Ons het ’n plig om vir die Grondwet te veg
2011-10-05 07:23
Pres. Jacob Zuma se aanstelling van regter Mogoeng Mogoeng as hoofregter word steeds in baie kringe beskou as ’n nie so subtiele skuif deur die ANC om die konstitusionele hof onder politieke beïnvloeding te bring en die skeiding van magte tussen regeringsvlakke te verwater of selfs te ondermyn.
Dit is geen geheim nie dat daar in die ANC elemente is wat die howe, en veral die konstitusionele hof, met groot agterdog en openlike vyandigheid bejeën. Dit is waarskynlik een van die redes waarom adjunk-hoofregter Dikgang Moseneke, wat by uitstek die ideale opvolger vir oud-hoofregter Sandile Ngcobo moes wees, vir die soveelste keer met politieke koudbloedigheid oor die hoof gesien is.
Mogoeng is nou in die onbenydenswaardige posisie waar elke beweging wat hy maak, elke woord wat hy uiter, gemeet gaan word aan die maatstaf van politieke dienstigheid. Hy het dienstig sy bed gemaak en moet daarin slaap. Dat dit nie vir hom maklik gaan wees nie – veral nie wat betref sy mede-broers en -susters op die bank nie – is onderstreep deur die toespraak wat Moseneke verlede week in Kaapstad gelewer het oor die plek van die Grondwet in verhouding met die regering.
Mogoeng se aanstelling het dié vraag geopper: Wat nou vir Moseneke? Uit verlede week se toespraak kan afgelei word dat hy nie sommer gaan lê en wag op aftrede nie.
Moseneke sal dit seker nooit self sê nie, maar hy het ’n skoot oor die boeg van die uitvoerende gesag gevuur met dié ondubbelsinnige boodskap: Die Grondwet is nie ’n verhandelbare kommoditeit nie, en hy wat Moseneke is, sal sy deel doen om te verseker daar word gehou by die koers wat die land in 1996 ingeslaan het.
Terloops, dit sal – bloot uit joernalistieke nuuskierigheid – nogal interessant wees om te weet of die hoofregter insae in sy adjunk se toespraak gehad het en, indien wel, wat hy daarvan dink. Hoe ook al, waar Moseneke oor die Grondwet in verhouding met die res van die staatsbestel staan – veral die uitvoerende en die wetgewende gesag wat in ’n nouer politieke verband met mekaar omgaan – behoort nou vir Mogoeng duidelik te wees.
Moseneke kon dit nie duideliker stel nie. Die Grondwet is die hoogste regsgesag in die land en die konstitusionele hof die finale vertolker daarvan. Nie die regerende party nie (hoe groot ook al die mandaat by die stembus) en nie die parlement nie (hoe groot ook al die meerderheid van die regerende party).
Hy verwerp die persepsie, wat klaarblyklik diep geanker is in die psige van invloedryke ANC-leiers – dink maar aan hoofsekretaris Gwede Mantashe, jeugleier Julius Malema, en dalk die president self – dat grondwetlikheid per se neerkom op die beperking van regeringsmag. Hy beskou dit as nie net misleidend nie, maar ook gevaarlik.
Mantashe het regters van die konstitusionele hof al teen-revolusionêre genoem. Malema dra sy bepaalde minagting van die howe soos ’n medalje van verdienste. Zuma, die politieke leier belas met die taak om die Grondwet tot elke prys te beskerm, versuim klaaglik om ondermynende uitsprake van sy kamerade – soos bogenoemde twee – te repudieer.
Dan is daar sy aanstelling van Mogoeng wat min of meer binne die reëls geskied het, maar eenvoudig te veel kommerwekkende vrae onbeantwoord gelaat het.
Moseneke se toespraak behoort ’n wekroep te wees vir ons, die gewone burgers in wie se naam die Grondwet geskryf en aanvaar is. Dit staan in die aanhef tot die Grondwet: “Ons die mense van Suid-Afrika...” In óns naam het die grondwetskrywers dit ondubbelsinnig gestel: “...(Ons) glo dat Suid-Afrika behoort aan almal wat daarin woon, verenig in ons verskeidenheid...” En verder aan: “...(daarom) neem ons deur ons vryverkose verteenwoordigers, hierdie Grondwet aan as die hoogste reg van die Republiek...”
Ons het dus die burgerlike plig om die Grondwet en alles waarvoor dit staan te beskerm en selfs daarvoor te veg as dit nodig is. Ons moet die standpunt wat Moseneke so standvastig, elegant en oortuigend artikuleer, aktief ondersteun en verkondig. Nie vir eng, individuele of sektariese belange nie, maar vir die welstand van die uiters belangrike groter geheel.
- Henry Jeffreys is ’n onafhanklike politieke rubriekskrywer en kommentator.
- Oorspronklik verskyn in Die Burger
Stuur jou kommentaar aan Henry
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.