Matig die kritiek op NG Kerk
2011-01-10 07:27
Onlangs was die NG Kerk onverwags in die nuus en dit het, van alle dinge, te doen gehad met die internasionale jeugkongres in Pretoria wat deur soveel wangedrag gekenmerk is.
Die kerk was ter sprake toe dit blyk, voor die toewysing aan die jeugfees, was die grootste geldtoewysing deur die Nasionale Lotery aan enige organisasie die toewysing ter ondersteuning van die NGK en die VGK se welsynswerk.
Daardie feit het my weer laat nadink oor die gewaarwording wat ek gehad het by die NGK se mees onlangse algemene sinode in Boksburg, en hoe verrassend positief die ervaring was.
’n Mens word deesdae taamlik toegegooi met mense se negatiewe ervarings van die kerk. Wanneer die kerk in die openbare diskoers ter sprake kom, vat dit nooit te lank nie vir iemand om hulle uit te kryt as ’n spul skynheiliges wie se tyd as instansie uitloop, en om sommer die destydse goedpraat van apartheid by te hark.
Wat ’n mens by daardie sinode, wat oor baie omstrede kwessies moes besluit, raakgeloop het, was ’n kruissnit mense wat regtig probeer het om besluite tot heil van die breër gemeenskap te neem.
Dit het soveel verskil van die beeld van hardvogtigheid wat gewoonlik opgetower word dat dit ’n mens regtig verstom het. Dit was daar dat ek bewus geraak het van die omvang van die kerk se welsynswerk en van hoeveel mense stil voortgaan daarmee terwyl kritiek op die kerk neerreën.
Terwyl baie van die kritiek op die kerk, wat tog per slot van rekening saamgestel is uit mense wat menslik sal fouteer, onverpoos voortgaan, is daar soveel weeskinders, swanger meisies sonder heenkome en veral arm gesinne wat sowaar nie sou oorleef het as die kerk nie sy welsynswerk gedoen het nie – veral nie met die voortgesette geploeter van staatskant nie.
Desnieteenstaande bly die kritiek op die kerk nogal erg. Nou, ek is geen teoloog nie en miskien gaan ’n mens in elk geval nooit hier op aarde uitvind wie van al die strydende teoloë (indien enige) reg is nie, so kom ons los daardie gebieker maar vir diegene met die selfvertroue om dit te takel.
Ek is voorts seker baie van die sterk menings oor die kerk se hardvogtigheid en voorskriftelikheid (veral in die apartheidstyd) is stewig gegrond, maar dit het, as buitestander tot die kerkpolitiek, vir my by daardie sinodesitting gelyk of dit nogal van gemeente tot gemeente verskil.
Daar was die gemeentes wat die kwesbares in die samelewing steeds geteiken het, maar hulle was ’n minderheid.
Dit was eerder verrassend hoeveel gemeentes kennelik veilige hawens was vir diegene vir wie die lewe miskien nie so maklik uitgewerk het as wat hulle aanvanklik gehoop het nie. Die mate van deernis vir ons gemeenskap se kwesbares was inspirerend.
Sulke steun van kwesbares is moontlik deur die meelewing en geldelike ondersteuning van derduisende gewone lidmate, en dit is miskien een van die groot onvertelde stories van ons land: Watter daaglikse en tasbare verskil daardie bydraes daagliks maak.
Dit is waar dat die NGK met ’n klomp dinge worstel en dat die kerk se geloofwaardigheid as interpreteerder van gebeure en rigter van reaksie miskien terminaal verwond is deur sy apartheidsverlede.
Die kerk maak uiteraard ook steeds foute, en dis veral in die onderlinge debatte dat ’n mens soms meelewing en deernis mis. Maar dalk is dit nodig dat ons, in ons beoordeling van die kerk, die klem elders plaas. Soos op die dominee in Centurion wat onlangs ’n bejaarde lidmaat besoek het wat vir hom gesê het sy stem is die eerste wat sy in twee weke in haar woonstel hoor behalwe haar eie.
Vir solank as wat die kerk ’n vriend vir bejaardes, ’n voeder vir hongeres en ’n helper vir weeskinders is, meen ek ’n mens moet, ondanks kritiek, erken dis die grootste welsynsorganisasie in die land en ’n slag bo die verlede uitstyg om die kerk se huidige rol te erken.
- Oorspronklik verskyn in Rapport
Stuur jou kommentaar aan Jan-Jan
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.