonder dat Siphiwe Tshabalala een enkele doel geskiet het.
Fast forward, soos die Engelse seg, na skaars ’n maand later en ons is in ’n soortgelyke situasie. Dieselfde kerk wat Belhar aanvaar het (en hulself hierdeur tot sosiale geregtigheid vir alle mense verbind het), het erns gemaak met ’n ander besluit (wat hulle 25 jaar gelede geneem het): dat homoseksualiteit ’n sonde in die oë van die Here is. Hulle weier nou om ’n jong vrou te legitimeer omdat sy haar seksualiteit nes enige ander normale mens wil uitleef.
Baie hane het intussen hieroor gekraai (met komplimente van die Afrikaanse pers), met die uitsondering van een kritieke groep: die jong profete.
Waar daar vir Belhar ’n luide aandrang was, is daar in die dae nadat die pers begin het om die storie te ry weinig geraas vir hierdie dame gemaak. Vir ’n spul woorde op papier uit die 80s was daar ondersteuning, liefde, deernis. Vir ’n persoon wat so oortuig was van haar geloof dat sy teologie gaan studeer het, was daar ’n dawerende, leë niks.
Waar is Belhar dan nou skielik heen?
Het hierdie jong teoloë almal reeds vergeet waarvoor hulle voorbrand gemaak het? Het hulle vergeet dat hulle skaars ’n paar weke gelede selfversekerd aangedring het op sosiale geregtigheid vir alle onderdruktes? Het hulle vergeet dat hulle ’n virtuele oorloggie vir “deernis” en “empatie” geveg het?
Skynbaar.
Hieroor moet ’n mens seker ook nie verbaas wees nie. Post 1994 is dit maklik om iets te aanvaar wat versoek dat idees wat lankal polities korrek is ook in die kerk polities korrek moet wees. Niemand in Suid-Afrika sal jou skeef aankyk as jy probeer om twee histories verdeelde groepe bymekaar te bring met behulp van ’n belydenisgeskrif nie.
Dis natuurlik veel uitdagender om prontuit te vra vir die aanvaarding van iets wat eintlik nog maar ’n tameletjie in die kerk is – veral as dit jou ’n toekomstige werksgeleentheid kan kos. (Daai kerk daar doerrr in die verte gaan jou waarskynlik nie beroep as jy openlik verklaar dat jy geen probleem het met gay dominees wat seksueel aktief is nie.)
Skaars ’n maand nadat ’n belydenisgeskrif aanvaar is wat verklaar dat God veral ’n God vir die onderdruktes is, word een van die kerk se eie kinders onderdruk. En nou kyk die res maar stil-stil anderpad.
So much for justice.
- Johan Swarts is 'n skrywer en vervaardiger. Sy blog is te vinde by http://gormendizer.co.za, en jy kan hom hier volg op Twitter.
Stuur jou kommentaar aan Johan
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.