Doen met dié nuus wat jy wil
2012-06-08 12:09
Dis nie altyd maklik om in die mediabedryf te werk nie.
Die meeste mediamense sal jou sommer gou vertel dat die gemiddelde publikasie (hetsy in drukvorm of aanlyn) onder geweldige druk is om meer en meer uit te rig met al hoe minder hulpbronne.
Redaksies is vandag drie of vier keer kleiner as wat dit ‘n dekade gelede was, en die hoeveelheid werk het, tesame met die verskillende uitbreidings weens tegnologie, drasties toegeneem. Kortweg gestel: dis ‘n groter uitdaging as ooit om in die mediabedryf ‘n bestaan te maak – en veel moeiliker om te floreer.
Die beste manier om kop te hou is natuurlik om soveel moontlik die humor raak te sien in die amper belaglike situasies wat van tyd tot tyd opduik. Dit help om die absurde met ‘n glimlag te begroet – as jy dít nie doen nie, sal jy sommer gou moed verloor.
Een van dié dinge wat Nuus24 se span gereeld die kop laat skud, en soms selfs laat glimlag, is lesers se natuurlike agterdog jeens die mediamasjien. Jy moet in die mediabedryf werk om die omvang en absurditeit van dié neiging werklik te waardeer.
Mense is baie lief daarvoor om hulle sienings oor die wêreld op die media te projekteer. ‘n Leser met ‘n regse siening is byvoorbeeld vinnig om ‘n publikasie daarvan te beskuldig dat dit ‘n linkse agenda het. Daarteenoor is liberale lesers van dieselfde publikasie gou om te beweer dat ‘n redaksie in die geheim eintlik regse neigings het.
Só kry ons ook elke af en toe ‘n leser wat uitvaar oor die “politieke agenda” van Nuus24. Dié reaksie kom gewoonlik ná ‘n berig wat handel oor een of ander besonders positiewe of negatiewe uitkoms van ‘n regeringsprojek, of ‘n storie oor 'n politieke figuur se persoonlike siening.
Doen jouself ‘n guns: wag tot Nuus24 weer ‘n berig publiseer oor ‘n dorp waar 'n projek om een of ander rede besonders goed verloop het, of ‘n opiniestuk publiseer deur iemand wat krities is oor die ou bedeling, en ek waarborg jou dat jy ten minste een weergawe van die volgende kommentaar onderaan sal sien:
“Ja-nee… Naspes (sic) se liberale propagandamasjien werk weer oortyd!”
Dié sinnetjie het jy sonder twyfel al raakgelees. Miskien het jy selfs al ‘n soortgelyke een geskryf.
Die teenoorgestelde is natuurlik ook waar. Wanneer ons ‘n berig publiseer wat die regerende party in ‘n negatiewe lig stel (‘n berig oor gebrekkige dienslewering, miskien, of ‘n opiniestuk wat ‘n spesifieke regeringsdepartement skerp kritiseer), sal jy waarskynlik die volgende sien:
“Julle is ook maar net ‘n klomp regses wat heimlik verlang na die dae van apartheid!”
‘n Mens raak vinnig gewoond aan dié neiging van lesers om nuus deur die brille van hulle eie wêreldbeskouing te lees. Maar soms gebeur iets wat jou op amper komiese wyse opnuut aan die absurditeit van dié neiging herinner.
Só het ons ‘n week of wat gelede besluit om foto’s van The Spear, wat groot omstredenheid veroorsaak het, van Nuus24 te verwyder. Ek het nie die ruimte om in dié rubriek weer te verduidelik waarom ons dié besluit geneem het nie (jy kan dit hier lees), maar soos te verwagte is ons sommer vinnig na dié besluit in kommentaar as ‘n spreekbuis van die regerende party uitgekryt.
Dit het egter nie lank geneem vir die bordjies om verhang te word nie. Enkele dae later het Blade Nzimande, hoofsekrataris van die SAKP, striemende kritiek oor die media se “agenda” gelewer:
“Die DA en die media voer saam ’n liberale offensief teen die nasionale demokratiese revolusie,” het hy gesê.
Volgens Nzimande is die regerende alliansie onder beleg van liberale elemente in die media. Net soos heelwat ander politici, glo hy vas dat die media daarop uit is om ons regeerders te ondermyn.
Ons kon op kantoor nie anders as om te glimlag nie.
‘n Paar dae van tevore was 'n groepie lesers vas oortuig ons is in die alliansie se agtersak. Enkele ure later het daardie selfde alliansie ons uitgekryt as die vyand.
Welkom in die mediabedryf.
Wat is fout met die siening dat ‘n mediamaatskappy ‘n spesifieke politieke agenda het? Die eenvoudige waarheid is natuurlik dat geen mediamaatskappy, nie eers ‘n mediareus soos Naspers, polities homogeen is nie. Dink byvoorbeeld aan ‘n klein eenheid soos Nuus24: Ons redaksie bestaan uit individue van verskillende agtergronde met, ek vermoed, heelwat verskillende politieke sienings. Wie se siening sou ons kies om te bevorder?
Daarbenewens is Nuus24 natuurlik deel van ‘n veel groter maatskappy wat, anders as twintig jaar gelede (toe dit nog hoofsaaklik ‘n Suid-Afrikaanse koerantmaatskappy was), belange oor die wêreld heen het – van China en Brasilië tot Nigerië en Rusland. Dis onmoontlik vir so ‘n entiteit om ‘n enkele, homogene agenda of siening te bevorder. Daar is eenvoudig te veel individuele, onafhanklike dele.
As die redaksie van Nuus24 het ons ‘n enkele doel: om die jongste nuus so gou as moontlik deur al die moontlike digitale kanale in jou hande te kry. In die proses publiseer ons nuus en opiniestukke wat die regering in beide ‘n goeie en slegte lig kan stel. Dis ons werk om die nuus net so aan jou oor te dra.
Wat jý daarmee maak, is wat regtig saak maak.
– Heinz Oldewage is nuusredakteur van Nuus24. Jy kan hom hier volg op Twitter.
Stuur jou kommentaar aan Heinz
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.