In 'n oogwink
2011-07-06 08:29
Verlede week, in 'n klein kamer iewers in Constantia, het my lewe onherroeplik verander.
Sommer so. In ‘n oogwink.
Moet my nie verkeerd verstaan nie: ek is nie die soort wat bokspring oor elke nuutjie of ervaring nie. Ek besing nie die lof van elke nuwe uitvindsel nie en verveel mense nie sommer met relase oor my jongste insigte in die lewe nie (ahem... ek dink nie so nie?).
Inteendeel: my lewensuitkyk getuig van 'n gesonde dosis skeptisisme. Borderline cynic, sê my Facebook-profiel. Die meeste mense wat my ken sou sê dis 'n raak beskrywing.
Soms het die lewe egter ‘n manier om jou onkant te vang. Om jou aan die kraag te gryp en ‘n oorveeg of twee te gee; om jou miskien sagkens in 'n nuwe rigting te druk; of dalk onverwags jou voete onder jou uit te slaan. En dan, wanneer alles weer in fokus kom, lyk die wêreld heeltemal anders.
Dis dáárdie oomblik wat jy besef dinge sal nooit weer dieselfde wees nie.
Soos verlede week, in ‘n klein kamer iewers in Constantia.
Ek kan die toneel goed othou: 'n klein vertrekkie met 'n plat, dun bedjie aan een kant, 'n enorme rekenaar in die hoek en 'n platskerm-televisie teen die muur.
Die dokter het ons ingenooi, oor ditjies en datjies gesels, en toe 'n paar standaard-vrae gevra. Ons moes reg geantwoord het, want dok het hoogs tevrede gelyk.
Ná wat soos ‘n ewigheid gevoel het kon ons uiteindelik aanbeweeg na die eintlike rede vir ons besoek.
Dok het ‘n apparaat uitgepluk wat herinner aan iets wat jy in 'n wetenskapfiksiefliek sal teëkom.
'n Vae beeld het enkele oomblikke later die platskermtelevisie teen die muur gevul. Eers was daar net ‘n paar spikkels. Onbenullige visuele geraas waarvan geen mens kop of stert kan uitmaak nie.
En toe word dinge duidelik.
"Dis die hart daai," het sy gesê, en vier klein hartkamers met 'n pyltjie op die televisie uitgewys.
Polsende blou en rooi velde op die skerm het ‘n duidelike visuele beeld geskep van hoe die bloed deur die kamers vloei.
My bloed. Sy bloed.
Verlede week, in 'n klein kamer, iewers in Constantia, het ek vir die eerste keer my seun gesien.
En saam met die verwondering wat my gevul het, wat my terselfdertyd lighoofdig en eufories laat voel het, was daar die duidelike besef:
Ek kan nóóit weer dieselfde na die lewe kyk nie.
– Heinz Oldewage is nuusredakteur van Nuus24. Volg hom hier op Twitter.
Stuur jou kommentaar aan Heinz
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.