SA het die wêreld gewys ons kán
2010-06-21 08:26
Dit was maklik om die afgelope tyd in die warm gloed van patriotisme te baai.
Eers het die Bulle Soweto blou geverf, toe het Bafana Bafana Sandton geel kom maak. Die aanloop tot die Wêreldbeker-sokkertoernooi het ons almal laat hoop dat die onmoontlike dalk tog moontlik kan wees. Die openingseremonie was uitstekend en die eerste wedstryd was ’n hoogtepunt.
Goed, hier van die tweede wedstryd af het ons meer oor die koue as oor die sokker gepraat.
En klaar weer gewoond geraak aan dit wat ons gedink het nie bereik kan word nie. Die stadions is wonderlik, die nuwe paaie het verkeersdruk verlig, die lughawens is ’n plesier, die Gautrein ’n heerlikheid.
Die meeste van die honderdduisende besoekers is veilig.
Goed, daar was stakings, hoofsaaklik omdat daar gebrekkige kommunikasie was tussen die werkgewer en die werkers.
Maar so ’n ent weg in die aanbieding van die wêreld se grootste sportgebeurtenis is dit duidelik dat Suid-Afrika so iets kan hanteer, dat al die spookstories oor hoe dinge gaan skeefloop, want dis maar hoe dit in Afrika gaan, ’n refleksie is op diegene wat getwyfel het.
Dit het net weer bevestig dat dit goed is om in Afrika te wees, en veral die suidelike deel van die vasteland. As die sokker net dit kon regkry, is dit al genoeg om al die geld te regverdig wat Fifa ons gekos het.
Die vasteland het geruime tyd al sy verlede die rug begin toekeer. Daar is tans meer demokratiese lande hier as diktature, handel en buitelandse beleggings het die afgelope dekade viervoudig gegroei, die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) reken dat ekonomiese herstel regoor die vasteland reeds begin het en volhoubaar is.
Twee ander belangrike verskuiwings het plaasgevind: verstedeliking het mense uit die ergste armoede geneem en die kontinent se groei is nie net gebaseer op sy rykdom aan minerale nie – twee derdes kom van toerisme, telekommunikasie, konstruksie, die bankwese en die tekstielbedryf.
Wat nou nodig is, is dat ons almal hierdie waarhede insien en ophou om te kla en te mor. Kritiseer die regering van die dag, dis reg, want hy verdien dit. Feit is eenvoudig dat, ten spyte van die wanfunksionele en grypsugtige regerende party, dit met Suid-Afrika goed gaan en dit nog beter sal gaan.
Daar is ’n hede om te geniet en ’n toekoms om na uit te sien.
Maar hierdie warm patriotiese gevoel mag nie beteken dat ons ons kritiese vermoë moet verloor nie. Werklike patriotisme vereis dat ons uitwys wat verkeerd is, ons stemme verhef teen onreg, dat ons nie onvoorwaardelik glo of aanvaar wat die regering vir ons voorhou nie.
Jammer oor die sokker, maar darem het die meeste van ons vlae op ons motors gehad; selfs by die hekke van ons huise het ons trots die vlag geswaai.
En sal dit aanhou doen, want Sokker 2010 het aan die wêreld gewys dat ons die ding kan doen, dat dit ’n goeie plek is om te besoek, mee handel te dryf en sake in te doen.
– Oorspronklik verskyn in Rapport
Stuur jou kommentaar aan Harald
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.