Só maak jy 'n verskil met R50 en vier croissants
2011-03-18 08:54
Presies 'n week gelede ruk ‘n aardbewing Japan en skud die mensdom uit ‘n diep slaap wakker.
Niks soos ‘n natuurramp op ‘n reuseskaal om jou te herinner dat die wêreld eintlik nie om jou eie klein bestaan draai nie, en wanneer mense in hul duisende in ellende vergaan het dit immers ‘n manier om jou vir ‘n slag verby die grense van jou eie beperkte wêreldjie te laat kyk ander se nood raak te sien.
“Hoe kan ons help?” verwoord iemand vroeër in die week talle mense se gedagtes in ‘n brief aan Nuus24. En teen Dinsdag begin die eerste berigte instroom van mense en organisasies wat uit hul pad gaan om uit te help. Spesiale trustrekenings. Noodsendings. Boodskappe van medelye. Liefdadigheids-webwerwe.
Terwyl die wêreld grootse planne maak om in te gryp en uit te help, voel ek toenemend magteloos. Hierdie maand se begroting laat nie toe vir 'n reuse-skenking nie. Die maatskappy gaan my beslis nie stuur om vir 'n maand in Japan te gaan reddingswerk doen nie. En ek het eenvoudig nie die tyd om 'n red-Japan-webwerf op die been te bring nie.
Dis tóé wat ek onwillekeurig aan ‘n goeie vriend van my dink.
Met 'n Blackberry in die linkerhand en gebruikte U2-kaartjies in sy jeans se regtersak sal jy hom waarskynlik nie tussen 'n duisend voorstedelike juppies kan uitken nie. Maar Brad is alles behalwe jou gemiddelde twintiger.
Só besef ek weer 'n paar weke gelede toe ek en Brad voor werk 'n vinnige koffie gaan afsluk by 'n kuierplek met 'n uitsig langs Muizenberg se strand. Dié tyd van die oggend is dit moeilik om té vêr te kom sonder om gepla te word deur ‘n bergie op die uitkyk vir ‘n handout, maar ons maak dit nietemin gou tot by die koffiewinkel en kuier lekker.
Na 'n driekwartuur of so se gesels oor ons planne vir die jaar betaal ons die rekening vir ons cappucinno’s en begin aanstaltes maak. Die werk wag, en ons het albei 'n vol dag wat voorlê.
By die toonbank naby die uitgang steek Brad egter vas. Dit neem my 'n sekonde of twee, maar toe ek die varsgebakte croissants in die rak voor die venster sien – sulke knewels met gesmelte sjokolade wat daaruit drup – besef ek hoekom hy soos 'n steeks donkie vasskop.
Met doelgerigte vasberadenheid kies hy vier van die grootstes uit, en die dame agter die toonbank stapel dit met ‘n glimlag in 'n klein wit kartondoos. Ek wil nog aanbied om te betaal, maar Brad beklink die transaksie met 'n vinnige swiep van sy bankkaart. R50.
Ek maak my gereed om hom hartlik te bedank vir sy goedhartige bydrae tot my Vrydagoggend, en kan al die sjokolade in my keel voel afgly – maar dis eers toe ons in die straat na ons motors afstap wat ek besef Brad het ander planne met die croissants.
Halfpad op pad na die parkeerterrein steek hy vas. ‘n Bergie en ‘n tandlose boemelaar verskyn asof uit die niet.
Brad roep hulle nader, en oorhandig die kartondoos met croissants sonder seremonie.
Die bergie glimlag van oor tot oor. Die boemelaar lek sy lippe af. In ‘n paar sekondes is die hele affêre verby.
‘n Mooi gebaar, dink jy dalk. Oulik, selfs. Dis nie aldag wat iemand na ander uitreik nie.
Maar Brad is 'n bietjie anders as die gewone barmhartige Samaritaan. Vir Brad is dié soort ding 'n lewenstyl.
Sien, dis nie die eerste keer wat Brad dié truuk trek nie. Inteendeel, ek ken min mense wat só graag na hulle medemens uitreik soos hy.
Só word ons byvoorbeeld ‘n ruk gelede na sy verjaardagpartytjie uitgenooi. Moenie ‘n geskenk bring nie, vra Brad in die uitnodiging. Doen of gee eerder iets spesiaals vir ‘n vreemdeling, en skryf in ‘n verjaardagkaartjie wat jy gedoen het.
Die aand by die partytjie word een kaartjie na die ander voorgelees, en ek staan stilweg verstom oor die manier wat ‘n gewone groep jongmense uit hul pad gegaan het om uit te reik na ander.
Daardie aand glip ek op pad huis toe ‘n Switchfoot-album in die CD-speler. Jon Foreman se stem dring tussen die brullende kitare tot my deur:
I wanna live and die for bigger things.
I’m tired of fighting for just me.
Wat kos dit om die wêreld te verander? Om vir meer te lewe as net jouself? ‘n Kaartjie na Japan? ‘n Ruim bydrae tot ‘n reddingsfonds? ‘n Jaar se diens in die Rooi Kruis?
Vir Brad kos dit R50 en vier croissants. Of 'n sak groente vir iemand wat nie het nie. Of 'n saamrygeleentheid vir 'n vreemdeling.
'n Lewensuitkyk wat deurentyd fokus op ander eerder kos nie te veel nie.
Ek dink aan Brad, en skielik lyk dit nie meer so moeilik om 'n verskil te maak nie.
– Heinz Oldewage is die nuusredakteur van Nuus24. Volg hom hier op Twitter.
Stuur jou kommentaar aan Heinz
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.