Bohaai oor skooldrag irrasioneel
2013-01-29 07:34
Die onderwysers wat twee leerders versoek het om hul Islamitiese hoofbedekkings te verwyder omdat dit nie met die skool se gedragskode strook nie, illustreer mooitjies hoe irrasioneel hierdie einste gedragskode is.
Mense is lief daarvoor om tydens sodanige soort kulturele botsings te sê dat sake ingewikkelder is as wat dit voorkom; dat 'n mens nie sonder meer 'n uitspraak in die een of die ander party se guns kan lewer nie en dat sulke situasies met takt hanteer moet word. Woorde soos "multikulturalisme" en "pluralisme" word soms rondgegooi in 'n poging om baie oor 'n bedrieglik eenvoudige saak te sê.
In werklikheid is dit nie ‘n moeilike probleem om op te los nie, omdat hierdie debakel nie oor godsdiens, tradisie of dissipline gaan nie. Ten diepste handel hierdie bakleiery maar oor wie watter stukkies lap om watter liggaamsdele tussen 08:00 en 14:00 op weeksdae mag drapeer.
'n Argument ten gunste van enige van die twee kante (dié van die skool en dié van die betrokke leerders) is ten beste irrasioneel.
Die kinders se oortuiging dat hulle bepaalde items by hul skoolmonderings moet dra, het 'n godsdienstige oorsprong. Dit is dus van nature strydig met rede. Daar is uiteraard wisselende skakerings van dieselfde argument (Islam is immers net so divers soos die Christendom), maar die kruks is op die ou end maar die rigiede: “my geloof sê ek moet iets doen, daarom moet ek dit doen.”
'n Argument hieroor stuur noodwendig op sirkels af.
Die skool se kant van die saak is net so irrasioneel. Nie net Hoërskool Eben Dönges nie, maar Suid-Afrikaanse skole in die breë is trouens skuldig aan die oortuiging dat skoolkinders identies moet lyk en nougesette voorkomsriglyne nagevolg moet word ten einde dissipline en skooltrots te koester.
Net so min as wat daar rasionele argumente vir die dra van godsdienstige hoofbedekkings is, is daar rasionele argumente ten gunste van 'n ingesteekde hemp, ‘n hemp wat ‘n bepaalde kleur of snit moet wees of haar- en naellengtes wat moet wissel op grond van die geslagsorgane tussen leerders se bene.
Diegene wat byvoorbeeld aanvoer dat dit skooltrots aanwakker, sit opgesaal met die verskynsel van ‘n land soos Amerika, waar skooluniforms afwesig is, maar “school spirit” in so ‘n mate hoogty vier dat rasieleiding so te sê ‘n sport is.
Dié wat aanvoer dat dit selfdissipline en akademiese prestasie bevorder, sal moet verduidelik hoekom verskeie vooruitstrewende lande (Nederland, Duitsland, Frankryk en die Skandinawiese lande is goeie voorbeelde) nie skooluniforms dra of hulself met regulasies soos “seuns se hare moet twee vingerbreedtes bo hul krae bly” bemoei nie. Laasgenoemde lande se voorbeelde geld ook vir diegene wat aanvoer dat 'n uniforme voorkoms goeie gedrag en respek vir strukture kweek.
Om 'n fez te dra omdat jou godsdiens so beveel, is net so irrasioneel as om jou skoolhemp in te steek en jou naels kort te knip omdat jou skool se gedragskode so beveel. 'n Argument ten gunste van die een is outomaties 'n argument ten gunste van die ander. Gevoer tot hul logiese uiterstes maak ieder argument die ander ongeldig.
‘n Belangriker vraag as “mag skoliere bepaalde stukkies lap tussen 08:00 en 14:00 op weeksdae dra?” is sekerlik “wil ons akademies suksesvolle skoliere hê?”. As die antwoord hierop positief is, is die enigste sinvolle vrae wat ‘n mens met reg oor die Eben Dönges-debakel kan vra bloot: help 'n ingesteekte hemp jou om beter wiskunde te doen? Is kopdoeke bevorderlik tot 'n beter verstaan van fisika? Resulteer ongejelde hare in vaardiger bladlesers? Laat 'n fez jou toe om beter balansstate op te trek?
Behalwe as jy 'n sakrekenaar daarin wegsteek, vermoed ek, is die antwoord: "nee".
– Johan Swarts is 'n skrywer en vervaardiger. Sy blog is te vinde by http://gormendizer.co.za, en jy kan hom hier volg op Twitter.
Stuur jou kommentaar aan Johan
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.