Wat weet ons regtig?
2010-09-01 08:21
Miskien is jy oud genoeg om die jaar 1960 te onthou.
Jy onthou dit moontlik as die jaar wat Hendrik Verwoerd so byna-byna doodgeskiet is. Of as die geboortejaar van die Beatles. Die eerste CERN-deeltjieversneller het in werking getree in Switserland. Ben Hur het ‘n rekord-hoeveelheid Oscars ingepalm.
Maar ‘n ander geskiedkundige gebeurtenis het in 1960 plaasgevind – een wat min mense vandag onthou.
In dié jaar het die Trieste, ‘n Switsers vervaardigde duikboot, met ‘n bemanning van twee, in vier uur en 48 minute tot ‘n diepte van 11 kilometer gedaal tot op die bodem van Challenger Deep, die diepste punt in die see, in die Stille Oseaan se Mariana-trog.
Die bemanning, Don Walsh en Jacques Piccard, het skaars 20 minute op die seebodem spandeer voor hulle weer die lang tog na die oppervlak aangepak het.
Dit was ‘n historiese oomblik; nog ‘n mylpaal in die mens se geskiedenis.
Vandag vier ons egter nie dié oomblik as ‘n triomf vir die mensdom nie. Die rede? Want dit was die laaste keer wat ‘n mens ooit die diepste punt van ons oseaan bereik het.
In die vyftig jaar sedert dié historiese poging kon niemand weer daarin slaag om Challenger Deep met ‘n bemande vaartuig te bereik nie.
Kortweg gestel – daar was al veel meer mense in die ruimte as op die diepste bodem van ons eie see.
Dié feit is ‘n ongelooflike en byna ondenkbare werklikheid. Want in ‘n era wat as’t ware gebou is op menslike kennis is die Trieste-sending ‘n pynvolle herinnering aan die realiteit dat ons, ten spyte van al ons insig en ontdekkings, nog nie eens behoorlik weet wat op ons eie planeet aangaan nie.
Ja, ons wens onsself gereeld geluk met die diepte en breedte van ons kennis en die tegnologiese vooruitgang wat dit moontlik maak. Ons genereer vyf eksagrepe data elke twee dae – ‘n ongelooflike hoeveelheid inligting. Ons rekenaars se breinkrag groei eksponensiëel. Ons span mikroskopiese nanotegnologie in en bou mega-vliegtuie. Ons stuur satelliete die ruimte in en gebruik teleskope om die geheime van die kosmos bloot te lê. Ons is inderdaad die meesters van die heelal.
Maar dis maklik om so opgewonde te raak oor alles wat ons weet, dat ons vergeet dat ons kennis op soveel terreine nog ver tekort skiet:
Ons het die menslike genoom ontsyfer, maar ons kan nie ‘n gewone verkoue keer nie.
Ons het die makro-wêreld van astrofisika en die kwantum-wêreld van partikels onder die knie, maar selfs ons grootste denkers kry nog hoofpyn wanneer hulle hierdie twee wêrelde met mekaar moet versoen.
Ons kan die ontwikkeling van die heelal terugvolg tot by die oorsprong van tyd, maar die donker materie en energie waaruit tot 95% van die kosmos bestaan bly steeds ‘n onoplosbare raaisel vir die slimstes onder die slimmes.
Ons kan die weer voorspel, maar ons kan nie die natuur tem of teen haar aanslae bly staan nie.
Ons kan met ons slimfone in kontak bly met vriende aan die ander kant van die wêreld, maar is oënskynlik nie slim genoeg om ‘n wenresep vir menslike verhoudings neer te pen nie.
Ons is slim, maar ons is dom.
So nou en dan, wanneer ek vasgevang raak in die euforie van tegnologiese voortuigang en myself verwonder aan die mens se wetenskaplike kennis, lees ek weer die storie van die Trieste en Challenger Deep. En dan onthou ek: Ons onkunde strek verder as wat ons besef.
Ja, ons sal in die toekoms nog baie raaisels oplos en ontdekkings maak. Maar die geskiedenis leer ons dat elke vraag wat ons beantwoord, ‘n string nuwe vrae na vore bring.
En dis goed so. Want daar is ‘n skoonheid opgesluit in die misterie van die wêreld om ons.
Laat ons nie vergeet van ons beperkinge nie. Want daar’s niemand so dom soos iemand wat dink hy’s slim nie.
– Heinz Oldewage is gemeenskapsredakteur van Nuus24.com. Lees hier meer van sy rubrieke, of volg hom op Twitter.
Stuur jou kommentaar aan Heinz
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.