Dink mooi voor jy skryf
2011-01-21 08:16
Soms het ‘n mens net nodig om te sê presies hoe jy oor ‘n spesifieke saak voel. Om van die frustrasie ontslae te raak wat jy al jare lank in jou opkrop en dan, sonder om jou te bekommer oor die nagevolge, sonder om bang te wees jy gaan iemand te na kom, vir eens en altyd te sê presies wat jy dink. Oor Malema. Oor rassisme. Oor die krieket. Oor daardie vervlakste 7de Laan-storielyne wat elke jaar net meer belaglik word.
Vir baie van ons was daar tot dusvêr één platform wat ons juis daardie geleentheid gebied het om stoom af te blaas: die internet. Dit is immers die Wilde Weste van die mediawêreld; waar jy naamloos jou skote kan afvuur sonder om te blik of te bloos; sonder om jou te bekommer oor jou reputasie; oor die nagevolge van jou woorde. ‘n Parallelle heelal waar mense hulle diepste frustrasies en vooroordele ontbloot ten aanhore van wie-ookal bereid is om te luister. Waar selfs die skrikkeriges onder ons verbale dwarsklappe kan uitdeel sonder die risiko om ‘n oorveeg op die hals te haal.
As jy al ooit die kommentaar onderaan ‘n nuusberig gelees het, of die gesprekvoering by ‘n omstrede rubriek gevolg het, weet jy waarskynlik presies waarvan ek praat.
As dit die geval is, weet jy heel moontlik ook dat dié kommentaar-proses vinnig kan ontaard in ‘n woeste moddergooiery. Al wat jy nodig het is ‘n omstrede onderwerp, ‘n paar ontstoke Afrikaners, en voor jy kan sê CONTROL-ALT-DELETE sit jy met ‘n onsmaaklike affêre waar die neerhalende aanmerkings jou laat steier en die sirkelargumente jou kop laat draai.
Dié werklikheid het media-maatskappye oor die wêreld heen die laaste paar jaar met die hande in die hare gelaat. Geen media-maatskappy stel immers daarin belang om afbrekende kommentaar te publiseer nie; tog is dit ‘n prioriteit om lesers die geleentheid te bied om oor inhoud te gesels.
Stadig maar seker het die internet-swaargewigte egter tot die besef gekom dat anonieme gesprekke gewoonlik ontaard in ‘n betekenislose verbale vuisgeveg wat niemand enigiets in die sak bring nie. Die gevolg is dat daar vandag, soos die internet-medium ontwikkel, besig is om ‘n verskuiwing plaas te vind van naamlose, gesiglose kommentaar tot ‘n meer verantwoordelike manier van saamgesels, waar gebruikers se kommentaar gekoppel is aan bestaande aanlyn-profiele.
Die basiese beginsel is eenvoudig: Dis maklik om onsinnighede kwyt te raak onder ‘n skuilnaam; dis ‘n heel ander storie om onder jou eie aanlyn-identiteit kommentaar te lewer.
Ook in Suid-Afrika is dié skuif besig om stadig maar seker plaas te vind. En teen alle verwagting in het dit die kommentaar-proses nie moeiliker gemaak nie, maar makliker.
Nuus24 het (ten spyte van die gewone ou beskuldigings dat ons daarop uit is om gebruikers “se monde te snoer”) in 2010 ‘n revolusionêre nuwe kommentaarstelsel bekend gestel wat ons lesers toelaat om met ‘n bestaande internetprofiel (die alledaagse profiele wat die meeste internetgebruikers gebruik, soos Facebook, Twitter, Google ensomeer) in te teken en na hartelus kommentaar te lewer wat dadelik op ons webwerf verskyn – sonder enige redaksionele ingrype van Nuus24.
Die krag lê nou in die hande van ons lesers: wanneer jy ‘n kommentaar sien wat onvanpas is en nie aan ons kommentaar-beleid voldoen nie, kan jy op die Rapporteer-skakel langs die kommentaar kliek. As die kommentaar wel nie aan ons kommentaar-beleid voldoen nie, verwyder ons redaksie dit dadelik. So eenvoudig soos dit.
Dié stelsel pryk nou al ‘n paar maande op Nuus24 se webwerf, en is ook deesdae te sien op Afrikaanse koerant-webwerwe.
Ek is bly om te sê die oorgrote meerderheid van ons gebruikers geniet dié stelsel ongelooflik baie. Die voordele bo die ou stelsel is voor die hand liggend: As jy eers ingeteken is, hoef jy nie weer in te teken nie. Jy hoef geen inligting (soos e-posadresse) in te vul wanneer jy kommentaar wil pos nie. Die belangrikste: Jy hoef nie te wag vir ‘n redakteur om jou kommentaar te modereer voor dit (soms na ‘n lang wag) op die webwerf verskyn nie.
Die eindresultaat? Gesprekke wat beter en vinniger vloei as ooit vantevore.
Daar is egter een of twee goed om in gedagte te hou. Dié nuwe stelsel is nie ‘n lisensie vir gebruikers om te pos wat hulle wil nie. Soos in enige ander gesprek is daar reëls. Nie nét omdat media-maatskappye uit die aard van die saak die regsgevolge van gepubliseerde kommentaar in ag moet neem nie; maar omdat ons ‘n omgewing wil skep waar ons gebruikers kan deelneem aan konstruktiewe, interessante en insiggewende gesprekke sonder om teruggehou te word deur ‘n klein groepie lesers wat enigiets buite hulle verwysingsraamwerk begroet met venynige, afbrekende kommentaar.
Dus kan jy seker wees dat ons, net soos enige ander ordentilke publikasie in die wêreld, nie seksistiese kommentaar plaas nie. Jou persoonlike aanvalle op medegebruikers sal nie vir lank te sien wees nie. Rassistiese kommentaar is hier net so onaanvaarbaar soos dit in enige ander gesprek in ‘n beskaafde demokrasie is. Kortweg gestel: die verwagting is dat ons lesers hulle sal hou by die sosiale norme wat enige ander volwasse gesprek kenmerk.
Natuurlik is dié nuwe kommentaarstelsel nog nie perfek nie. Daar kruip nog van tyd tot tyd tegniese goggas in. Gebruikers vind nuwe maniere om misbruik te maak van die stelsel. Verandering was nog nooit 'n gladde, moeitevrye proses nie.
Wees egter verseker dat ons deurentyd daaraan werk om ons kommentaar-fasiliteit selfs beter te maak. Ons ontvang ook, soos altyd, graag voorstelle van ons lesers oor hoe ons dié funksionaliteit makliker kan maak om te gebruik.
Nuus24 se doel bly steeds dieselfde: om die varsste nuus aan jou te bring. Eerste.
En dan, vriende, gesels ons land en sand.
– Heinz Oldewage is nuusredakteur van Nuus24. Volg hom hier op Twitter.
Stuur jou kommentaar aan Heinz
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.