Versoeningsdag vryf nog sout in ou wonde
2010-12-16 07:20
Sestien jaar gelede het ook ek, soos dr. Martin Luther King vier dekades vroeër, ’n droom gehad.
Dit was met die land se oorgang na ’n demokratiese bestel en wat veronderstel was om ’n nie-rassige samelewing te wees. Dit was in die gees van Mandela se versoening en Tutu se reënbooggedagte; en dit was in die dronkenskap van ’n bevryde tweedeklasburger.
Maar nou, sestien jaar later, het ek nugter geword.
Ek het gedroom dat ons almal sal saamlag oor hoe sommige voor die 1994-verkiesing blikkies boeliebief en kerse opgegaar het in afwagting van ’n rassebloedbad; dat ons met groot begrip sal luister na die “tussenin-mense” se stories oor hul destydse onsekerheid oor wat nou vir húlle voorlê; en dat ons saam die opgewondenheid sal herleef van die meerderheid se destydse afwagting van die koms van uhuru, oftewel vryheid.
Maar nou klink uhuru alleen soos die pynlike gekwetter van ’n afvlerk-voël.
Ek het gedroom hoedat ons die volkslied uit volle bors saam sal sing, dat almal al teen hierdie tyd selfs die dele wat ’n vrank smaak in hul mond laat, sou aanvaar, of dit nou uit “Nkosi sikelel’ iAfrika” of “Die Stem” is. Omdat ons tog, glo ek, almal sal wil hê God moet uit die blou van onse hemel en die diepte van ons see Afrika en Suid-Afrika seën.
Maar nou beklee wedersydse rasbeskuldigings die nommereen-plek op die literêre en musikale topverkoperlys, die talent van C.J. Langenhoven en Enoch Sontonga vergete in vergulde geskiedenisboeke.
Ek het gedroom dat almal sal aanvaar die jare lange bevoorregting van ’n sekere deel van ons burgery op elke denkbare gebied noodsaak heropbou en ontwikkeling; en dat regstellende aksie, ekonomiese bemagtiging en sportkwotas deel van die teenvoeter is vir die sielkundige en fisieke Hirosjima wat met dekades se afskeep van die ander gepaard gegaan het.
Maar nou leef ’n groot deel van die voorheen bevoorregtes skynbaar in chroniese ontkenning oor dié historiese skandvlek, terwyl die voorheen afgeskeeptes moet luister na hoe hul letsels dikwels gelyk gestel word aan ’n verbeelde omgekeerde rassisme en nuwe armoede. En tog: “Altesame 16 jaar ná die koms van demokrasie oorheers wit mense steeds batebesit in Suid-Afrika,” berig Sake24 op 3 Desember na aanleiding van navorsing deur die top-ekonoom Mike Schüssler. Dit wys bateverdeling staan só: wit (41%), swart (27%), buitelanders (13%), regering (10%), bruin mense (5%) en Indiërs (4%).
Ek het gedroom, sestien jaar gelede, dat dit nie meer vandag nodig sou wees om die kleurkodes van apartheid te gebruik in ons openbare diskoers nie; dat die vereenvoudigde – en valse – “identiteite” van wit, bruin en swart as ’n albatros om ons nek beskou sou word en dat dit plek sou maak vir ’n identiteit wat uiting en inhoud gee aan die “eenheid in diversiteit” waarvan ons Grondwet en nasionale ampswapen praat.
Maar nou het swart (oftewel politieke mag) en wit (oftewel ekonomiese mag) die oorheersende identiteite geword. Selfs uit eie geledere word van die bruin gemeenskap verwag om hul bestaan te ontken – hulle wat die afstammelinge is van die land se eerste nasie, die Khoi en die San, terwyl groot gewag gemaak word van die koms van Indiërs na Suid-Afrika ’n skamele 150 jaar gelede.
Dié “wanbalans” is ’n skandalige illustrasie van hoe die Grondwet en die waardes daarin vervat deur baie landgenote aan dié kant en dáái kant van die treinspoor as niks meer as vis-en-tjips-papier beskou word nie.
Sestien jaar gelede het ek ook nog geglo as iemand jou op jou regterwang slaan, soos wat Matteus 5:39 aan ons voorskryf, is dit (in die gees van versoening) beter om ook die ander wang na hom of haar te draai.
Maar nou raak dit moeiliker omdat ons dag ná dag gekonfronteer word met die neiging (sien Matteus 7:3) om die (ná-1994) splinter in die oog van ander te sien, maar die (voor-1994) balk in jou eie oog nie op te merk nie.
Solank dit die geval is, vryf die viering van Versoeningsdag sout in ou wonde – en vra jy jouself onwillekeurig af: Hoe lank nog voordat die droom van ’n werklik vreedsame nuwe Suid-Afrika in die bloedige nagmerrie ontaard wat in 1994 verwag is.
Oorspronklik verskyn in Die Burger
Stuur jou kommentaar aan Heindrich
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.