Apple wéét hoe
2010-06-10 08:21
Maandag se bekendstelling van die nuwe iPhone (hy heet iPhone 4) het my opnuut laat besef hoe vatbaar mense vir suggestie en dinge wat blink is. En hoe briljant Apple is.
Soos verwag, is die toestel 'n vernuftige stukkie hardeware, maar nie juis iets om lofpsalms oor te skryf nie. Dit bied vindingryke hardeware (onder andere die foon se metaalraam wat as antenna gebruik word, 'n hoë-resolusie skerm en 'n girometer) en 'n nuwe bedryfstelsel, maar nie een van hierdie eienskappe is noodwendig baanbrekend wanneer dit met die huidige kompetisie vergelyk word nie. Soos elders geskryf is: die nuwe iPhone is evolusie, nie revolusie nie.
Dit het Steve Jobs natuurlik nie gekeer om rudimêntere ('n mens sou selfs kon argumenteer: irrelevante) dinge aan die gehoor by WWDC uit te lig nie. Hy het byvoorbeeld klem gelê op die dikte (of dan: dunheid) van die toestel, wat op 9.3 mm (24% dunner as die vorige iPhone) volgens Jobs "the thinnest smartphone on the planet" is, sowel as die estetiese eienskappe van die toestel. (As jy ooit 'n begeerte na adjektief-geïnduseerde naarte ontwikkel, kyk 'n Steve Jobs Keynote).
Ewenwel.
Die afgelope tyd was ek self op hoogte van verwikkelinge in die smartphone-bedryf, aangesien my selfoonkontrak (en die daarmee gepaardgaande gehawende selfoon) reeds in Desember verstryk het en ek opsoek was na iets nuut. Ek het elke moontlike opsie ondersoek en myself omtrent oorlaai met navorsing (lees: naarstig geGoogle) en teen die einde se kant – sonder dat ek dit besef het – begin fokus op irrelevante eienskappe en oordrewe bemarking.
Ek het my oog op die HTC Desire gehad. En toe kyk ek Steve Jobs se keynote. En toe praat hy oor hoe dun sy nuwe selfoon is. My eerste gedagtes?
Skok! Walging! Afgryse! Die nuwe iFoon is 2.6 mm dunner as die een wat ek wil koop! En sy skerm het 'n hoër resolusie! En dis gemaak van super, nuwe, amper onbreekbare glas! En dis blink! BLINK!
My tegnologiese gebelgdheid het gelukkig nie baie lank gehou nie. Die volgende dag het ek reguit na die naaste derglike winkel gemarsjeer, my oë toegeknyp en ‘n HTC Desire (ironiese naam, ek weet) aangeskaf. Terwyl ek blinkoog met die toestelletjie rondgespeel het, het die absurdheid van my bekommernis en die briljantheid van Apple se bemarking my getref.
My selfoon is vir alle praktiese doeleindes (veral in 'n land soos Suid-Afrika) 'n superfoon. Dis nie net 'n telefoon nie: dis ook 'n GPS-toestel, 'n wireless hotspot, 'n gaming console, 'n produktiwiteitstoestel. Dis 'n swetterjoel dinge waaroor die meeste selfoongebruikers maar net kan droom en steeds het Apple dit reggekry om my vir 'n wyle minderwaardig te laat voel oor my eie. En nie met dinge wat teoreties nog kon saakmaak nie. O, nee.
Dit was nie die skerm met sy effe hoër resolusie as myne, die ingeboude girometer of die front facing kamera wat my jaloers gehad het nie. Nee: dit was 'n 2.6 mm glaslagie en wollerige, strooipop-agtige bling. Die mees nuttelose eienskappe van die toestel het my die jaloerste gemaak.
Mense is irrasioneel en oppervlakkig. Apple weet dit, buit hierdie irrasioneliteit mildelik met peperduur (middelmatige) produkte uit en raak oordadig ryk in die proses. 'n Mens kan lang relase skryf oor hoe dit immoreel is, of hoe ander maatskappye of organisasies beter of meer eties optree – of 'n mens kan bloot die vinger na jouself swaai en erken: soms is ons almal maar lief vir dingetjies wat blink.
Knap gedaan, Apple. Julle het die kraai in my uitgebring.
– Johan Swarts is 'n skrywer, vervaardiger en sosiale mediakenner. Hy is 'n behendige fabriseerder van digitale media, lief vir filosofie en verknog aan musiek. Sy blog is te vinde by http://gormendizer.co.za, en jy kan hom hier volg op Twitter.
Stuur jou kommentaar aan Johan
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.