Só verander Afrikaanse leefwêreld
2012-12-06 08:56
Afrikaanse mense het aangehou leer hoe om te funksioneer as ’n groep met beperkte bedingingsmag in Suid-Afrika.
Vir ’n noemenswaardige groep wit Afrikaanssprekendes was dit ’n moeilike aanpassing dat wit Afrikaanssprekendes (wat in die apartheidsdae 60% van die stemtotaal uitgemaak het) sedert 1994, met die toestaan van stemreg aan alle rasse, net 6% van die totale hoeveelheid kiesers uitmaak. Dit kom neer op ’n tienvoudige verkleining van politieke invloed, wat vir sommiges traumaties was om te hanteer.
Ook vir bruin Afrikaanssprekendes het ’n idealistiese prentjie oor die invloed van demokratisering gou op die rotse van realiteit gestrand.
Die Afrikaanse gemeenskap, Afrikaanse skole en die uitbou van die Afrikaanse taal was vir die ANC-regering nie meer die prioriteit wat dit vir regerings tot 1994 was nie. Boonop het sowel wit as bruin Afrikaanssprekendes dit aansienlik moeiliker gevind om werk te kry weens die regering se beleid van rasgebaseerde regstellende aksie wat, soos amptelike ANC-beleid sedert die Morogoro-beraad in 1969 verklaar het, op swart mense in die besonder gefokus was.
Die uitwerking daarvan was dat dit die Afrikaanse gemeenskap gedwing het om na homself te begin omsien op ’n wyse wat vroeër onnodig en dus ondenkbaar sou wees. Die aanpasbaarheid en die bereidheid van die Afrikaanse gemeenskap om dit wat vir hom kosbaar is, selfstandig te koester en uit te bou, is versinnebeeld in die stigting van belangeorganisasies soos die Bruin Belange-Inisiatief (BBI) en die Solidariteit-beweging. Laasgenoemde bestaan uit vier dele, naamlik ’n vakbond, ’n opleidingsafdeling, ’n welsynsbeweging en ’n burgerregtegroep.
Die oper demokratiese bestel het groter interne ongelykheid in Afrikaanse gemeenskappe tot gevolg gehad, met die geleentheid tot groter kompetisie wat sterkeres laat uitskiet en swakkeres onbeskermd gelaat het. Hoewel die voorste bruin mense die kanse aangegryp het wat ’n meer gelyke bestel kon bied, kon die meeste bruin Afrikaanssprekendes nie ’n wesenlike verbetering in hul betreklik armoedige omstandighede sien nie.
Dieselfde neiging was in die wit Afrikaanse gemeenskap waarneembaar, met ’n enorme inkomstegaping wat tussen ryk en arm Afrikaners ontstaan het toe die apartheidstelsel wegval en Suid-Afrika op groter skaal deel van die internasionale wêreld en markte word.
Twee gelyklopende tendense het werkloosheid onder wit Afrikaanssprekendes laat styg en tot die herlewing van die armblankevraagstuk gelei: Eerstens het rasgebaseerde werkreservering (sommige werkgeleenthede kon kragtens wet slegs deur wit mense verrig word) weggeval en tweedens het regstellende aksie voorkeur aan swart arbeid bo wit arbeid gegee.
Die BBI, Afrikaanse kerke en Solidariteit het hulle gevolglik bemoei met armoedeverligting en opheffing binne die Afrikaanse gemeenskap. ’n Tradisie van “help jouself” het in die Afrikaanse gemeenskap ontstaan.
Die Afrikaanse uitvoerende kunste het ook gefloreer, met verkope wat ongekende hoogtes bereik het omdat Afrikaanse mense hul taal ondersteun het, die ontplooiing van Afrikaanse punk wat deur die groep Fokofpolisiekar ’n groot impak op jong Afrikaanssprekendes gemaak het, die zef-groep Die Antwoord wat ’n wêreldwye deurbraak vir Afrikaanse musiek beteken het en die rolprent Skoonheid wat internasionale erkenning vir die potensiaal van Afrikaans as rolprentmedium verseker het. Afrikaanse mense het deur gesamentlike strukture soos die Afrikaanse Taalraad oor rasgrense begin saamwerk ter uitbouing van hul gedeelde taal- en kultuurbelange op ’n skaal wat dekades tevore ondenkbaar sou wees.
Polities was Afrikaanssprekendes in die verkiesings van 2009 en 2011 meer verenig as ooit in die geskiedenis. ’n Boodskap van verbete skoon regering en gelyke geleenthede vir almal ongeag kleur het veroorsaak dat sowat 70% van bruin Afrikaanssprekendes (in die stede was die syfer meer as 80% vir bruin kiesers) en sowat 94% van wit Afrikaanssprekendes hul kruisies vir Zille se Demokratiese Alliansie (DA) getrek het.
Daarmee is die politieke kloof wat sedert die ontstaan van Afrikaans tussen wit en bruin in die Afrikaanse taalgemeenskap bestaan het, in ’n groter mate as ooit tevore uitgewis. Of dit ’n blywende tendens is, sal net die tyd kan leer.
Die tydperk 2004 tot vandag was dus een waarin die landspolitiek uitgekristalliseer het tot die potensiaal van ’n tweeparty-dominante stelsel, met die ANC en die DA wat teenoor mekaar stelling ingeneem het.
Op ekonomiese vlak het Suid-Afrika tot in 2007 gefloreer, en daarna die byt van die wêreldwye depressie beter as die meeste ander lande gehanteer. Op maatskaplike gebied is toelaes aan meer mense uitbetaal, wat die gevaar van ’n te groot belastinglas geskep het. MIV/vigs is van 2009 stewig getakel. In die Afrikaanse leefwêreld het die kunste ’n opbloei beleef, hoewel die taal se gebruik op amptelike terrein afgeskeep is.
Aan die einde van ’n woelige, vormende puberteit van storm en drang het Suid-Afrika op die drempel van ’n volwassenheid gestaan waarvan die presiese aard gevorm sou word deur sy mense, en die presiese aard eers in die volheid van die tyd duidelik sou wees.
– Die bostaande is 'n uittreksel uit Jan-Jan Joubert se nuwe Tafelberg-kortboek, Jonk en Krapperig: Suid-Afrika se Politieke Puberteit. Joubert is die politieke redakteur van die Johannesburgse dagblad Beeld. Hy lewer sedert 2001 verslag uit die parlementêre persgalery in Kaapstad. Klik hier om dié kortboek te koop.
Stuur jou kommentaar aan Jan-Jan
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.