Om uit SA te ‘skuif’ sal nie Botes se siel genees
2010-11-25 08:02
Hieroor moet ons met mekaar eerlik wees. Hieroor kan ons nie, soos die digter-dominee Patrick Petersen lief was om te sê, met mekaar biduur hou nie: Ons almal – of die meeste van ons – het ongetwyfeld ’n rassistiese streep weg.
Dit kan tog nie anders wees ná soveel eeue se toediening – deur ons DNS-verbintenisse met ons voorouers en deur die drink van moedersmelk – van die “verbode middels” van kolonialisme, apartheid en onverdraagsaamheid nie.
Om Annelie Botes te wil kruisig oor haar erge rassistiese uitlatings in verlede naweek se Rapport sal daarom skynheilig wees. Word ek dan nie self heel dikwels vir ’n rassis uitgekryt nie? En is ek nie boonop ná my laaste rubriek – oor Herschelle Gibbs se pasverskene outobiografie – deur ’n briefskrywer deel gemaak van ’n driemanskap wat Afrikaners sou haat nie?
Dis nou my vorige redakteur, Henry Jeffreys, en die liewe prof. Jonathan Jansen, wat nogal moeite doen om te verduidelik hoe dit die “kennis in die (Afrikaners se) bloed” is wat sommige op ’n mens-onterende wyse laat optree.
Só beskou, is dit mos ook Botes se kennis in háár bloed wat haar laat sê: “Ek gaan nou verskriklik eerlik wees. En láát dit maar hierdie land skok. Ek hou nie van swart mense nie.”
Dit was darem nou nie die ergste nie, meen ek. Jy besluit tog self van wie jy hou en van wie jy nie hou nie, wie jy na jou partytjies of jou braaivleis nooi.
Maar dan verklap sy haar redes, synde dat swart mense onbekwaam is en lui en misdadig en ... voeg maar enige ander stereotipe by – en dat hulle, uiteindelik, hul woede oor “hul eie regering” op wit mense uithaal.
Natuurlik is dit nie ’n unieke standpunt nie. Daar is baie ander mense wat soos Botes oor die saak dink, en sommige het ook so laat hoor in hul reaksie op haar onderhoud met Rapport. Die waarheid is altyd pynlik, sê hulle. En dan sleep hulle sommer Mara Louw se onlangse simpel ras-uitbarsting by dat ’n swart deelnemer kwansuis nooit Idols sal wen nie omdat wittes glo net vir wit deelnemers stem.
Miskien wonder die Botes-bewonderaars ook, soos ek, of haar standpunte erger klink as die Engelssprekende radioman en Idols-beoordelaar Gareth Cliff s’n teen pres. Jacob Zuma en die regering, omdat dit in Afrikaans gestel is.
Dit is mos glad nie toevallig nie die taal wat deur die apartheidsregeerders gebruik is – en wat deur hedendaagse regverdigingsoekers van die stelsel gebruik word – om Afrikaners te breinspoel oor die kamstige goeie bedoelings van apartheid.
Soos Botes sê: “Hierdie land is nie meer die een waarvoor ek op aandag gestaan het nie.”
Maar haar woede het óók te doen met hoe ’n swart regering plaasskooltjies toegemaak het en die kindertjies nou wild rondhardloop, nie hul naam kan skryf of tot by 100 kan tel nie. En wat gaan van hulle word? “Kriminele,” antwoord sy self.
En dan ’n bekentenis oor erfsonde en erfskuld: “Maar kyk na alles wat ons aan húlle gedoen het voor 1990...jirre-dis-verskriklik. Die wit regering het net so gesteel.”
Dit moet seker vir Botes ’n teleurstelling gewees het dat sy oënskynlik nie die land geskok het, soos sy verwag het, met haar hatige uitbarsting nie; dat haar uitgewer haar nie “afgeskryf” het nie; dat daar nie besprekings oor haar uitlatings op RSG was nie; en dat sy nie gevra is om haar K. Sello Duiker-prys (genoem na ’n swart skrywer) vir haar roman (met die swart titel) Thula-Thula terug te gee nie.
Wat my betref, behoort ons haar uiteindelik erkenning te gee vir die feit dat sy óók in haar onderhoud oor die “groot fout in ons land” gesê het: “En niemand staan op en sê hoor hier, om hierdie ding reg te kry sal ons ons land eers sielkundig en emosioneel moet heelmaak nie.”
Nou wil ek vir Annelie Botes en ander wat soos sy dink, sê: Om op te pak en Engeland toe te “skuif”, soos sy en haar man beplan, sal nié vir haar gefolterde siel genesing bring nie.
Dit kan net hier gebeur – óp die misdaadtoneel, as ek dit so kan stel, en deur saam ons demone in die oë te kyk.)Heindrich Wyngaard is ’n onafhanklike ontleder.
- Oorspronklik verskyn in Die Burger
Stuur jou kommentaar aan Heindrich
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.