Onder Zuma is daar erns oor korrupsie
2009-07-23 11:12
Daar is heelwat aanduidings dat die Zuma-regering ernstig is in sy stryd teen korrupsie.
Wat my die eerste keer laat regop sit het, was die afdanking van ’n amptenaar in KwaZulu-Natal se departement van gesondheid omdat sy onbekwaam is. Dit klink onmoontlik, tog is dit waar: Afgedank weens onbekwaamheid.
Sedertdien was daar nog voorbeelde, te veel om almal te noem, maar hier is ’n proesel:
* Bewerings – deur ’n koerant nogal – van wanbestuur teen die hoof van die padverkeerbestuurskorporasie word amptelik ondersoek;
* Die direkteur-generaal van korrektiewe dienste word aangetree omdat sy onnodig geld uitgee deur nie in haar ampswoning te woon nie;
* Die sekretaris van die Nasionale Raad van Provinsies is geskors weens nepotisme;
* LP’s van alle partye was woedend toe hulle uitvind hoeveel amptenare voordeel trek uit staatstenders. Al hoe meer mense eis optrede;
* Die minister van landbou trap haar amptenare uit oor die slordige dokumente wat laat aan haar gelewer word;
* Die minister van die staatsdiens sê korrupsie is een van die struikelblokke in dienslewering;
* LP’s trap toppolisiemanne uit omdat hulle die beleid oor sektor- polisiëring sedert 2005 nog nie in werking kon stel nie.
* Drastiese inkorting van besteding aan kos en reis deur amptenare;
* Daar is net te veel korrupsie, nepotisme en onbekwaamheid op plaaslike vlak. Dit belemmer dienslewering en daar gaan nou drasties ingegryp word, sê die minister van koöperatiewe regering.
Daar is nog, maar die nuwe rigting is duidelik.
Natuurlik is daar steeds talle voorbeelde van onbekwaamheid, nepotisme en korrupsie. Dienslewering is steeds jammerlik en soos gewoonlik word die armes die meeste geraak.
Tog is dit belangrik dat die nuwe wending gesien en waardeer word.
Feit is eenvoudig dat van die grootste probleme in Suid-Afrika te doen het met, wat ’n mens op sy vriendelikste, ’n gebrek aan werketiek kan noem. In plein Afrikaans beteken dit daar is te veel lui mense in die staatsdiens.
Die probleme in die onderwys en gesondheid kan grootliks daaraan toegeskryf word.
Verpleegsters verpleeg nie en onderwysers gee nie klas nie.
Daar is meer as genoeg geld beskikbaar – inderwaarheid bestee Suid-Afrika meer per kop as enige ander ontwikkelende land aan dié twee departemente, maar die belastingbetaler kry nie waarde vir sy geld nie.
Selfs die ANC gee nou toe: Onderwysers moet in die klas wees en klasgee – met ander woorde dit is nie die geval nie. Daar is eenvoudig net te veel bewyse dat swak skole die gevolg is van swak onderwysers wat nie werk toe kom nie, wat laat kom en vroeg loop of glad nie klasgee nie.
Eweneens is daar net te veel verpleegsters wat sit en tee drink en nie na hul pasiënte omsien nie, wat inderdaad nie veel vir hulle omgee nie en wat te maklik sê: “Dit val nie binne my werkbeskrywing nie.”
Meer geld en nuwe beleid gaan niks help nie. Dissipline en toewyding – dis wat nodig is.
Natuurlik is alles wat hier geskryf is veralgemenings en daar is uitsonderings. Daar is goeie onderwysers en verpleegsters wat omgee en toegewyde staatsamptenare. Dit is egter eers wanneer die uitsonderings die reël word dat die stryd gewonne sal wees.
Met ander woorde, wanneer ons met woede kennis neem van korrupsie en swak dienslewering in plaas daarvan om dit maar skouerophalend te aanvaar as die gebruik.
Mag ons dus ’n land kry waar die gebruik is dat staatsamptenare vriendelik, eerlik en bekwaam is en waar onderwysers en verpleegsters toegewyd is.
Dis nog ’n lang pad, maar dit lyk darem of ’n nuwe begin gemaak is.
Ons almal kan die tendens aanhelp deur eenvoudig nie slegte diens, korrupsie en nepotisme te aanvaar nie.
– Oorspronklik verskyn in Rapport
Stuur jou kommentaar aan Harald
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.