Suzman sou vrouewet looi
2011-06-13 07:49
Die stommiteite waarmee sommige van ons ministers vorendag kom, sou snaakser wees as dit ons as belastingbetalers nie soveel geld gekos het nie.
Net toe ’n mens dink jy het nou werklik alles gehoor, lewer me. Lulu Xingwana, minister van vroue, kinders en mense met gestremdhede, die afgelope week haar begrotingstoespraak in die parlement en jy besef die ANC is op die punt om sy obsessie met demografiese onveranderlikes na ’n nuwe rat van absurditeit oor te skakel.
Die liewe minister kondig naamlik aan dat werk goed vorder aan ’n nuwe wet op geslagsgelykheid. Hierdie wet het ten doel om wat die slimme Xingwana die “50/50-gelykheidsdoelwit” noem, te help bereik.
’n Desperater poging tot relevantheid vir die minister van ’n totaal betekenislose portefeulje sal jy wêreldwyd moeilik kry, want waarna sy blyk te verwys, is die oortuiging dat vroue noodwendig die helfte van alle poste moet beklee en dat dit wetlik opgedwing moet word.
Dit is presies hierdie soort belaglike toepassing van die regstellende-aksie-konsep deur die ANC wat regstellende aksie in Suid-Afrika so ’n slegte naam gee en dit word onderlê deur die dom manier waarop soveel elemente binne die ANC hul tyd mors met algehele onsin, terwyl ware krisisse soos korrupsie en die openbare beskermer teen die polisiehoof onopgelos bly.
Die voorgenome wetgewing, so kan ’n mens sommer reeds sien, gaan op twee vlakke strand. Eerstens gaan die konsep presies so puik werk soos wat dit met die ANC-verkiesingslyste gewerk het (dit was een van die hoofredes vir ontevredenheid, want die demokraties verkose kandidate is verwerp omdat hulle mans is); en tweedens gaan dit ’n heeltemal onnodige spul poste skep vir amptenare wat sal moet toesien dat maatskappye ook op hierdie wyse meriete, vaardigheid en dus dienslewering ondergeskik stel aan iets anders – hierdie keer geslag.
Wat ’n mens graag wil weet, is waar die gedagte vandaan kom dat enigiemand ’n beroepstaak beter kan verrig net omdat die persoon van ’n spesifieke geslag is. Dis net so sleg as om te dink iemand kan ’n beroepstaak beter doen omdat hy/sy van ’n spesifieke ras is.
Die beste argument teen ’n geslagskwota is sekerlik Xingwana se voorganger in haar portefeulje, me. Noluthando Mayende-Sibiya.
Sy was so ontsettend verlore in die parlement dat selfs die ANC besef het sy is onbevoeg vir haar taak en sy het die bykans onmoontlike reggekry: Sy is uit die kabinet gelaat.
Hieroor, soos oor baie dinge, kan die ANC gerus gaan leer uit die lewe van een van ons land se voorste vrouepolitici, me. Helen Suzman.
Toe Suzman haar in 1953 die eerste keer as kandidaat in Houghton verkiesbaar gestel het, is sy in die kieskollege gevra of die feit dat sy ’n vrou is enige rol moet speel.
“Ek wil nie hê dat julle vir my moet stem net omdat ek ’n vrou is nie,” het sy geantwoord.
“Ek wil net nie hê julle moet teen my stem net omdat ek ’n vrou is nie.”
Vir my is dit die kern waaroor regstellende aksie moet gaan. Dit moet daaroor gaan om mense ’n gelyke kans te gee; nie net lukraak te bevoordeel op grond van iets wat geen verband hou met die taak voor hande of ’n nuwe bevoordeelde (en dus benadeelde) klas te skep nie.
Maar eintlik is Xingwana se voorstel geen verrassing nie.
Die ware rede daarvoor is dat sy werk soek vir haar hande, want daar is nie regtig werk vir haar ministerie nie.
Die skep van die ministerie, waarvan die take voorheen ’n klein onderdeel van die presidensie se werk uitgemaak het, was ’n oordeelsfout deur Zuma en is een van die redes waarom Suid-Afrika een van die grootste kabinette ter wêreld het.
Die ANC gaan voortploeter soos hy nou voortploeter totdat hy nie vaardigheid eerste stel nie. Gelukkig sneuwel baie van die ANC se maller wetsvoorstelle. Hopelik is hierdie vrouewet volgende op daardie langer wordende lys.
- Oorspronklik verskyn in Rapport
Stuur jou kommentaar aan Jan-Jan
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.