Begripstoets
2012-07-03 08:03
"Hello sir!"
"Hi chief!"
Ek en Sandile wuif vir mekaar. Hierso, beduie hy vir my. Langs hierdie pomp in. Hoeveel petrol moet hy intap?
Net 'n honderd, asseblief. Die petrolprys daal binnekort.
"Uthetha isiXhosa?" wonder ek terwyl hy met die tuit in sy hand staan.
"Ewe!"
Wonderlik! Ndithetha isiXhosa kancinci!
Hy glimlag.
Ek het my Xhosa-lesse hervat, vertel ek verder in Engels, en hierdie keer gaan ek nie papegaaivragies soos: "ngubani igama lakho?" en "unjani?" memoriseer totdat ek steeds met niemand 'n gesprek kan voer nie. Ek het paar goeie handboeke opgespoor en gaan die ding nou ordentlik doen.
Werkwoordinfleksies en naamwoordklasse sal my bietse wees, thank you very much.
Langs my op die passasiersitplek lê "The major syntactic structures of Xhosa: a partial transformational grammar", "Xhosa, a concise manual", "Xhosa manual" en "Leer self Xhosa". Dis my bewysstukke. Ek's nie net nog 'n umlungu wat beweer dat hy leer nie. Ek doen dit.
Gaaf, beduie hy. Die boeke is "deep". As ek hulle verstaan, dan verstaan ek Xhosa.
"Where did you get them? In the library?"
Ewe.
"Can I see that green one?" wil hy weet terwyl hy na "Leer self Xhosa" wys – 'n oudmodiese dog grammatikaal omvattende boekie uit 1958 wat nog effe neerhalend na "die Bantoes" verwys.
Hy blaai deur die oefeninge – sinne in Xhosa wat die leser self na Afrikaans moet vertaal, en sinne in Afrikaans wat die leser na Xhosa moet omsit.
"Are they the same?"
Nee. Hulle verskil.
"That's a pity. I want to learn Afrikaans. I'm gonna get a book like this for me."
Jislaaik, laat hoor ek van myself, dis nou 'n goeie idee. Ons moet mekaar se tale leer praat.
Hy glimlag en stop 'n kaartleser in my hand. Veilig werk toe ry môre, sê hy vir my in Xhosa terwyl ons wag vir die transaksie om beklink te word. "Sala kakuhle", sê ek effens skaam, my brawe voorneme om nie soos 'n papegaai te klink nie vir eers in sy maai in. Ons fist bump mekaar.
uMzantsi Afrika, %$@# yeah, dink ek, en verbeel my ek skop 'n Persiese boodskapper by 'n put af.
Klasbespreking:
1. Druk gevoelens in 'n teks uit
* Hoe voel jy as jy die storie lees?
* Hoe dink jy het Sandile gevoel toe hy ontdek Johan doen moeite om sy moedertaal te leer praat?
* Hoe het Johan gevoel toe hy nie genoeg woorde geken het om Sandile behoorlik te groet nie?
2. Oorsaak en gevolg. (Bespreek saam met 'n maat!)
* Wat het veroorsaak dat Sandile sy begeerte uitspreek om Afrikaans te leer?
* Wat moet ons maak as ons ander Suid-Afrikaners positief oor Afrikaans wil maak?
* Wat gebeur wanneer 'n mens boeke lees wat jy nog nooit vantevore gelees het nie?
3. Voltooi
* Johan was te vinnig te selfvoldaan oor......
* As Afrikaanse mense almal goeie Xhosa kan praat, dan sal......
* Verengelsing vind slegs plaas omdat......
4. Bonuspuntvraag
* Hoeveel protesaksies verg dit om 'n taal te verwoes?
– Johan Swarts is 'n skrywer en vervaardiger. Sy blog is te vinde by http://gormendizer.co.za, en jy kan hom hier volg op Twitter.
Stuur jou kommentaar aan Johan
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.