Wit skuld, ‘Colour TV’ en die soeke na die self
2011-07-28 07:47
In – en oor – die breë Afrikaanse gemeenskap heers tans hoofsaaklik twee debatte.
Die een, aan Afrikaner-kant, handel oor die erkenning – én ontkenning – van wit (apartheid)skuld; die ander, aan bruin (of swart) kant, handel oor die opgewondenheid oor – én afkeer van – die nuwe TV-program Colour TV op SABC2.
Dit lyk dalk of die twee nie werklik iets met mekaar uit te waai het nie, maar op ’n manier het dit tog baie met mekaar te make – selfs al sou die raakpunt dan ook net wees dat dit in albei gevalle ons reaksie op “volkskritiek” blootlê.
N.P. van Wyk Louw se opstel oor Afrikaners se gevoeligheid jeens kritiek uit sy Versamelde Prosa 1 bly leersaam: dat hulle dit “nog altyd gevoel (het) as ’n aanval teen ons bestaan; as ’n aanval wanneer dit van ’n buitestaander kom, en as verraad wanneer dit een van ons eie mense was wat gepraat het”.
En verder dat dit nie bedoel was om die groep te verbeter nie, maar te “vernietig”; dit was “veragting, verkleinering , uit-die-hoogte-op-ons-neersien” – en nie van mense “wat ’n ideaal in die Afrikaner tot deurbraak wou verhelp nie, maar wat ons uit die pad wou hê”.
Wat Louw reeds in Junie 1938 verwoord het, pas steeds soos ’n handskoen as jy die afgelope ruk se rubrieke, briewe en meningsartikels oor “wittes se apartheidskuld” gelees het.
Sou die verklaring hiervoor wees, wonder ’n mens, soos Louw ook in die genoemde essay verduidelik: “Dis omdat die kritici aan ons wortels geraak het, nie om los te spit nie, maar om af te spit, dat ons in verset teen alle kritiek op ons nasie kom.”
Maar dit sal baat om te onthou dat ook Louw dit gestel het dat ’n volk sonder kritiek verlore is en dat kritiek ’n nasie se gewete is.
Tog kry ’n mens in die huidige debat oor “wit skuld” ongelukkig die indruk dat die kritiek vir sommige nog te pynlik oor hul gewete skraap, wat hulle uiteindelik dryf tot wanvoorstellings van ’n ander se standpunte, verdagmakery en, ja, selfs geweld.
In die proses raak die oortreder van ouds die nuwe slagoffer; en word die nou ontslape genl. Magnus Malan as ’n held uitgebeeld, sy sondes vergewe, en die hartseer vergete van vroue wat hul kinders en mans in die uitleef van sy strategie teen ’n “totale aanslag” verloor het. Op die koop toe word ons gemaan dat jong, wit Afrikaanse (sic) mans “wat ook nou voel niemand neem kennis van hul standpunte en sienings en verteenwoordig hulle nie” kan knak, soos die massamoordenaar van ’n vreedsame Skandinawiese land.
Dit is tog opvallend dat die vervaardigers van Colour TV, ’n vermaakprogram vir (of oor?) die bruin gemeenskap, veral uit eie gemeenskap beskuldig word van “veragting, verkleinering, uit-die-hoogte-op-ons-neersien”; dat hulle nie ’n ideaal in bruin mense tot deurbraak wil verhelp nie, maar ’n bespotting van hulle maak.
Die program sou nie bedoel wees om bruin mense te verbeter nie, meen die kritici, maar om die bruin gemeenskap te vernietig.
My eie indruk toe ek reeds na die eerste episode gekyk het, was egter dat dit ’n moedige poging is om ’n alles-in-een-program te bied vir (of oor?) ’n gemeenskap wat gereeld kla dat hy afwesig in alles op die TV is. Colour TV ?bevat immers nuus – of nee, satiriese kommentaar – oor aktuele sake, sport en die ekonomie; onderhoude met persoonlikhede; ’n geldspeletjie en selfs ’n eie sepie.
En tog, aldus die program se kritici, slaag dit eintlik net daarin om stereotipes oor die bruin gemeenskap te beklemtoon en nie ook die kompleksiteite aan te dui nie: “Feel it, die jollie hotnot is hier!” sou daarom ’n gepaste reklame-klingel wees.
Die reaksie op dié “kleurvolle” program saam met dié op die “wit” debat dui uiteindelik vir my op die werklikheid – die ongemaklike waarheid, as’t ware – van twee nasies binne die breë Afrikaanse gemeenskap. Terwyl die een (onderling en na buite) tot ’n vergelyk moet kom oor die suksesse en die skandes van sy verlede, geld dieselfde vir die ander met betrekking tot sy diverse samestelling.
Dit dui op ’n worsteling met identiteitsbelewing aan albei kante – iets waarmee die (bevoorregte) een die (bemoeiende maar versoenende) ander goed kan bystaan, en ook omgekeerd.
- Wyngaard is ’n skrywer en direkteur van kommunikasie by die visserye-tak van die departement van landbou.
- Oorspronklik verskyn in Die Burger
Stuur jou kommentaar aan Heindrich
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.