Dié argumente is niksseggend
2010-10-08 07:42
Ateïste se bydraes tot godsdiensdebatte is soms sulke tevergeefse goed.
Neem die relletjie tussen Gareth Cliff en Khaya Dlanga, wat onlangs swaarde gekruis het oor die bestaan van God. In ‘n rubriek getiteld The Tiring God-debate het Dlanga Cliff naas Dawkins, Hitchens en Maher bestempel as ‘n “hoëpriester van die ateïste-beweging”. Cliff het repliek gelewer en – soos dit ‘n goeie aanlyn-ongelowige betaam – Dlanga se rubriek stuksgewys aangehaal en beantwoord.
Sy repliek was die gewone negasie van argumente wat tradisioneel in sulke debatte vir die bestaan van God aangebied word – aanmanings dat ‘n versoek om die nie-bestaan van iets te bewys, sinloos is, aanmerkings oor hoe godsdienstiges se intellektuele kapasiteit te kort skiet, uitwysings van wanpersepsies wat oor bekendes se godsdienstige oortuigings heers. (Darwin het nie sy teorie teruggetrek op sy sterfbed nie! Einstein het maar slegs aan ‘n onpersoonlike god geglo! Hawking se “for then we should know the mind of God”-aanhaling uit A Brief History of Time word buite konteks gebruik!)
In die meeste gevalle is Cliff en kie reg. Om die nie-bestaan van iets te bewys, is sinloos. Dis maklik om weersprekings in die Bybelse narratief (en waarskynlik dié van die Koran, die Bhagavad Gita, die Avesta en al die ander wat ek te lui is om te Google) te vind. Darwin het nie sy teorie teruggetrek nie. Einstein was nie ‘n Christen nie. Hawking het nie bedoel die God van Isak, Abraham en Jakob het ‘n brein waarin ons uiteindelik met genoegsame tegnologie sal kan tuur nie. (Of alle godsdienstiges intellektueel gestremd is, is egter nie so ‘n uitgemaakte saak nie.)
Die probleem met hierdie argumente is nie dat dit verkeerd is nie. Dit is nie. (Trouens, dis dikwels oorweldigend korrek.) Die probleem is eerder dat dit heimlik maar niksseggend is.
Die gemiddelde ateïs se argument teen die bestaan van God toon aan hoe die Christelike weergawe van ‘n teïstiese God, met al die karaktereienskappe en geite wat die Christendom aan hom toedig, nie sin maak nie. Dit doen hy of sy gewoonlik deur gate in Bybelstories en Christelike dogma uit te wys, godsdienstiges wat die stories letterlik glo te beswadder en dan te verklaar: daar is duidelik geen God nie.
Wat kostelik hieraan is, is dat die ateïs na afloop van die argument nie die bestaan van God verkeerd bewys het nie. Hy het dan maar slegs die bestaan van sy betrokke kultuur se interpretasie van die teïstiese idee van God onwaarskynlik bewys. Dit help niemand om agter te kom of daar wel ‘n opperwese of ‘n sogenaamde eerste oorsprong is nie, of om die misterie van die bestaan van die heelal en ons posisie daarin te verklaar nie.
Soos menigte ateïs graag sê: Bybelstories is ou geskrifte, geskryf deur ou mans in die midde-Ooste. Bybelstories verskil nie veel van stories oor Sinterklaas en die tandemuis nie. Bybelstories is nie ‘n akkurate beskrywing van die werklikheid of noodwendig relevant vir die hedendaagse samelewing nie.
Nou ja.
Dan is dit seker ook nie veel van ‘n prestasie om hierdie stories verkeerd te bewys nie?
– Johan Swarts is 'n skrywer en vervaardiger. Hy is 'n behendige fabriseerder van digitale media, lief vir filosofie en verknog aan musiek. Sy blog is te vinde by http://gormendizer.co.za, en jy kan hom hier volg op Twitter.
Stuur jou kommentaar aan Johan
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.