Ontkenning kos die meeste
2011-05-13 08:31
Aan mense met probleme is daar op hierdie aarde beslis nie ‘n tekort nie. Dít het ek sommer vroeg in my lewe al besef – miskien omdat ek in ‘n pastorie grootgeword het en dit juis dié verlore siele was wat te enige tyd van die dag of nag by my ouers kom aanklop het.
Daar was die alkoholiste met leë oë en leër huise. Druggies met naaldmerke en gesonke wange. Paartjies wat vasklou aan die laaste strooihalms van ‘n huwelik wat lank reeds dood is.
Nie juis die soort probleme wat jy met ‘n drankie langs die braaivleisvuur deurpraat nie.
Dis ook in dié tyd wat ek sommer gou geleer het jy kry twee soorte mense: Daar is dié wat erken hulle het ‘n probleem; en dié wat dit met alle geweld ontken.
Eersgenoemde het ‘n daadwerklike kans om hulle probleme te oorkom. Vir die tweede groep is daar nie veel hoop nie.
Dis teen dié agtergrond wat ek gister ’n berig deurkyk oor ‘n verdoemende verslag deur die nasionale tesourie wat handel oor die gevolge van swak munisipale bestuur. Dié verslag bevat besonderhede oor ‘n lang lys probleme op plaaslike regeringsvlak, onder andere ongerymdhede met die toekenning van tenders en kontrakte, swak verslagdoening deur munisipaliteite, en algemene minagting van die wette waaraan plaaslike regerings moet voldoen.
Lees jy deur die lys probleme, word die omvang daarvan sommer gou duidelik: Ongemagtigde en vermorste besteding het binne drie jaar verander van ‘n ongemaklike werklikheid tot ‘n enorme verleentheid. Waar dit in 2008 net by 13% van munisipaliteite ‘n faktor was, is dit tans by 63% ‘n probleem.
Selfs meer kommerwekkend is die tesourie se verduideliking dat amper 70% van verslagdoening deur munisipaliteite oor besteding “nie bruikbaar” is nie. In leketaal beteken dit doodeenvoudig dat goed soos ouditverslae en terugvoer oor besteding nie die papier werd is waarop dit uitgedruk is nie. G’n wonder provinsiale regerings moet by 68% van munisipaliteite ingryp om leiding te verskaf nie.
Die uiteinde van dié hartseer verhaal? Uit 237 munisipaliteite het 210 wette met betrekking tot kontrakte aan diensverskaffers oortree.
Net soos die meeste Suid-Afrikaners vind jy dié feite waarskynlik ontnugterend, selfs skokkend. Maar dis nie die verslag self wat my twee keer laat lees het nie. Dit is die reaksie op die verslag wat my die meeste getref het. Die rede vir my verbasing? Die tesourie is glo gevra om die verslag te “herverpak”.
Dit beteken dat beeldpoetsers die meer ontstellende feite in dié dokument sal herskryf op ‘n manier wat beter op ons land se leierskap reflekteer.
Dis juis dié eienaardige versoek wat my laat terugdink het aan die druggies van destyds; die alkoholiste wat met drank aan die asem steeds geweier het om te erken dat hulle besig is om die stryd te verloor. Wat strompel-strompel mooi praatjies gemaak het en gevolglik nooit die durf gehad het om hulle probleme te takel nie omdat hulle in die eerste plek nie wou erken hulle het daaronder gely nie.
Wanneer die beeldpoetsers ingeroep word kyk ons leierskap natuurlik een baie belangrike feit mis: Wat Suid-Afrikaners in hierdie stadium vra (veral met die plaaslike verkiesings om die draai) is nie 'n foutlose, vlekkelose beeld van die stand van sake in ons land nie. Ek en jy weet albei ons word deur groot uitdagings in die gesig gestaar. Selfs dié van ons wat in wese positief is oor die toekoms van ons land besef daar is ernstige kwessies wat dringend aandag moet kry.
Wat ons egter wel nodig het is 'n eerlike opsomming van ons probleme, en 'n weldeurdagde aksieplan wat verduidelik hoe ons dié probleme gaan oorkom. Sonder dié moeilike maar nodige stap is ons op pad na nêrens.
Ek skryf dié stuk nie om doemprofeet te speel nie. Inteendeel, ek, my kollegas, vriende en familie is steeds opgewonde oor die toekoms van ons land.
Maar vandag, meer as ooit, staan een feit soos 'n paal bo water: Oneerlikheid is 'n luukse wat ons nie meer kan bekostig nie. Want ontkenning kos altyd die duurste.
– Heinz Oldewage is nuusredakteur van Nuus24. Jy kan hom hier volg op Twitter.
Stuur jou kommentaar aan Heinz
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.