Oor ’n ystervrou en ’n kleiman
2012-02-01 07:25
As die Duitse kanselier, dr. Angela Merkel, die Ystervrou van Europa is, dan is pres. Jacob Zuma seker Afrika se Kleiman. Dis nou veral ná die mislukte poging om dr. Nkosazana Dlamini-Zuma tot die hoof van die Afrika-unie verkies te kry.
Dis nie heeltemal Zuma se skuld nie, maar eerder ’n gevolg van Suid-Afrika se kleierige verhouding met die res van die vasteland – baie liefde en oormatige versigtigheid van ons kant, teenoor ’n soort onwillige respek en plek-plek openlike agterdog en nydigheid (dink Wes-Afrika) noord van ons.
Dit lê waarskynlik aan die hart van Suid-Afrika se onsekere en verwarrende rol op die vasteland.
Nie almal hou van haar nie, maar Merkel blyk die onbetwiste (onverkose) leier van die beleërde ou imperiale moondhede te wees. Die Franse president, Nikolas Sarkozy, probeer hard om homself te laat geld, maar dit is Merkel wat in hierdie tye van krisis die pas aangee.
Dit maak sin. Duitsland het die grootste en sterkste Europese ekonomie en het in Merkel ’n leier wat klaarblyklik die juk van haar land se onlangse vernietigende verlede afgeskud het, sonder om onsensitief daaroor te wees.
Duitsland gee leiding en is nie skaam om bitter medisyne voor te skryf en daarop aan te dring dat siek Europese lande dit sluk nie. Merkel steur haar klaarblyklik nie aan gewildheid in Europa nie. Vra maar die Grieke.
Sy herinner baie aan Margaret Thatcher. Dis wat mense soek – leierskap in die oomblik van krisis.
Daar is baie ooreenkomste tussen Europa en Afrika. Albei vastelande ervaar krisisse wat die kiem van vernietiging en ondergang dra. Afrika se probleme en uitdagings strek terug na die gloriedae van uhuru. Europa het uit die vernietiging van twee wêreldoorloë herrys as ’n leidende vasteland, maar het stelselmatig verkalk en bes gegee aan Amerika en (deesdae) China.
Die uitsondering is Duitsland, wat wonderbaarlik uit die as van die Tweede Wêreldoorlog opgestaan het en vandag die leidende Europese land is – om die regte redes. Duitsland het sy derde kans op herstel ten volle benut en bevind hom nou weer, ongemaklik so, in ’n posisie van leierskap.
Daar is ook tentatiewe raakpunte tussen Suid-Afrika en Duitsland. Suid-Afrika is die leidende Afrika-land. Hy het die grootste en veerkragtigste ekonomie – selfs in die heersende globale ekonomiese krisis. Hy is Afrika se leidende demokrasie met ’n grondwet wat met die bestes vergelykbaar is. (Ongelukkig, moet erken word, is ons deesdae besig om daarmee te mors.)
Op byna alle vlakke en in alle sfere is Suid-Afrika die res van die vasteland voor. Die wêreld kyk na Suid-Afrika vir leiding op die vasteland, maar vanweë ons verlede is dit nie ’n rol waarmee ons gemaklik is nie.
Dit het in ’n groot mate te doen met Afrika se ondersteuning tydens die bevrydingstryd, ’n kwessie waaroor onder die regerende elite groot waardering en sensitiwiteit is.
Dit maak Suid-Afrika ’n onwillige leier in Afrika.
Die Afrika-unie in sy huidige gewaad is deur Suid-Afrika en meer spesifiek oudpres. Thabo Mbeki geïnspireer.
Dlamini-Zuma, toe nog minister van buitelandse sake, het die prosesse gedryf wat in 2002 tot die stigting van die AU in Durban gelei het. Sy is die ideale kandidaat om die AU te lei en hom tot sy volle reg te help kom, maar het misluk juis omdat haar land verkies om van agter te lei, eerder as van voor.
Dit is nóg in Suid-Afrika nóg in Afrika se belang.
Wat Afrika nodig het, is ’n Merkel-moment. Net ’n minder skugter Suid-Afrika kan dit laat gebeur.
- Henry Jeffreys is ’n onafhanklike kommentator.
- Oorspronklik verskyn in Die Burger
Stuur jou kommentaar aan Henry
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.