Om deur die blou te sien
2011-05-30 08:09
Die wat my ken weet my hart het nog altyd maar na die see getrek.
Só onthou ek vandag nog hoe die warm sand onder my voete gevoel het wanneer ek as vyfjarige met oop arms so vinnig as my bene my kon dra tot in die wit water gehardloop het. Hoe ek nie kon wag om kop eerste in die helder blou branders neer te plons nie. 'n Towerwêreld wat my in my onskuld met oop arms verwelkom het.
Destyds was dit 'n seldsame gebeurtenis – miskien een of twee keer per jaar wanneer ons in Durban by Oupa en Ouma gaan uitspan het. Maar dit was altyd ‘n belewenis. Terug in die binneland het ek die dae en maande sedert ek laas in die branders baljaar het afgetel in die stille hoop dat dit nie te lank sou wees voor ek dit weer geniet nie.
Ná skool het ek, soos beplan, sommer vinnig na meer geleenthede begin soek om kuswaarts te keer. Aan die einde van matriek, toe die res die pad na Margate vat, het ek 'n rugsak gepak en kuslangs, sommer so op my eie, van Plett tot Mosselbaai geloop. Nie te lank daarna nie is ek sak en pak Tuinroete toe.
Dit was eenvoudige tye. Die see was helderblou; die pad wat voor my uitgestrek was, het gesmeek om verken te word. Ek het die antwoorde vir die lewe se vrae op die punte van my vingers geken, en die wêreld se diepste geheime het so duidelik ontbloot gelê soos die gloei van die glimmende son op die gladde water.
Dis eers heelwat later wat ek die eerste keer die grys in die branders gewaar het. Wat ek bewus geword het van daardie diep, grou skakering wat na vore kom wanneer die stormwolke saampak en skippers met sin die beskerming van die hawe opsoek.
Ek onthou nog die eerste keer wat ek haar so gesien het. Hoe ek ademloos teruggedeins het terwyl sy haar woede op die rotse uitslaan; terwyl die aarde skud en die reën in vlae neergiet. Hoe enorme mure water oor die dolosse gebars het en gedreig het om my van my voete af te slaan en die dieptes in te sleep.
Só het die helderblou, speelse golfies deur die jare plek gemaak vir 'n formidabele diepblou massa. ’n Ondeurdringbare, ongenaakbare mag wat selfs ervare vaarders soms teen die rotse kon verpletter. Soos soveel verkenners voor my het my grootoog-verwondering mettertyd plek gemaak gemaak vir respek; bewondering; miskien selfs vrees.
Soms het ek vir ure lank van die hawemuur af gestaan en kyk hoe ligstrale die donker massa van tyd tot tyd deurskiet. Dan was alles helder, en die duister dieptes vir enkele oomblikke ‘n vriendelike wonderwêreld. Die meeste van die tyd kon ek egter net wonder oor die onpeilbare misterie van die water onder my. Soms het ek vroegoggend uitgevaar met die wind van agter – net om in die namiddag met stukkende seile hulpeloos rond te dobber met die wete: ook ék is aan haar genade uitgelewer.
Vandag, ‘n paar jaar ouer en nie veel wyser nie, volg ek elke aand, sonder uitsondering, 'n eenvoudige ritueel. Dis die laaste ding wat ek doen voor ek slaap, of dit nou tienuur in die aand of twee-uur in die oggend is:
Ek maak ons kamervenster oop; voel hoe die koue lug oor my gesig spoel.
Dan luister ek aandagtig na die ritmiese klank van die see wat nie te ver van my huis af nie op die strand uitspoel.
Soms is dit ‘n speelse ritme wat my rustig stem; ander kere ‘n reeks donderende slae wat dreig om al wat leef en beef mee te sleur.
Dan lê ek terug op my kussing, dink aan die diep, grys geheimenis, en droom van die dae wat ek nog deur die blou kon sien.
– Heinz Oldewage is nuusredakteur van Nuus24. Jy kan hom hier op Twitter volg.