Die einde van Ernst
2011-09-09 07:59
Min karakters uit die geskiedenis wek soveel weersin by een en elk soos die bose despoot Adolf Hitler.
Dís g’n verrassing nie. Só onheilspellend hang die donker skaduwee van die Führer oor die 1930’s en -40’s, dat ander noemenswaardige karakters uit dié era se stories dikwels blote voetnota’s in die geskiedenis word. Hoe dan anders?
Tog is daar ‘n paar waardevolle lesse te leer uit die lewensverhale van ‘n paar van die minder bekende karakters van dié tyd.
Soos die hoof van die Nazi’s se straatvegters, Ernst Röhm. Tweede naam: Julius.
Met sy radikale sienings en snyende retoriek was Ernst Julius Röhm sonder twyfel vir vele in sy generasie ‘n dinamiese leiersfiguur. In die dae voor die Führer se ysterhand ‘n houvas op Duitsland gekry het, het sommige kommentators immers voorspel dat ‘n blink toekoms in die Nazi-party op hom wag. Dit kon nie anders nie: hy was ‘n vasberade leier, hy kon as talentvolle orator groot groepe mense opsweep en het die lojaliteit van miljoene aan sy kant gehad. Hy was na aan die Führer… hy sou selfs vir hom sterf as dit moes.
Ironies genoeg was dit egter juis toe die Nazi’s uiteindelik stewig aan die stuur van sake in Duitsland was, dat dinge vir Röhm begin ontrafel het.
Dat alles nie pluis was nie sien ‘n mens duidelik in sy toenemende rusteloosheid in die vroeë dae van Nazi-heerskappy.
Röhm, lank nie meer ‘n kapokhaan nie, het teen dié tyd aan die hoof gestaan van die Nazi’s se heethoofdige straatvegters, die sogenaamde SA – ‘n groep wat gewéét het van onluste en geweldpleging. In die dae voor Hitler se bewind was dit telkens dié groep wat die strate ingevaar het om die Führer se opposisie (wie dit ookal daardie week was) te takel. Daar het hulle al wat leef en beef geïntimideer en andersdenkendes goed opgedons. Anders as die gevreesde, elite SS, was dié lot meer ongedissiplineerd – ‘n groep wat handig te pas gekom het in die dae wat Hitler nog vir sy politieke toekoms geveg het.
Maar met die Führer uiteindelik in die stoel, was dié groep vegters se rol skielik nie meer so duidelik nie. Met die struggle agter hulle was dié stryders skielik nie meer so seker waarvoor hulle veronderstel was om te veg nie.
Die verandering in Röhm se houding jeens sy party in dié dae is duidelik. Skielik was die ouer manne in beheer nie meer “radikaal” genoeg nie. Kort voor lank het hy begin om die Nazi-party se leierskap openlik aan te val en grootkoppe van die party in die openbaar in sy toesprake aan te vat.
Röhm, oënskynlik onbewus dat die tou stywer en stywer om sy nek trek, het die een gewaagde stelling na die ander gemaak. Hy het uitlatings gemaak wat nie strook met die beleid van sy party nie. Hy het in toesprake teen ander lede van die party te velde getrek. Hy het die revolusionêre aard van Nazisme beklemtoon, en hardop begin wonder of hy en sy vegters nie ‘n meer militante rol moes speel nie. Hy het selfs kritiek uitgespreek teen Hitler self.
Op die strate het mense begin fluister van ‘n sogenaamde Nag van die Lang Messe – ‘n nag waarop die straatvegters hulle teenstanders met geweld sou elimineer om ‘n nuwe orde te bewerkstellig. Röhm, op sy beurt, het begin verwys na ‘n “tweede revolusie” – ‘n nuwe omwenteling waarin die ideale wat volgens hom die kern van die Nazi-boodskap moes wees, ‘n werklikheid sou word.
Maar Röhm het sy hand lelik oorspeel.
Kort voor lank het Hitler begin grom. Röhm se alewige negatiewe retoriek het senior amptenare in Hitler se leierskorps onrustig begin stem. Hitler se binnekring het standpunt teen Röhm begin inneem. Dit het duidelik geword dat Röhm ‘n verleentheid vir die party kon word. Die SA was teen dié tyd min of meer drie miljoen sterk. Dié einste manskappe het dikwels, sonder uitlokking, die strate ingevaar en amok gemaak. Geweld, onluste en selfs botsings met die polisie het gevolg.
Die ironie is dat Hitler nie werklik met Röhm wou afreken nie. Hy het die Führer egter met geen ander keuse gelaat nie.
Op 2 Julie 1934 is Röhm sonder seremonie op tipiese Nazi-wyse uit die politieke prentjie verwyder.
Röhm, met sy miljoene ondersteuners.
Röhm, die talentvolle orator met die groot mond.
Röhm, wat sy party se beleid geïgnoreer het.
Röhm, wat sy partyleiers in die openbaar gekritiseer het.
Ernst Julius Röhm, gerelegeer tot ‘n voetnota in die geskiedenis, omdat sy mond eenvoudig te groot was vir sy eie beswil.
– Heinz Oldewage is nuusredakteur van Nuus24.
Stuur jou kommentaar aan Heinz
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.