'n Ander dimensie
2010-12-08 09:03
Die wetenskap se beste en slimste dikbril-manne worstel nou al ‘n hele paar jaar met een fassinerende probleem:
Die wêreld om ons kan beskryf word op een van twee maniere: Eerstens kan ons kyk na die heelal op ‘n groot skaal – hoe sterre vorm, hoe die konsep van ruimte/tyd werk, hoe swart gate (black holes) werk. Hierdie grootskaalse wêreld is die soort van realiteit wat Einstein met soveel sukses beskryf het toe hy sy teorie van algemene relatiwiteit neergepen het.
Tweedens kry ‘n mens die wêreld van kwantumfisika: ‘n wêreld waar piepklein partikels en golwe die dans van die lewe doen op maniere wat ons nou eers begin verstaan. Dis die wêreld van protone, neutrone, gluone; ‘n wêreld van eksotiese partikels wat só piepklein is, dat dit soms byna onmoontlik is om te bevestig dat dit wel bestaan.
Maar daar is ‘n probleem: Die wiskunde wat ons gebruik om die wêreld op klein skaal te verduidelik, en die wiskunde wat ons gebruik om die wêreld op groot skaal te verduidelik, klop eenvoudig nie met mekaar nie. Daar is 'n reusegaping wat selfs ons slimste slimkoppe eenvoudig nie kan verduidelik nie. Wanneer jy die wiskunde van die kleine neem (soos byvoorbeeld gebruik word in kwantumfisika) en dit toepas op die enorme (soos byvoorbeeld swart gate), is die antwoorde betekenisloos. Om dit eenvoudig te stel: Die wiskunde werk nie. Iewers skiet ons kennis dus tekort.
So het daar in die laaste paar jaar ‘n soeke ontstaan na ‘n “Teorie van alles”. Één wiskundige model wat gebruik kan word om die wêreld van die kleine, en die wêreld van die enorme, met mekaar te kan versoen. Een volledige model wat mooi netjies vir ons verduidelik hoe alles in die heelal werk – van die kleinste partikels tot die grootste sterrestelsels.
Een van die interessantste pogings om met so ‘n “Teorie van alles” vorendag te kom, is die sogenaamde snaarteorie (string theory). Snaarteorie is beslis nie die soort van konsep wat ‘n mens in ‘n paar kort sinne saamvat nie. Die maklikste manier om dit te verduidelik is om te sê wetenskaplikes vermoed die mees basiese boustene van alle materie is klein snaartjies, of stringetjies, wat op unieke maniere "vibreer".
Maar wetenskaplikes wat hulle besig hou met snaarteorie sukkel met 'n tergende raaisel: Waar gewone wiskundiges werk met vier dimensies (wydte, hoogte, diepte, en 'n vierde dimensie, tyd), werk die meeste voorstanders van snaarteorie se somme net uit as daar voorsiening gemaak word vir soveel as 11 dimensies! Die somme maak eenvoudig nét sin wanneer daar vir 'n hele paar "ekstra dimensies" voorsiening gemaak word.
Natuurlik is die gedagte aan "11 dimensies" vir die meeste van ons (almal van ons?) betekenisloos. Ons kan ons nie voorstel hoe dit sou lyk, of wat dit sou beteken nie. Maar dit skep 'n baie interessante probleem. Want dit sou beteken dat daar "ander dimensies" in die heelal is wat eenvoudig nie vir ons waarneembaar is nie – ten minste nie met ons gewone sintuie nie.
Dus: die potensiaal bestaan dat ons op die oomblik eintlik net toegang het tot 'n baie klein deel van wat 'n mens kan beskou as "realiteit".
Baie keer lees ek oor snaarteorie, en die implikasies daarvan, en dink dan onwillekeurig aan die manier waarop sommige mense glo hulle het alle kennis in pag. Ek loop hulle baie raak in forums en op blogs. Die soort wysneuse wat lag vir mense wat dieper vrae oor ons bestaan vra, en wie se hele siening van die wêreld gebaseer is op watookal die jongste wetenskaplike sienswyse is. Mense wat só seker is dat hulle "weet hoe die wêreld werk" dat hulle ander se verduidelikings afmaak as onsin, maar gerieflikheidshalwe vergeet dat wetenskaplike teorieë uit die aard van die saak met tyd verander of heeltemal uitgegooi word.
Kyk na die wêreld om jou. Die Groot Hadron-deeltjieversneller het pas begin werk, en stel ons in staat om eksperimente te doen wat 5 jaar gelede net 'n droom was. Teen Junie 2014 stuur ons die James Webb-teleskoop die ruimte in, wat veel verder gaan sien as wat ons tot nou toe met die Hubble-teleskoop kon kyk, en wat sonder twyfel weer ons begip van die heelal gaan herdefinieer.
Die slotsom is logies: Oor die volgende 100 jaar gaan ons begrip van die heelal en realiteit nog talle omwentelings ondergaan.
Hou vas aan wat jy weet. Deel jou kennis. Maar wees verseker dat jou wêreldbeskouïng oor 100 jaar in alle waarskynlikheid vir die meeste mense lagwekkend gaan wees.
Daar is baie, baie meer aan die wêreld as wat ons besef. Jy sou dom wees om daardie feit te ignoreer.
– Heinz Oldewage is gemeenskapsredakteur van Nuus24. Volg hom op Twitter.
Stuur jou kommentaar aan Heinz
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.