Bruines hét ’n bydrae tot dié gesprek te lewer
2011-08-18 08:12
Net die ander dag vra ek ’n mede-deelnemer aan die openbare diskoers in
Afrikaans of daar werklik enige sin in “ons” (bruin mense se) deelname
hieraan is?
Of word ons, soos bywoners op die Afrikaner-plaas, vriendelik en soms ook nie so vriendelik nie, geakkommodeer?
Die
mede-deelnemer meen dat ons heel dikwels net verdra word, dat die deur
net op ’n skrefie oopgelaat word vir ons menings; en die reaksie daarop,
voeg ek daarby, is baie keer dieselfde, net so voorspelbaar soos wat my
kritici my al soveel keer van beskuldig het.
Moet julle
aljimmers, word geskel, oor apartheid en die Afrikaners en oor ras
skryf? Oor hoe swaar die arme bruin mense tog kry, terwyl hulle aanwas
en dronk word en “tik” en hulle kinders “jou ma se ....” leer vloek?
Die
slotsom waartoe die kritici dan kom – ’n beskuldiging wat heel gereeld
ook na my geslinger word – is dat “ons” aan ’n slagoffer-mentaliteit ly,
verbitterd is, onvergewensgesind, weier om aan te beweeg.
Maar
eintlik, dink ek, gaan dit hier oor wie oor die reg – en die mag –
beskik om die agenda te bepaal, en of “ons” die reg het om daardie
agenda te bevraagteken.
Die boodskap skyn te wees: dié van julle
wat bevoorreg is om “gekeur” te word om aan gespreksforums deel te neem,
mag slegs oor die “goedgekeurde” kwessies praat. Beteken dit dan, wil
ek vra, dat die “bevoorregtes” kla as hulle kwessies opper wat
saakmakend vir “ons” is? Of beteken dit jou deelname sal net aanvaarbaar
wees as jy in ooreenstemming skryf met iemand soos Rhoda Kadalie, wat
nog net eergister op Facebook deur die digter Diana Ferrus uitgekryt is
vir “die champion van die wit mens”?
Die kritici verdra of
verwelkom vermoedelik ook net die bruin (of swart) deelnemers se insette
wanneer dié bruines of swartes pleit om begrip vir wat prof. Jonathan
Jansen die “kennis in die bloed” van wit mense noem.
Hiervolgens
word van jou verwag om te verstaan hoekom sommige wittes nog dink soos
wat hulle dink, doen soos hulle doen, reageer soos hulle op dinge
reageer – en dat jy hulle asseblief tog met diepe en opregte empatie
moet hanteer.
Maar “houd-den-bek” (met apologie aan André P.
Brink) is die verwagting blykbaar as jy durf verwys na “ons” lot en in
watter mate dit meegebring is deur die feit dat sommige van ons tog meer
voordeel uit die verlede getrek het as ander.
Selfs die liewe
prof. Jansen beland dikwels aan die ontvangkant van dié sambok. Soos
emeritus- aartsbiskop Desmond Tutu nou ook moet koes vir die klippe van
kritiek nadat hy nuwe lewe gegee het aan ’n netelige kwessie: dat wit
mense hulself moet afvra of dit nie tog sinvol sou wees as ’n
welvaarttaks ingestel word nie.
En opeens, lyk dit, is Tutu se
ondersteuning van die Springbokke vergete; ook sy ander uitsprake
waarvoor hy gereeld uit wit geledere geprys (en uit swart geledere
verguis) word, soos sy kritiek op die land se politieke leierskap.
Prof.
Jakes Gerwel wil “ons” nou oorreed (as ek hom Sondag in Rapport reg
gelees het) dat “ons” eerder moet uitbly uit gesprekke soos dié oor
“(apartheid)skuld” omdat dit in wese ’n gesprek “tussen wit
Afrikaanssprekendes (Afrikaners) oor wit Afrikaanssprekendes (is) en dus
een waartoe buitestanders met groot omsigtigheid moet toetree omdat
sulke toetrede alte maklik beskuldigend kan klink”.
En dit wil ons tog nie hê nie, reg? Newwermaaind die kennis in ons eie bloed.
Wel,
hier volg die nuus: Té veel Afrikaner-saampraters gee die indruk dat
hulle teer op hul verbeelde “bedreigde spesie”-status, ’n toestand wat
hulle behoort vry te spreek van verantwoordelikheid aanvaar vir ’n
geskiedenis wat nog vlak in die geheue lê.
Juis dáárom, meen ek,
behoort “ons” tot die gesprek toe te tree om nuwe inhoud te gee aan hoe
uit Afrikaner-geledere, soos Gerwel dit stel, “gepraat (en geluister)
word”. Want het “ons” dan nie veel om ons taalgenote te leer oor hoe om
te oorleef in die aangesig van vernedering en bedreiging nie?
Solank dit met liefde gedoen word, het Adam Small ons dit op die hart gelê, “hier en nou, en onvoorwaardelik”.
– Wyngaard is ’n skrywer en direkteur van kommunikasie by die visserye-tak van die departement van landbou.
– Oorspronklik verskyn in Die Burger.
Stuur jou kommentaar aan Heindrich
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.