Dié Groot Broer is moeilik om te identifiseer
2011-10-18 07:50
Die Occupy South Africa-demonstreerders wat onlangs voor die JSE gaan tent opslaan het, is tekenend van ’n soort mentaliteit wat Suid-Afrika nie nou nodig het nie.
Hulle is geskoei op Occupy Wall Street, ’n amorfe beweging wat die simboliese tuiste van Amerikaanse kapitalisme in groot getalle gaan beset het. Dié besetting teken protes aan teen die vraatsugtigheid van Amerikaanse banke en die knoeiery van die Amerikaanse regering wat die land in ’n ekonomiese verknorsing gedompel het.
In Wall Street maak ’n demonstrasie voor ’n aandelebeurs natuurlik sin. In Suid-Afrika?
Dit klink seker aanloklik vir mense met finansiële probleme (of dié daarsonder wat niks anders het om te doen nie) om na Sandton te marsjeer en oor megafone aan te dring dat die korrupsie, die gulsigheid en die knoeiery in Suid-Afrika vir eens en vir altyd moet end kry. Om dit voor die JSE te doen, het dalk selfs meer betekenisvol geklink vir die handjievol mense wat uiteindelik daar opgedaag het. Wat die JSE egter met al hierdie probleme te make het, is onduidelik.
Soos baie dinge waarteen daar dikwels gedemonstreer word, is aandelebeurse nie so homogeen soos wat betogers mag dink nie. Die genoteerde maatskappye op die JSE is so divers dat dit moeilik is om in te sien waarteen ’n mens nou juis sal betoog indien jy keelvol is van “gierigheid en korrupsie”.
Teen wie teken jy nou eintlik kapsie aan as jy met jou plakkaat voor die grootste aandelebeurs in Afrika gaan stelling inneem? Shoprite? Old Mutual? MTN? Illovo? (Appels? Polisse? Lugtyd? Goue stroop?) Wie presies is die korrupte en gulsige varke wat moet neerkniel in die aangesig van jou almagtige slagspreuke? Kruip hulle in SPAR se pastarak weg? In Foschini se skoene-afdeling? In Spur se kombuis?
Watter SPAR? Watter Foschini? Watter Spur?
Die JSE is nie Suid-Afrika se simbool van korrupsie nie. Dis bloot ’n versinnebeelding van ruilhandel. Om dit van eersgenoemde te beskuldig, is omtrent so sinvol soos om die plaaslike dorpsbiblioteek te wil afbrand omdat hulle Mills & Boon-eksemplare aanhou.
Dis nie op al die rakke nie, is dit?
Hierdie mentaliteit – dat enigiets of enigiemand wat welvaart simboliseer outomaties ook korrupsie en gierigheid verteenwoordig – is een wat Suid-Afrika nie nou kan bekostig nie.
Voorts getuig ’n opmars na die JSE (insluitende die ANC Jeugliga s’n wat eersdaags plaasvind) dalk van bravade en ’n soeke na geregtigheid, maar meer nog getuig dit van mense wat die persepsie het dat daar – iewers – ’n Groot Broer op ’n troon sit wat die ekonomie se toutjies trek en hul lot beheer. Dit vertel van ’n soort slaafmentaliteit; ’n sogenaamde colonising of the mind wat hierdie mense op hulself voltrek het.
Groot Broer leef net in hulle koppe.
As julle wil protesteer teen die gierigheid van banke, wil ’n mens vir Occupy South Africa sê, gaan staan dan ten minste voor 'n bank. As julle wil protesteer teen superrykes wat hul rykdom onder desperate Suid-Afrikaners se neuse druk, gaan staan voor 'n Kenny Kunene-restaurant. As jy met plakkate teen korrupsie en tenderbedrog wil baklei, gaan doen dit voor ’n staatsdepartement of SGL Engineering Projects. Moet dit tog net nie voor die aandelebeurs gaan staan en doen nie. Julle lyk onbenullig.
Te veel mense in Suid-Afrika het al gesterf vir veel belangriker sake as die opsporing van geïdealiseerde booswigte tussen pastarakke. Dis verstaanbaar dat mense ’n tasbare, sigbare teiken vir hul frustrasies soek, maar om Amerika blindelings te probeer navolg en ’n eenvoudige sondebok vir ingewikkelde probleme te soek, is sowel sinloos as tragies.
– Johan Swarts is 'n skrywer en vervaardiger. Sy blog is te vinde by http://gormendizer.co.za, en jy kan hom hier volg op Twitter.
Stuur jou kommentaar aan Johan
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.