Woorde is nie genoeg nie
2010-11-23 08:01
Ek speel elke dag met woorde. Van vroeg soggens, wanneer ek op Twitter kuier en op blogs kommentaar lewer, tot laat in die aand, wanneer ek sweet oor rubrieke soos dié.
Soos ‘n gladdebek advokaat in ‘n moordsaak weeg ek hulle een vir een op vir maksimum effek in die hoop dat die regte sinsnede hier, of ‘n goeie kwinkslag daar, my standpunt op ‘n vars manier sal oordra.
Maar soms – net soms – het ek geen woorde nie.
Want partykeer is die waarheid so skrikwekkend, so ontstellend, so onverwags, dat ek stik in die adjektiewe, en my slim sêgoed bloot belaglik lyk. Partykeer is woorde oorbodig, onvanpas, onbenullig.
Só voel ek gister terwyl ek ietwat onentoesiasties deur ‘n nuwe verslag van die wêreldgesondheidsorganisasie lees. Die onderwerp van dié verslag: gesondheidsorg. Dis een van daardie vervelige persverklarings wat ongemerk verbygaan sonder dat enigiemand eintlik daaraan aandag gee. Maar die bevindings van dié verslag laat my behoorlik regop sit.
Die feite word een vir een gestel. Saaklik. Klinies:
Van die $5.3 triljoen wat die wêreld elke jaar op gesondheidsorg spandeer, gaan sowat $300 miljard (ietwat meer as R2 triljoen) verlore weens korrupsie en wanbestuur, lui die verslag.
Sowat ‘n kwart van die geld wat regerings gebruik “om medisyne te koop” verdwyn in die agtersakke van korrupte amptenare of word vermors op ander aankope.
En weereens is dit die armste onder armes wat die swaarste trek: Ten minste die helfte van mediese toerusting in arm lande is onbruikbaar – en soms staan die toerusting heeltemal ongebruik, hoofsaaklik weens ‘n tekort aan personeel. Die meeste van die mediese toerusting wat byvoorbeeld ná 2009 na die Gaza-strook versend is, staan vandag en stof vergaar in pakhuise.
Kortweg gestel: Grootskaalse korrupsie en apatie op ‘n globale vlak ontneem miljoene (die wat dit die heel nodigste het) van goeie gesondheidsorg en die kans op ‘n goeie lewensgehalte.
Ek het nie woorde nie.
Wat sê ‘n mens in elk geval in antwoord op dié realiteit? Hoe reageer jy op ‘n sinvolle manier op die feit dat selfsug en inhaligheid só ‘n groot stempel afdruk op die een bedryf in die wêreld wat die welstand van miljoene mense bepaal?
Is dit ‘n leierskapprobleem? Seker. Everything rises and falls on leadership, sê die leierskap-ghoeroe John Maxwell gereeld, en dié sinsnede is duidelik hier van pas. Want dié gesondheidsverslag is ‘n sprekende voorbeeld van wat gebeur wanneer oneerlike en integriteitlose leiers amok maak, of bloot agteroor sit.
Maar dié probleem het ook dieper wortels. Want is dié verslag nie maar net ‘n kommentaar op die menslike toestand nie? Is die paar ekstra sent wat ek onregmatig by die belastingman eis en die miljoene wat die staatsamptenaar in die DRK in sy agtersak steek nie een en dieselfde nie? Dis immers net ons vlak van invloed wat verskil.
Ek weet nie. Ek weet eerlikwaar nie.
Want wanneer ek verslae soos dié lees, het ek eenvoudig nie woorde nie.
Nie eers ‘n slim kwinkslag of twee vir my slotsin nie.
– Heinz Oldewage is gemeenskapsredakteur van Nuus24. Volg hom hier op Twitter.
Stuur jou kommentaar aan Heinz
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.