Hou Motlanthe dop dié jaar
2012-01-06 07:15
U ken seker die stukkie Afrikaanse spitsvondigheid waarin die baba-skilpadjie wat wil gaan swem aan die mamma-skilpad sê: “Hou my dop.”
In die politiek en veral in die ANC se magspolitiek as verraderlikste van Suid-Afrikaanse politieke strominge, is adj.pres. Kgalema Motlanthe vanjaar die man om dop te hou.
Vele in die ANC wil sien dat pres. Jacob Zuma om die partyleierskap uitgedaag word.
Die voorkeurkandidaat van die ontevredenes blyk Motlanthe te wees.
Daar is diegene wat sukkel om Motlanthe te peil. Sommiges verwys na hom as “die monnik van Centurion”.
Dit is omdat hy minder uitgesproke is as baie ander in die dag-tot-dag intriges wat alledaags in die hedendaagse ANC is.
Min sou egter verskil van die mening dat hy die sterkste kandidaat sou wees as Zuma vanjaar as ANC-leier onttroon sou word.
Motlanthe (62) is in die 1980’s op Robbeneiland aangehou nadat hy as lid van umKhonto weSizwe, die ANC se gewapende vleuel, aan terrorisme skuldig bevind is.
Daarna was hy tot 1997 verbonde aan die Nasionale Unie van Mynwerkers.
Hy het die leer in die ANC geduldig geklim en van 1997 tot 2007 as sekretaris-generaal van die organisasie gedien.
Uit dié geduldige benadering kan ’n voorspelling van sy gedrag vanjaar straks geput word.
In 2007 het hy onderleier van die ANC geword en vir ’n paar maande van Oktober 2008 tot April 2009 president van die land nadat die ANC oudpres. Thabo Mbeki teruggeroep het.
Met Zuma se verkiesing tot staatshoof in 2009 het Motlanthe, rustig soos altyd, sy plek as adjunkpresident ingeneem.
Daar is ’n paar dinge oor Motlanthe wat my beïndruk sedert ek nege jaar gelede die eerste keer die geleentheid gekry het om sy gedagtes te toets.
Destyds, in 2003, was sy grootste kommer ANC-leiers se liefde vir luukshede en vliegtuigreise. Hy het benadruk dat te veel ANC-ampsdraers kontak verloor met die aspirasies en lewenswêreld van die gewone landsburger. Wyse woorde!
As die land se president was hy nederig en toeganklik. Hoewel nie sonder foute nie, was hy beter ingelig en meer oortuigbaar as sy voorganger of opvolger.
As gewese staatshoof ontvang hy ’n ruim pensioen. Dat hy weier om boonop vergoeding as adjunkpresident te ontvang, strek hom tot eer en maak van hom ’n uitsondering, veral in ANC-kringe.
Tans staan hy aan die hoof van regeringsake in die parlement en kan hy lof neem daarvoor dat ministers hulle deesdae verwerdig om parlementêre vrae te antwoord - al neem dit te lank en al laat die antwoorde se peil soms veel te wense oor.
Alles is nie maneskyn en rosegeur nie.
Motlanthe steun die Wetsontwerp op die Beskerming van Staatsinligting en dis onduidelik of hy hy hom genoeg teen die vergrype op die hoogste vlakke van die ANC laat geld.
In teenstelling met Zuma se neiging om te swyg wanneer ’n ANC-lid verkeerd optree, was dit Motlanthe wat mnr. Julius Malema, die ANC-jeugleier, voor stok gekry het toe hy me. Helen Zille, die Wes-Kaapse premier, ’n kakkerlak genoem het, à la Rwanda.
Maar van Malema gepraat, hier is sy swak plek, want dis juis die Malema-brigade wat hom in Zuma se plek steun.
Die briljante rubriekskrywer Rykie van Reenen het in 1974 verwys na die skoonfamilie-beginsel in die politiek: dat jy by ’n politikus se goeie punte altyd ook slegte bagasie bykry: dis ’n pakket.
Motlanthe sal seker in Julie laat blyk of hy beskikbaar is. ’n Mens hoop hy voer sy veldtog op eie stoom, of wag vyf jaar tot Zuma moet uittree.
Dat Motlanthe ’n beter president as Zuma sal wees, kan min mense betwyfel.
Kom dit met Malema en Kie. as skoonfamilie/bagasie, is die prys egter te hoog.
– Oorspronklik verskyn in Beeld.
Stuur jou kommentaar aan Jan-Jan
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.