Bruines het nou kans om lot te verbeter
2011-03-03 08:18
Hierdie kan sekerlik as ’n historiese oomblik beskou word, want nog selde vantevore was die land se aandag so sterk op een groep gevestig soos tans die geval is met die Wes-Kaapse bruin gemeenskap.
Die storie se aanloop begin by die voorgestelde wysigings aan die Wet op GelykeIndiensneming.
Hierdie wysigings sou daarop aandring dat die nasionale demografie oral toegepas word, en na sommige se beraming sal nagenoeg ’n miljoen bruin mense in die Wes-Kaap op hierdie wyse uit diens gestel word.
Eintlik moes dié statistici sê “nóg” ’n miljoen, want hoeveel in dié gemeenskap is nie reeds werkloos nie?
Om die vlamme verder by die gate in die rasse-ghêllieblik te laat uitlek, is uitsprake van ’n prominente voorstander van regstellende aksie – en nou ’n senior regeringsamptenaar – uit die argiewe opgediep waar hy die stelling maak dat bruin mense “oorgekonsentreer” in die Wes-Kaap is.
Hulle moet hul vlerke uitslaan, het hy aanbeveel; as ’t ware hul (arbeid)saad ook in ander provinsies gaan saai.
En die nadraai van dié stukkie advies was onder meer dat ’n laeprofiel-rubriekskrywer van ’n poniekoerant skielik nasionale prominensie verwerf het deur haar geskinder dat bruin vroue onder meer “aanteel asof Allan Boesak hulle op ’n sending gestuur het om die bruin volk te vergroot”.
Nou blyk almal op hol te wees daaroor: oudpolitici, selfaangestelde segspersone, politieke partye, vakbonde, inbellers op die radio, die skrywers van koerantbriewe.
Dit moet baie mense verras het dat selfs ’n senior (bruin) minister, wat hom steeds nie met bruin-wees vereenselwig nie, in die sterkste taal denkbaar gereageer het op die genoemde regeringsamptenaar se “rassistiese” aanval op dié gemeenskap.
Die vraag is net: Wat is die gepaste reaksie hierop vir iemand wat uit daardie einste bruin gemeenskap stam? ’n Gemeenskap waar – as jy die stereotipering glo – huishoudelike geweld hoogty vier, nes drank- en dwelmmisbruik, en vroue (weer die rubriekskrywer) “rook soos skoorstene, geen voortande het nie, deur die dag in hul nagklere rondloop (en) lief is om op straat te baklei”.
Moet jy stil-stil (of luidrugtig) oor hierdie stereotipering kwaad raak? Moet jy Gods water oor Gods akker laat loop?
Of moet jy jouself en jou gemeenskap verdedig deur ewe krenkende stereotipes oor byvoorbeeld die rubriekskrywer se eie Xhosa-gemeenskap in haar gesig te gooi?
Het jy hierdie een al gehoor: Wanneer Xhosa-meisies Johannesburg toe gaan, soek hulle haastig vir hulself kêrels wat hulle kan onderhou – en dan laat weet hulle huis toe dat hulle ’n “werk” gevind het? Of dié een: dat Xhosa-meisies stemboodskappe op hul selfone laat wat sê hulle is jammer dat hulle nie nou die oproep kan beantwoord nie, “maar as jy ’n recharge-PIN laat, sal ek jou terugbel”?
(Ek hoop net nie iemand gaan ook die storie bysleep dat die einste rubriekskrywer, ’n nooi van ’n Kaapse township, met ’n wit man getroud was nie – en al wat sy glo nou oorhet, is die man se van.)
Dit is natuurlik nie die eerste keer dat sulke stereotipering oor bruin mense nasionaal aandag trek nie.
Sommige bruin mense sal jou daarop wys dat dit nog al die jare so was: Om elke hoek en draai is hulle – in die woorde van die digter Adam Small – afgemat, en soos hasies voor die honde moes hulle bly spat.
En hulle sal jou daaraan herinner dat die (nou ontslape) joernalis Blackman Ngoro reeds in 2005 deur sy gifpen in ’n internet-artikel uitgevaar het oor bruin mense se liefde vir drank, dat hulle meen hulle is beter as swart mense, en dat hulle jou met die geringste uitlokking “Jou ma se?.?.?.” sal toesnou.
Stereotipering staan egter altyd, soos hierbo, gelyk met veralgemening.
Wel, ons is nie almal so nie.
Maar as ons eerlik is met onsself, moet ons erken dat daar in elke stereotipe ’n stuk waarheid versteek is.
En omdat ons dit weet, moet ons aan onsself die uitdaging stel dat ons te alle tye so gaan probeer optree dat die stereotipe verkeerd bewys word.
Bruin mense het nou, terwyl die ganse land se aandag op hulle gevestig is, ’n gulde geleentheid om op te staan, hulself af te stof en sélf hul lot te verbeter – want onthou, môre of oormôre word hul bestaan weer deur die skynheiligheid van “non-racialism” ontken.
- Oorspronklik verskyn in Die Burger
Stuur jou kommentaar aan Heindrich
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.