Wat is wittes se plek?
2009-09-14 08:43
Die wittes, en veral die Afrikaner, se plek in die nuwe Suid-Afrika is skielik deel van die openbare debat. Die vreemdste sieninge kom na vore.
Die hele ding het begin met oudregter Johann Kriegler se plan om die Regterlike Dienskommissie se besluiteloosheid in die Hlophe-geval hof toe te vat. Waarop oudredakteur Ken Owen sê dis ’n fout, want nou kan goeie swartmense nie dieselfde siening hê nie.
Toe kom Nico Smith en sê wittes in Suid-Afrika moet aanpas of oppas – een dag gaan swart Suid-Afrikaners moeg word daarvoor om gekritiseer te word en ons op groot skaal begin uitmoor.
Vroeër was daar die Huntley-geval, die man wat asiel in Kanada gekry het omdat hy onder meer gesê het dat hy as wit man ’n teiken is. En net te veel wittes steun hom – selfs Afri¬Forum!
Daar is twee strominge.
Die een beweer dat wittes wel teikens is – negatiewe teikens. Swart bemagtiging, regstellende aksie, misdaad maak die lewe vir wittes moeilik.
Die ander wil dat, ietwat oordrewe, die politiek, die regstelsel, die hele openbare lewe aan swart Suid-Afrika gelaat moet word en ons wittes moet net werk en belasting betaal.
Albei is eenvoudig verkeerd.
Natuurlik is regstellende aksie en swart bemagtiging daarop gemik om swart Suid-Afrikaners te bevoordeel en natuurlik is daar ’n rassegrondslag.
Die doel is tweeledig: Om meer swart mense in die hoofstroom van die ekonomie te kry – wat natuurlik almal wat reeds daar is help beveilig – en om die erg nadelige gevolge van apartheid te probeer regstel.
En dis goed en reg so.
Ongelukkig het dit ook onvoorsiene negatiewe gevolge, onder meer dat wittes dit as omgekeerde rassisme en benadeling kan ervaar.
En ook dit het ’n stuk waarheid in.
Maar fundamenteel moet aanvaar word dat nie een van die twee gou sal verdwyn of dat daar ooit ’n aankondiging sal kom wat sal sê dit word op so en so ’n datum gestaak nie. Dit sou politieke moord wees.
Die twee benaderings sal maar net mettertyd verdwyn omdat hulle nie meer kwessies sal wees nie.
Maar dat ons as wittes net eenkant moet staan en die swartes neem die wesenlike besluite oor alles wat in die openbare domein val, is heeltemal onaanvaarbaar en getuig van ’n siening wat sê Afrika is vir swart Afrikane, ons is tydelike besoekers.
Bryan Rostron het die afgelope week in sy rubriek in Business Day uit Peter Godwin se boek oor Zimbabwe (When a Crocodile Eats the Sun) ’n aanhaling gebruik wat dié soort houding tipeer.
Godwin het geskryf: “A white man in Africa is like a Jew everywhere, on sufferance watching warily, waiting for the next great tidal swell of hostility.”
Dit is nie ’n slegte beskrywing van sommige wittes se siening hier te lande nie.
Maar dit moet onvoorwaardelik verwerp word. As ek vir eens persoonlik kan wees; ek het geen so ervaring nie. Ek voel my volledig tuis in die nuwe Suid-Afrika, ek het nog geen rassisme teen my gevoel nie en ek weier dat ek net moet stilbly.
Waar ek kritiseer, het dit niks met ras te doen nie en tot dusver is dit deur mense van alle rasse so aanvaar.
Waar Nico Smith aan sy uitmoor-storie kom, is onbegryplik en grens aan die onverantwoordelike. Daar is hoegenaamd nie so ’n moontlikheid nie.
Onderliggend aan al die wit vrese en knorrighede is ’n vorm van rassisme, ’n gevoel van uitsluiting.
Die benadering moet aangepas word. Ons almal in die land is Suid-Afrikaners en ons almal het dieselfde regte en ons almal moet saamwerk om omstandighede vir almal beter te maak.
Die negatiwiteit moet afgeskud word. Ons kan dit begin deur volgende maand by die Tweede Ekonomiese Volkskongres ons moue op te rol vir ons eie mense wat arm geword het, maar ook vir alle armes in die land.
Dat ons ’n kongres gaan hou, is reeds kritiek op die regering van die dag, want dit faal om armoede te bekamp.
En op sigself ’n ontkenning van Nico Smith se benadering.
- Oorspronklik verskyn in Rapport
Stuur jou kommentaar aan Harald
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.